Pogings is Maandag hervat en nog vier seuns is uit die Tham Luang-grot in Thailand gered nadat die swakste vier van die 12 vasgekeerde seuns Sondag uitgebring is, berig die BBC.

Die jong sokkerspelers, almal tussen die ouderdomme van 11 en 16, is reeds langer as twee weke in die grot vasgekeer nadat hulle dit op ’n uitstappie besoek het. Stygende vloedwaters het hulle egter gedwing om in die heel verste deel van die grot te gaan skuil.  

Hulle word nou vier op ’n slag uit die grot gebring. Elke seun word deur twee duikers vergesel. Dit duur 11 uur om elke groep seuns uit die oorstroomde grot, van amper 10 km diep, te red, berig The Guardian

Een duiker swem voor en dra die seun se suurstoftenk terwyl ’n tou wat aan die grot se dak vas is, help om die groep deur die troebel water te lei.  

Familie was verheug toe die eerste persoonlike kontak met die seuns, in die vorm van ’n klompie briewe, Maandagmiddag by hulle uitkom. 

Die briewe is oorhandig deur Thailand se spesiale magte, wat tot dusver die reddingspoging lei en gereeld foto’s en video’s van die reddingspoging op hul Facebook-blad deel. 

Een van die seuns se briewe aan hul familie. Foto: Facebook/ThaiSEAL
Een van die seuns se briewe aan hul familie. Foto: Facebook/ThaiSEAL

’n Gesamentlike brief vanaf al die seuns het uit net vier versoeke bestaan, berig CNN, naamlik: 

  • Moenie bekommerd wees nie, ons is almal gesond.
  • Ons wil regtig graag hier uitkom en daarna soveel moontlik soorte kos eet. 
  • Wanneer ons uitkom, wil ons graag dadelik huis toe gaan. 
  • Ons onderwysers moet ons asseblief nie baie huiswerk gee nie. 
Twee ambulanse vervoer die sesde en sewende van die agt seuns wat tot dusver gered is na ’n hospitaal in die Chiang Rai-provinsie van Thailand. Foto: Getty Images
Plaaslike inwoners wag in spanning buite die grot soos die reddingspoging ontvou. Foto: Getty Images
Die gestrande sokkerspan. Foto: Facebook/ThaiSEAL grot

Die laaste vier seuns en hul 25-jarige hulpafrigter, Ekaphol Chantawong, sal na verwagting Dinsdag na veiligheid gebring word. 

Bronne: BBCCNNThe GuardianThai Navy Seals