Die oorskot is uit ’n verlate huis in Mackenzie Park in die Oos-Rand verwyder nadat een van die bure die polisie van onaktiwiteit in die huis in kennis gestel het. Die oorskot was vermoedelik meer as twee jaar lank daar. 

Volgens Manogari Moonsammy, van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het hulle op Woensdag 3 Julie ’n dringende kennisgewing op WhatsApp ontvang nadat die skokkende ontdekking gedoen is. 

Die boodskap het gelui inwoners moenie die straat gebruik nie.

’n Kordon is om die huis opgerig terwyl die polisie die oorskot verwyder het. Die Benoni-polisie het aan Huisgenoot bevestig die identiteit van die liggaam is steeds onbekend. 

Nomsa Sekele, ’n woordvoerder van die Benoni SAPD, sê die ondersoek duur voort. 

“Dis nog vroeg, maar ons het ’n doodsondersoek geopen en wag vir ’n forensiese verslag, en dit kan tot ses weke neem,” sê Nomsa.

Die ongeïdentifiseerde buurvrou het aan die Benoni City Times gesê sy het die inwoner van die huis meer as twee jaar laas gesien en dit het haar agterdogtig gemaak. Nog een van die bure, wat nie geïdentifiseer is nie, het aan die plaaslike koerant gesê die inwoner van die huis was ’n tradisionele geneser. 

“Die persoon was baie bekend; daarom het ons almal agterdogtig geraak toe ons dié nie meer gesien het nie,” het die persoon gesê. Weens die voortgaande ondersoek is daar nog geen bevestiging dat die oorskot dié van die inwoner van die huis is nie.