Drievoudige negatiewe infiltrerende mammakarsinoom – ’n aggressiewe vorm van borskanker – is in Oktober by haar gediagnoseer en ses moeilike maande het tot ’n welkome einde gekom vir Margareth French nadat haar chemoterapie twee weke gelede (2 April) suksesvol voltooi is.

Met slegs die verwydering van haar gewas wat voorlê, was die ma van twee verheug toe sy die hospitaal in Huntington Beach, Kalifornië verlaat, en haar emosies het nuwe hoogtes bereik toe sy haar dogters, Angela en Jamie, langs die pad sien staan.

’n Plakkaat met die woorde “No Mo’ Chemo” het vir Margaret begroet en ’n ander familielid het vir haar ’n kamera gegee en gesê sy moet die verrassings wat wag opneem.

Haar aanvanklike angstige laggie verander gou in trane van vreugde soos vriende, familie, kollegas en bure almal voor haar verskyn met plakkate en toejuigings tydens haar reis huis toe.

Foto: Magazine Features.

Margaret klim uit die motor, vee die trane weg en bedank die groep vir hul volgehoue ondersteuning die afgelope 140 dae terwyl die U2-liedjie Beautiful Day in die agtergrond speel.

Een helfte van die komitee wat hierdie hartroerende verrassing gereël het, Jamie (35), het gesê: “Dit was ’n moeilike pad, maar sy het volgehou met inspirerende krag.

“Ek en Angela wou hierdie groot mylpaal vier omdat daar soveel oomblikke was toe die ‘eindstreep’ baie ver weg gevoel het.

“Ons het begin uitreik na familie en vriende en elke liewe persoon wat ons gekontak het, was gretig om betrokke te wees.

“My ma doen altyd soveel om mense spesiaal te laat voel.”

Foto: Magazine Features.

“Sy het soveel lewens aangeraak en ons wou iets onvergeetliks vir haar skep.

“Bykans almal het ’n lang middagete of ’n afdag gevat om by haar te wees – party mense het selfs ure gery om daar te wees.

“My ma is ’n ongelooflike vrou, daar is werklik niemand wat dit meer verdien nie.”

Foto: Magazine Features.

“Haar gewas word in April verwyder, en dit sal deur sewe weke van bestraling gevolg word.

“Sy is in so ’n goeie bui en haar mediese span is baie tevrede met haar vordering.”