Clement Nciki het sonder huiwering tot die gestrande Laine se redding gekom. Foto: Verskaf
Clement Nciki het sonder huiwering tot die gestrande Laine se redding gekom. Foto: Verskaf

Maar toe ’n vrou se motor onklaar raak by die vulstasie waar hy werk, het Clement Nciki nie twee keer daaroor gedink om sy motor vir haar te leen sodat sy betyds kon wees om haar kinders by die skool te gaan haal nie. 

Laine Herman (34) het gery om haar vyfjarige dogter en vierjarige seun by die Southcity Christian College in Margate, KwaZulu-Natal, te gaan haal toe ’n waarskuwingslig in haar motor aangaan.

Sy het nie geweet wat om te doen nie en by 'n vulstasie stilgehou om hulp te vra.

Die 29-jarige Clement, een van die petroljoggies, het gesien sy is rasend van kommer oor hoe sy haar kinders by die skool gaan haal en leen toe sy motor vir haar.

“Ek is so dankbaar hy het my met sy kosbare besitting vertrou sonder dat hy geweet het wat my naam is en of ek 'n goeie bestuurder is of nie,” skryf Laine in ’n plasing op die Facebook-groep #ImStaying.

Haar inskrywing is sedertdien wyd versprei en is selfs in die buiteland gedeel.

’n Amerikaner het Clement gekontak om sy bankbesonderhede te vra om hom vir sy onbaatsugtige daad te bedank.

“Ek het nooit iets so moois verwag nie,” sê Clement oor die reaksie. “Ek kan nie eens verduidelik hoe bly ek is nie. Ek is baie dankbaar.”

Laine was op die hoofweg toe sy voel haar twee jaar oue Audi A3 verloor krag. Sy het op die motor se instrumentpaneel gesien die olievlak is laag en het toe besluit om by die naaste vulstasie stil te hou.

Drie petroljoggies, onder andere Clement, het na die motor gestap.

“Ek het een van die ouens gevra om olie en petrol in te gooi,” vertel Laine. “Ek het hom gevra om gou te maak, want ek moet my kinders gaan haal.”

Laine en haar man, Orion. Foto: Facebook/Laine Her
Laine en haar man, Orion. Foto: Facebook/Laine Herman

Laine het haar motor aangeskakel, maar toe sy probeer wegry, het sy besef die ratte werk nie.

“Ek kon nie my motor in rat sit nie. Clement het gevra waarheen ek op pad is en ek het verduidelik ek moet my kinders by die skool gaan haal.

“Hy het toe gevra of ek weet hoe om ’n handratmotor te bestuur en ek het 'ja' gesê. Hy het na sy rooi Toyota Corolla gewys en gevra of ek daardie motor kon bestuur. Ek het weer ja gesê.”

Toe sy weer sien, is die motor langs haar.

“Ek het my sak gegryp, in die motor geklim en my kinders gaan haal. Eers toe ek in die motor en halfpad daar is, het ek besef wat nou net gebeur het. Ek was verstom.”

Laine, wat vir haar man se maatskappy, Liquid Gold Africa, werk, het na die vulstasie teruggekeer nadat sy haar kinders gaan haal het. Sy het vir Clement gevra of sy hulle kon huis toe vat voor sy die motor teruggee.

“Al wat hy gesê het, is dat dit ’n veilige plek is. En dat ek die motor moet gebruik en terugkom nadat ek alles gedoen het wat ek moes doen.”

Haar man, Orion (36), is later saam met haar na die vulstasie om haar motor te gaan haal. Clement het vir hulle die nommer van ’n insleepvoertuigbestuurder gegee en hulle na ’n werktuigkundige verwys om die motor te laat regmaak.

“Hy het ons behoorlik gehelp,” sê Laine.

Die Herman-gesin het onlangs van Johannesburg na Margate verhuis en ken niemand in die omgewing nie. Daarom het Clement se vriendelike optrede hulle diep geraak.

Dit is Clement Nciki se eerste motor wat hy slegs
Dit is Clement Nciki se eerste motor wat hy net vyf maande gelede aangeskaf het. Foto: Verskaf

Al het hy sy Toyota maar vyf maande gelede gekoop en is dit die eerste motor wat hy besit, het hy nie gehuiwer om die sleutels te oorhandig nie, want hy glo dit is belangrik om ander te help.

Dit is nie die enigste keer dat hy die motor aan mense geleen het wat in nood verkeer nie.

“Nou die dag was ek op pad werk toe toe ek twee ouens langs die pad kry,” sê Clement. “Hulle het twee pap bande gehad en hulp nodig gehad.”

Hy het vir hulle sy motor geleen sodat hulle vir hulle ander bande kon gaan koop.

Dit lyk of dit in Clement se aard is om mense te help en Laine glo 'n mens kan by hom leer.

“Dit begin by jou,” sê sy. “Probeer altyd kyk waar jy iemand anders kan help. As ons almal een goeie daad per dag kan verrig, sal Suid-Afrika ’n beter plek wees.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe