’n Vrolike kleuter met drie boksterte wag by die voordeur. Grootoog loer sy na die gaste en huppel dan na binne. In die netjiese woonvertrek sit haar ma met nog ’n bondeltjie in haar arms, die baba diep in droomland.

Terwyl boetie slaap, trippel sussie in die huis rond, al agter oupa aan en doenig met gewone dogtertjiedinge.

Ons is hier by die huis waar Zephany Nurse bly – die Kaapse vrou wat op hoërskool uitgevind het die ouerpaar wat haar grootgemaak het, is nie haar regte ouers nie en dat sy destyds kort ná haar geboorte uit ’n hospitaal uit haar biologiese ouers se sorg ontvoer is.

Zephany wil nie nou indiepte-onderhoude toestaan nie, maar het ingestem dat ons foto’s aan huis kom neem: Sy het onlangs die tweede keer ma geword en is nou die trotse ma van ’n dogtertjie en seuntjie.

Haar dogtertjie is in Februarie verlede jaar gebore en haar seuntjie op 29 September vanjaar.

Sy en haar spruite bly by haar grootmaakpa* nadat haar grootmaakma* in 2016 skuldig bevind is aan haar ontvoering en vir 10 jaar tronk toe gestuur is.

Sy lyk vandag gemaklik in ’n grys broek en pienk trui en kyk kort-kort liefdevol na die baba in haar arms. Sy lig die klein blou mussie van sy kop af en vryf liggies oor die gladde swart hare teen sy kop. Haar dogtertjie het meer hare gehad toe dié gebore is, merk sy verwonderd op.

Zephany was die afgelope week met haar nuweling by die dokter omdat sy nog sukkel met borsvoeding, maar dit gaan verder goed, vertel sy. Terwyl ons foto’s neem, kom haar dogtertjie met uitgestrekte arms aangestap en deel ’n drukkie uit.

Zephany hou haar seuntjie se klein handjies vas. Sy sê hy is ’n rustiger baba as sy sussie wat verlede jaar gebore is. Foto: Misha Jordaan

Dis nie lank nie, dan hardloop sy weer na haar oupa toe. “Hulle het net oë vir mekaar,” sê Zephany liefdevol. Haar grootmaakpa sny vir sy kleindogter ’n appel in stukkies en tel haar dan op die heup.

“Kom gee ’n bietjie liefde vir jou boetie,” moedig Zephany haar aan. Oupa sit sy kleinkind neer en die kleuter kom loer nuuskierig na haar bababoetie.

Boetie word wakker en frommel sy gesiggie op. Soos ’n regte raakvatterma raak Zephany doenig met haar kleinding en sommer gou val sy ogies weer toe.

In dié huis weet sy en haar grootmaakpa net hoe om die kleingoed veilig en geborge te laat voel.

Die verhaal van Zephany Nurse het in 2015 wêreldwyd nuusopskrifte gehaal toe die aangrypende storie van haar skeiding en hereniging met haar biologiese ouers, Morné en Celeste Nurse, aan die lig kom.

Celeste (nou 39) het op 28 April 1997 die lewe geskenk aan haar en Morné (nou 41) se eersteling. Hulle het hul dogtertjie Zephany genoem. Twee dae later het Celeste tot haar skok ontdek haar baba wat in die wiegie langs haar hospitaalbed geslaap het, is weg.

Die baba is ontvoer terwyl sy lê en slaap het. Celeste het paniekbevange in die hospitaal se gange rondgehardloop op soek na haar baba, maar dit was vergeefs. 

In die jare daarna het Celeste en Morné elke jaar hul oudste dogter se verjaardag gevier en nooit opgehou om na haar te soek nie. Dit was eers toe hul naasoudste dogter hoërskool toe gaan dat die Nurse-familie se soektog tot ’n einde gekom het.

Leerders in die skool kon nie ophou om haar te vertel hoe baie sy na ’n matriekmeisie in die skool lyk nie. Sy het haar pa daarvan vertel en hy het die hulp van die Valke ingeroep, waarna Zephany se ware identiteit drie jaar gelede deur middel van bloedtoetse bepaal is. Sy was toe net 17.

Die vrou wat haar grootgemaak het (nou 54), is in 2016 ná ’n maande lange hofsaak aan ontvoering skuldig bevind en dien tans 10 jaar tronkstraf uit. Sy hou vol sy het Zephany nie ontvoer nie en dat die baba deur iemand anders aan haar gegee is om groot te maak.

Maar ondanks die traumatiese gebeure, vertel Zephany haar verhouding met haar grootmaakma het intussen net hegter geword.

“Ek het vir haar gesê ek vergewe haar, maar ek sal dit regtig waardeer om net te weet wat daardie dag gebeur het. Of sy dit gedoen het of nie, dit maak nie meer saak nie. Sy het gesê sy sal my eendag vertel.”

Hoewel Zephany nie ’n volledige onderhoud wil toestaan nie, stem sy in om ’n paar vrae in ’n WhatsApp-gesprek met Huisgenoot te beantwoord.

Haar grootmaakpa (nou 50) was met die geboorte van albei Zephany se kinders by haar in die hospitaal.

“My seun is in die Mowbray-kraamhospitaal gebore en het 3,1 kg geweeg. Dit was ’n baie moeilike proses en het amper 24 uur lank geduur,” vertel Zephany op WhatsApp.

Sy voeg by sy wou nie hê haar seuntjie se pa “moet my in so ’n toestand sien nie” en het haar grootmaakpa daarom gevra om haar by te staan.

Zephany beskou die man wat haar grootgemaak het as haar pa. Hy en haar dog­tertjie het ’n besonders hegte band. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek het gemakliker gevoel met hom in die nabyheid. Ek sê altyd vir mense my pa is my held. Ons het ’n ongelooflike band wat net aanhou groei. Ek sien watter soort pa hy vir my en (my dogtertjie) is en die tipe man wat hy vir my ma is. Hy is goed en nederig teenoor ander mense en ek wil beslis hê my seun moet daardie karaktereienskappe ontwikkel.”

Haar seuntjie se pa is ook baie betrokke in sy lewe, vertel Zephany.

Die koms van haar eie kinders het vir haar begrip gebring oor die pyn wat Celeste moes deurgaan toe sy haar as baba verloor het.

Sy verstaan dit moes vir haar biologiese ma “so moeilik gewees het” toe haar sibbes, twee susters en ’n broer, later gebore is. Die besonderhede van haar agtergrond het gemaak dat Zephany baie beskermend is teenoor haar eie kinders.

“Ek is so versigtig met hulle; my pa ook. Mense dink seker ek is oorbeskermend, maar ná wat met my gebeur het, is dit asof jou verstand vir jou sê enigiets is moontlik.”

Sy vertel haar dogtertjie is liefdevol en “ek moet haar altyd leer om nie sommer net na enigiemand toe te gaan wat sy nie ken nie, veral omdat sy so vriendelik is”. Haar verhouding met haar biologiese ouers bly ingewikkeld.

“ ’n Mens kan net soveel doen om dit te probeer beter maak. Ek is jammer, maar die lewe gaan aan. Almal weet dit tog.”

Celeste het nog nie haar kleinseun gesien nie en Zephany het hom ook nog nie in die gevangenis vir haar grootmaakma gaan wys nie; sy wil wag tot hy eers ’n bietjie ouer is. Haar grootmaakma het haar wel gebel toe sy in kraam was, sê Zephany.

Al hou haar babaseuntjie haar besig, doen sy moeite om ook na haar dogtertjie se behoeftes om te sien.

“Sodra al my take met hom afgehandel is, gaan sit ek by haar en bring tyd saam met haar deur. Sy loer elke oggend by sy sy wiegie in om te kyk of hy daar is.”

“Sy is nog te jonk om heeltemal te verstaan wat aangaan, maar sy speel met hom. Ek probeer haar heeltyd leer om rustig met hom te wees, want sy kan rof speel. Maar sy gee hom drukkies en vryf sy handjies,” vertel die jong ma trots.

Haar woorde op WhatsApp is dié van enige ander trotse ma: “Dit voel anders om ’n seuntjie vas te hou, maar die liefde wat ’n mens voel, is dieselfde.”

Zephany se grootste hoop vir haar twee spruite is dat hulle haar grootmaakma as hul ouma sal aanvaar en niemand sal oordeel wat betrokke was by die intriges van haar ingewikkelde lewensverhaal nie. 

Dis asof die koms van haar seuntjie haar nuwe selfvertroue gee. Maar al kom sy sterk en in beheer voor, erken sy die vrees dat iets met haar kinders kan gebeur, verlaat haar nooit.

“Ek probeer positief bly en bid baie daaroor, want ek wil nie hê die vrees moet my besit of hulle hul vryheid ontneem nie.” Sy werk by ’n staatsdepartement en sal terugkeer werk toe wanneer haar kraamverlof verby is.

“Dit sal oukei wees, want ek het dit mos reeds gedoen.”

Zephany sê sy weet dit is belangrik om as ouer haar humorsin en lewenslus te behou.

“Net omdat jy ’n ma is, beteken dit nie jy moet jou selfbeeld verwaarloos en jou eie verwagtings afskeep nie. Jou lewe is nie verby nie. Dit word effens vertraag, maar dit is nie verby nie.”

En die lesse wat sy haar kinders wil leer?

“Om nie hulself jammer te kry en ander te blameer wanneer hul planne nie uitwerk nie. Of wanneer hulle in ’n moeilike situasie is, moet hulle verantwoordelikheid aanvaar vir hul foute en die beste daaruit haal. Ek hoop hulle sal na sukses strewe en gelukkig wees, maak nie saak watter emosionele worsteling hulle deurgaan nie.”

* Die naam wat Zephany se grootmaakouers aan haar gegee het en wat sy steeds gebruik, asook die name van haar grootmaakouers en kinders, mag kragtens ’n hofbevel nie bekendgemaak word nie.