Debbie Coetzee (46), die ma wat ernstige kopbeserings opgedoen het in 'n motorongeluk die dag van die Driehoek-tragedie in Vanderbijlpark, en haar verloofde van die afgelope drie jaar gaan nou eindelik afhaak.

Een van Debbie se dogters, Chalene Coetzee, by haar ma wat Sondag uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Facebook
Een van Debbie se dogters, Chalene Coetzee, by haar ma wat Sondag uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Facebook
Kruger Crause en Debbie Coetzee. Foto: Facebook
Kruger Crause en Debbie Coetzee. Foto: Facebook

Kruger Crause (46), haar verloofde, vertel al moes hulle hul planne om aan die einde van Februarie te trou weens die ongeluk op 1 Februarie uitstel, gaan hulle nou einde Maart hul droom bewaarheid.

Dit kom nadat weldoeners besluit het om hul spesiale dag vir hulle te reël.

“Kan jy dit glo? Dis so awesome! Ek is uit my vel. Dis crazy. Debbie is so baie, baie happy. Sy kan nie ophou glimlag nie,” vertel Kruger oor die nuus.

Kruger en Debbie wou graag 'n intieme troue daar naby op hul werkgewers se plaas hou. Maar toe gebeur die ongeluk en moes hulle halt roep. Die paartjie werk albei vir Herza-afslaers.

Debbie was die oggend op pad om haar dogter, Rizaan (14), en sy seun, Johan (15), albei in gr. 8 aan die Hoërskool Driehoek, te gaan haal, toe die ongeluk by ’n kruising by die Vaal Mall gebeur.

’n Ander motor het na bewering voor haar ingery toe hy wou draai. Debbie is sowat 30 m uit die motor geslinger en het ’n ernstige kopbesering opgedoen. Sy was 18 dae in die hospitaal.

Die ongelukstoneel nadat Debbie Coetzee se wit For
Die ongelukstoneel nadat Debbie Coetzee se wit Ford Eco Sport drie keer gerol het.

Lindie van Niekerk, wat saam met haar dogter, Jeanne Jacobs, die gesinsrestaurant Mimi se Plaaskombuis buite Vanderbijlpark op ’n plaas langs die Vaalrivier bedryf, het die dag van die ongeluk gehoor en was diep geraak toe sy Debbie se storie in Huisgenoot van 7 Maart lees.

“Ek was juis op pad plaas toe, toe ek Huisgenoot lees. Ek het net dadelik gevoel ek wil hulle help. Toe ek lees hulle moes die troue uitstel weens ‘omstandighede’, het ek geweet finansies speel ook ’n rol.

“Ek het Kruger Dinsdagaand gebel,” vertel sy.

“Hy was emosioneel toe ek hom vertel. Hy het die nuus aan Debbie oorgedra en gesê sy glimlag net. Ek voel net as 'n mens iets goeds vir iemand kan doen, hoekom nie?”

Mimi se Plaaskombuis is aan die oewer van die Vaalrivier buite VanderbijLpark geleë.
Mimi se Plaaskombuis is aan die oewer van die Vaalrivier buite VanderbijLpark geleë.

Kruger het tydens Huisgenoot se onderhoud vertel hulle het 'n intieme troue beplan en Lindie vertel hulle het plek vir 35 gaste, wat presies is wat Kruger-hulle in gedagte gehad het.

Sy vertel Jeanne het na verskaffers uitgereik om te hoor of hulle sal help met borgskappe – en ook hulle het dadelik ingestem om Kruger en Debbie se dag spesiaal te maak.

“Ons het nou al ’n fotograaf, blomme, dekor en ’n rok. Ons het selfs 'n plek gekry hier naby waar hulle hul huweliksnag kan deurbring."

Debbie Coetzee en haar gesin het ’n dubbele tragedie beleef toe sy op Vrydag 1 Februarie op pad na haar dogter se skool, die Hoërskool Driehoek, in ’n motorongeluk betrokke was. Foto: Onkgopotsi Koloti

Huisgenoot het Debbie besoek ’n week nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Sy het toe vertel sy sukkel nog met haar balans en voel duiselig.

Sy het ook nog pyn verduur omdat haar liggaam oral gekneus was. Kruger vertel dit gaan nou daagliks beter en sy begin Maandag weer werk.

“Debbie vaar baie goed. Sy was Dinsdag by die dokter en sy het vir hom gesê sy wil haar medikasie verminder en weer begin werk. Hy was regtig verbaas met haar vordering.

“Hy het gemeen dit neem gewoonlik tot vier maande vir mense met die aard van haar besering om te kom waar sy reeds is. Maar Debbie is positief. Sy wil regkom.”