Die 14-jarige Cheverné Duvenhage, wat ernstige beserings opgedoen het toe ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark sowat ’n jaar gelede ineengestort het, se uitdagings ná die trauma is nog nie verby nie.

In ’n Facebook-plasing wat geskryf is deur haar ma, Nicola, bevestig sy dat haar dogter, wat Woensdag gr. 9 aan dié hoërskool begin het, in Maart ’n groot operasie moet ondergaan om rekonstruksie aan haar maagwand te doen.

Sy moet ook ’n kosmetiese prosedure laat doen om die kwaai letsels aan haar maag te herstel.

Nicola sê die grootste uitdaging voor die dokters kan opereer, is dat Cheverné 20 kg moet afskud.

Cheverné Duvenage.
Cheverné Duvenage.
Cheverné Duvenage.
Cheverné Duvenage.

“Cheverné het gister met haar spesiale dieet begin. Sy wil ook graag probeer aktiewer raak, maar dit was tot dusver moeilik weens die beperkings van haar beserings,” sê haar pa, Elardus.

Oor die dieet wat Cheverné volg, skryf Nicola hulle doen dit saam, maar dis nie maklik “om vir ’n tiener nee te sê vir chocolates en roomys nie”.

“Maar ons is so positief en kan nie wag vir die uitkoms nie . . . Sy’s natuurlik vrek bang vir die operasie en vra dat julle saam met ons vir haar bid.”

Vier leerders is dood en meer as 20 beseer toe die loopbrug op Vrydag 1 Februarie by Driehoek ineengestort is. Cheverné was een van die leerders wat die ergste beseer is.

Die land is geruk nadat vier kinders dood en meer
Die land is geruk nadat vier kinders dood en meer as 20 ernstig beseer is nadat ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek meegegee het. Foto: Onkgopotsi Koloti
Rouklaers betoon hul medelye by die hek van die Ho
Rouklaers betoon hul medelye by die hek van die Hoërskool Driehoek nadat dié skool deur ’n ongeluk geruk is.

Cheverné het ná die tragedie altesaam 53 dae in die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton deurgebring waar sy sewe operasies aan onder meer haar bekken, heupe en maagwand ondergaan het voor sy nóg ’n maand na ’n rehabilitasiehospitaal in Aucklandpark, Johannesburg, oorgeplaas is.

Sy moes van vooraf weer leer loop.

Nicola se ma het in die Facebook-plasing gesê as mense haar vandag vra hoe het sy deur alles gekom, gee sy altyd dieselfde antwoord: “Ek weet nie. Net deur God se genade.”

Sy skryf voorts: “Die pyn wat die ouers ervaar wie se kinders dood is, is die ergste ooit en my hart gaan na hulle toe uit. Ons seer is nie naastenby soos hulle s’n nie. As ek na die van ons gesin s’n kyk, kan ek nie anders as om dankbaar te wees dat ons is waar ons is.

“Kyk, dit was ’n baie swaar jaar en emosioneel seker die ergste wat dit al ooit was. Ons was nou Desember na Sodwana toe en Cheverné het so in daai see geswem, dat ons saans pynpille moes uitruk sodat sy net kon slaap, maar wanneer ons stil raak, het sy elke aand gesê: ‘Sjoe, dit was lekker en alles bly die moeite werd.

“Dan word sy wakker en sê sy gaan nie weer swem nie. Maar as ons weer sien, baljaar sy in die see soos ’n regte klein meisiekind. Sy’t vanjaar ’n gesegde aangeleer wat sy baie vir ons sê: ‘You only die once, but live everyday, en sy laat ons vinnig dit weer in die huis besef.”

Nicola vertel dan voorts op mense se vraag hoe dit met haar dogter gaan:

“Ek wens ek kon sê. Want elke dag verskil van die vorige dag. Ons grootste uitdaging is haar emosionele kant. Want nes baie kinders vra sy maar: ‘Hoekom het dit met my gebeur, wat was die doel daarmee, hoekom juis ek?

“En dan natuurlik wanneer sy nie iets mag doen weens haar beserings is dit nag in die huis want: Sy’t mos nie daarvoor gevra nie?’

Cheverné Duvenage en haar pa, Elardus. Foto: Faceb
Cheverné Duvenage en haar pa, Elardus. Foto: Facebook

Elardus het beaam wat Nicola daar sê en vertel ook vir hom as pa is dit moeilik.

Al is Elardus en Nicola jare gelede van mekaar geskei, het hulle saamgestaan om hul dogter deur die trauma te help.

“Dis alles waar wat Nicola daar sê. Cheverné het baie gehad om te verwerk en wanneer sy dié hoërgraadvrae het, kan ons nie altyd die antwoorde gee nie, want sal ’n mens ooit die antwoorde kry?”

Elardus beaam dat Cheverné ’n sterk kind is.

“Cheverné is baie sterk en eiewillig. Dit kry haar natuurlik in haar alledaagse, normale lewe baie in die moeilikheid! Maar dit is ook haar sterk wil wat haar hierdeur gekry het.”