Die tienerseun se klere het skynbaar aan die handr
Die tienerseun se klere het skynbaar aan die handreling van ’n winkelsentrum se roltrap gehaak. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Dit was veronderstel om net ’n gewone rit op 'n roltrap te wees, maar die dag toe die 12-jarige saam met sy ma gaan inkopies doen, sal hy waarskynlik nooit vergeet nie . . .

Om die waarheid te sê, as die voorval – wat in ’n winkelsentrum in die stad Tver in Rusland, afgespeel het  nie op kringtelevisie vasgelê is nie, sou niemand sekerlik geglo het dat hy net ’n gebreekte been van 'n twee verdieping val oorgehou het nie.

Die tiener, wie se identiteit nie bekendgemaak is nie, het glo vir die pret op die reling aan die bokant van die roltrap geklim om daarmee af na die supermark te ry.

In die videomateriaal sien ’n mens hoe haak sy baadjie dan aan die meganisme vas en skielik word hy saam met die roltrap gesleep.

Die roltrap trek die seun saam terwyl hy vergeefs aan ’n ander vaste staalreling probeer vasklou, maar die roltrap se beweging maak dat hy oor die bewegende reling getrek word.

Vir 'n angswekkende oomblik hang hy aan die reling voordat hy dit noodgedwonge moet laat gaan en hy meer as 12 meter na onder val.

Hy ontkom egter die dood wanneer hy op 'n vrugte- en groenterak te lande kom . . .

Ooggetuies vertel die seun se bloedstollende gille kon oor die winkelsentrum heen gehoor word. Hulle moes die toneel ontruim toe die nooddienste ontbied word.

“Hy het geskree van pyn, terwyl hulle hom op die draagbaar gelaai het,” vertel een. “Sy ma moes so geskok gewees het.”

Die brandweer is glo ontbied om hom van die rakke tot op die draagbaar te kry. Van daar is hy na ’n plaaslike hospitaal gebring.

Volgens ooggetuies is die betrokke area van die in
Volgens ooggetuies is die betrokke area van die inkopiesentrum ontruim terwyl nooddienste opgedaag en die tiener behandel het. Foto: Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Die tiener is gelukkig nou buite gevaar en moet net van sy gebreekte been herstel.

Ekstra bron: Metro.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe