Jonathan was 'n sprankeloogseuntjie toe hy gebore is.

Maar op ses maande het sy probleme begin nadat ’n Jack Russell-hondjie op sy oog getrap het. Ná die voorval het 'n groeisel onder sy regterooglid begin groei.

Lee Anne vertel in die begin het dit hulle nie eintlik gepla nie, want die groeisel het mettertyd weggegaan.

Hoewel Jonathan jare lank geen probleme met sy oë ervaar het nie, het dinge verlede jaar verander. Ná ’n voorval waarin boelies Jonathan met ’n tas in die gesig geslaan het, het die groeisel weer verskyn.

“Jonathan se ogie het begin traan en die groeisel het elke dag duideliker geword. Dié keer was dit twee keer groter as die eerste keer,” sê Lee Anne.

jonathan cocklin van secunda
Weens die drukking op sy oog het hy onder meer gesukkel om te konsentreer. Foto: Verskaf

Jonathan was baie selfbewus oor die groeisel wat duidelik sigbaar was. Sy oog was geswel en die groeisel het by die ooglid uitgehang. Hy was bang hy sou weer die boelies se teiken word.

“Ons was bang die kinders gaan hom weer spot. Kinders kan soms maar wreed wees,” sê Lee Anne. 

Hoewel Jonathan nie verder geboelie is nie, het Lee Anne besluit om Jonathan eerder aan die begin van hierdie jaar in ’n ander skool te sit. Tog was dit nie maklik vir Jonathan om skool te gaan nie. Weens die drukking op sy oog het Jonathan dubbelvisie gehad, gedurig hoofpyne gekry en kon hy nie lank konsentreer nie. 

Jonathan en sy ma Lee Anne. Foto: Verskaf
Jonathan en sy ma, Lee Anne. Foto: Verskaf

Hy het ’n maand gelede ’n oogoperasie in die Centurion-ooghospitaal ondergaan.

“Dr. George Potgieter het vir ons die operasie gratis gedoen. Ons moes net die teaterkoste en reiskoste na Pretoria dek,” vertel die enkelma. 

Dit was vandag Jonathan se eerste dag terug by die skool sedert sy operasie. 

“Hy is baie gelukkig, kry nie meer hoofpyne nie en die dubbelvisie is weg,” sê sy ma verlig.

jonathan na die operasie
'n Dag ná die operasie. Foto: Verskaf

Lee Anne is baie dankbaar teenoor ’n groep barmhartige Samaritane van Secunda wat gehelp het om die operasie moontlik te maak. 

“Daar is regtig nie woorde om my dankbaarheid te beskryf nie. As jy in so ’n situasie is weet jy nie regtig waar hulp vandaan gaan kom nie, maar ’n klomp mense het bymekaargekom om te help,” sê sy. 

jonathan en sy ma
Lee Anne is bly dat haar seun eindelik kon hulp kry. Foto: Verskaf

Lee Anne is ook baie bly dat dit nou beter gaan met haar seun. 

“Dis ’n groot verligting. Die Here het goeie mense oor ons pad gestuur,” sê sy.