Toe ondersoekers van die Amerikaanse speurdiens (FBI) 'n klopjag uitvoer op die laboratorium in Phoenix, Arizona, was dit asof hulle op die stel van 'n gruwelfliek instap.

Hulle is deur emmers vol arms en bene, manlike geslagsdele en selfs af­gesaagde koppe begroet.

Die vonds was so ontstellend en grotesk dat FBI-base besluit het dit sal beter wees om dit liewer stil te hou; daarom het die ontdekking vyf jaar lank ’n dig ­bewaarde geheim gebly.

Maar met dié dat 33 gesinne hulle tot die hof wend om geregtigheid vir hul oorlede geliefdes te probeer kry, word die grusame besonderhede nou onthul.

Hulle was destyds hartseer toe hul familielede gesterf het, maar het vertroosting daarin gevind dat die liggame aan 'n navorsingsentrum geskenk sou word en dat die navorsing hopelik ’n waardevolle bydrae tot die mediese weten­skap sou lewer.

Maar waarvan die oorledenes se naastes nie bewus was nie, was dat die plek waaraan hulle die lyke geskenk het, die Biological Resource Center (BRC), eintlik ’n afgryslike “slaghuis” was. 

familie,tragies,moord
Stephen Gore, die stigter en voormalige eienaar van die BRC, by sy gesin. Tientalle gesinne dagvaar hom oor die manier waarop die BRC met hul naastes se liggame te werk gegaan het.

Die BRC het inderwaarheid lyke met kettingsae opgesny en uit die gesinne se verlies munt geslaan deur dié liggaamsdele dan te verkoop.

In die hof het Mark Cwynar, ’n voor­malige agent in die FBI, onlangs die skrikwekkende toneel beskryf waarop hy in 2014 in 'n klopjag op die laboratorium afgekom het.

Emmers bevrore liggaamsdele was in die gebou op mekaar gestapel. 

Geen ledemaat was be­hoor­lik gemerk om te identifiseer van watter skenker dit gekom het nie.

Dit was natuurlik als onwettig, maar selfs erger was die onwaardige en onetiese manier waarop die sentrum die lyke hanteer het. 

Beamptes het afgekom op die kop van ’n vrou wat aan die bolyf van 'n man vasgewerk is, blykbaar as ’n soort morbiede grap onder die werk­nemers in die laboratorium.

“Dis ’n gruwelverhaal,” sê Troy Harp, een van die klaers in die hofsaak teen die fasiliteit.

Troy het in 2012 en ’13 die liggame van sy ma en ouma aan die sentrum geskenk. Hy het geglo die BRC was ’n lyk­skenkings- en weefselbankinstelling en dat die lyke vir wetenskaplike doeleindes ingespan sou word.

Hy was onder die indruk selle word van die lyke geoes om in kanker­navorsing te gebruik. 

Maar hy twyfel nou of dit ooit gebeur het. Troy bevraagteken selfs of die houer­tjie met sy ma se as wat kort ná die klopjag na hom gekoerier is regtig haar oor­skot is. 

Met so baie onbeantwoorde vrae wonder hy hoe hy ooit afsluiting sal kry.

“Dit voel nie of ek ooit sal nie,” sê hy.

moorde,tragedie
In 2013 is ’n klopjag uitgevoer, maar die vonds was so grotesk dat dit geheim gehou is.

Die FBI het snuf in die neus gekry oor die BRC-laboratorium ná ’n 2013-klopjag op die pakhuis van een van hul kliënte. Dié kliënt, Arthur Rathburn, is daarvan beskuldig dat hy gesondheidsnavorsers in gevaar stel omdat hy hulle voorsien van lyke wat MIV-positief is of hepatitis het.

Terwyl hulle sy bedrywighede onder­soek het, het FBI-agente leidrade op­gevolg wat na die BRC gelei het. Met die klopjag op die laboratorium het die ondersoekers glo 10 t bevrore menslike oorskot herwin. 

Na raming is sowat 5 000 lyke aan dié instelling geskenk. Die nuusorganisasie Reuters het ’n gedetailleerde ontleding van BRC se register gedoen en beklemtoon op watter berekende en geldgierige manier die onderneming bedryf is. 

Die lewer van ’n skoolopsigter is byvoorbeeld vir $607 (toe R6 400) aan 'n mediesetoestelonderneming verkoop. 'n Afgetrede bankbestuurder se bolyf is vir $3 191 (R34 000) aan ’n Switserse navorsingsinstituut verkwansel.

Die toneel van die tragedie.
Die toneel van die tragedie.

Twee slagare wat van ’n predikant se lyk geoes is, is vir $65 (R685) aan 'n gesondheidsorg­instelling in Amerika verkoop.

'n Produk­ontwikkelingsmaatskappy in Minnesota het die onderbene van ’n ­aktivis vir $700 (R7 300) bekom.

Heel lyke is vir sowat $6 000 (R63 300) van die hand gesit. Dit het ook aan die lig gekom dat baie lyke aan die weermag verkoop is om as toetspoppe in plofstof­eksperimente te dien.

Dit was beslis nie wat die familie van die oorledenes in gedagte gehad het toe hulle die lyke van hul geliefdes vir navorsingsdoeleindes geskenk het nie. 

Die stigter en voormalige eienaar van die onderneming, Stephen Gore, het ’n jaar tronkstraf, opgeskort vir vier jaar, gekry nadat hy verlede jaar beken het hy is skuldig aan bedrog. 

‘Die BRC het lyke met kettingsae op­gesny en uit die gesinne se verlies munt geslaan deur dié liggaamsdele dan te verkoop’

Die liggaams­handelaar Arthur Rathburn is ook verlede jaar tot nege jaar agter tralies gevonnis weens bedrog en die vervoer van gevaarlike materiale.

Maar vir baie van die mense wat deur die sentrum bedrieg is, beteken dié straf weinig meer as ’n raps oor die vingers.

Tientalle gesinne het dus nou saam­gespan om Gore te dagvaar. In die dokumente wat hulle aanvanklik ­onderteken het, is hulle belowe Gore se instelling sou die liggame “met waardigheid en re­spek” hanteer, maar dit was ­beslis nie die geval nie. 

Een slagoffer, Tracy Smolka, vertel sy sukkel steeds om te verwerk dat haar pa se kop in Rathburn se pakhuis gekry is. Hy het die liggaamsdeel glo vir $500 (R5 200) by die BRC gekoop.

Dit blyk in hul soeke om lyke te bekom het die instelling dikwels jag gemaak op families wat finansieel swaarkry. 

Die afgetrede fabriekswerker Conrad Patrick se lyk het byvoorbeeld by die BRC beland, want sy familie kon nie 'n begrafnis bekostig nie. In ruil het die instelling beloof om ’n deel van sy lyk gratis te veras en dit aan sy geliefdes terug te besorg. 

Maar die BRC-werknemer Sam Kazemi het Conrad se lyk toe in sewe stukke help opsny en verpak.

Sy linkervoet is na 'n ortopediese laboratorium in Chicago gestuur, sy linkerskouer na 'n maatskappy in Las Vegas, sy kop en ruggraat na ’n projek van die Amerikaanse weermag, en sy voortplantingsorgane na ’n plaaslike universiteit. 

Die BRC het sy regtervoet en linkerknie in 'n vrieskas gehou om dit ­later onwettig te verkoop.

Jim Stauffer het die lyk van sy ma geskenk vir alz­heimernavorsing.

Hy was erg ontsteld toe hy uitvind haar lyk is in die werklikheid aan die Amerikaanse departement van verdediging verkoop om die skade wat bomme aanrig te bepaal. 

Dit is nie ongewoon om oorskot vir opleidingsdoeleindes te skenk nie, maar die wet vereis dat die familie dit moet goedkeur, sê Michael Burg, een van die prokureurs wat die klaers verteenwoordig.

Maar baie van die oorledenes se naastes voel nou van voor af getraumatiseer oor die dood en lot van hul geliefdes.

Gwendolyn Aloia het net die dood van haar man, Louis, begin verwerk nadat sy sy liggaam in 2013 geskenk het toe sy met 'n skok uitvind hoe die BRC uit sy dood geld gemaak het.

“Ek was verslae,” sê sy. “Ek is geskend; hy is geskend.”

Dit blyk van sy liggaamsdele is waar­skynlik aan ’n maatskappy in Illinois verkoop wat dit later aan 'n onderneming in Michigan verkoop het. Wat het met die res van sy liggaam gebeur? Dis wat Gwendolyn nou wil weet. 

“Wie weet, dit kon my man se lyk gewees het waaraan hulle iemand ­anders se kop geheg het,” sê sy. “Dis verfoeilik dat mense so iets kan doen.” 

Bronne: independent.co.uk, reuters.com, time.com, chicagotribune.com, kmov4.com
Foto's: abc,kpho-tv,facebook
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.