Haar jongste rol as die woedende, snaakse, vuilmond Mildred Hayes maak haar ’n sterk mededinger om ’n Oscar.

In die regte lewe is Frances McDormand minder hardgebak, al doen sy dinge graag op haar eie voorwaardes.

In dié seldsame onderhoud praat die Fargo-aktrise oor ouer word, haar aangenome seun en haar huwelik met die rolprentmaker Joel Coen.

Dis iets wat talle aktrises vrees: ouer word, om as oor die muur en verby jou verkoopdatum beskou te word. Maar Frances McDormand is nie bang nie; sy sien daarna uit om die natuur sy gang te laat gaan.

“ ’n Vriend het vir my gesê daar is drie fases in ’n vrou se lewe: meisie, ma, wyse ou vrou,” sê sy.

“Die ouvrouskap is van ons weggeneem en ek wil dit terughê.”

In Hollywood, wat met voorkoms behep is, is Frances ’n vars bries. Sy het onlangs 60 geword en beskou die tekens van die ouderdom as ’n erewapen – ’n bewys van ’n lewe wat voluit geleef is en van die kennis en ervaring wat sy opgedoen het.

“Die kultuur van ouderdomsdiskriminasie het vroue nie toegelaat om ouer as 45 te word nie. ’n Ou vrou is wys en is daar vir noodgevalle. Maar as jy ons nie kan uitken nie, as ons nes jy lyk, dis een van die redes waarom ons so ’n onontwikkelde en onvolwasse kultuur is.

“Almal probeer op ’n sekere ouderdom vashaak.”

Mississippi Burning (1988): Frances steel die kollig as die vrou van ’n rassistiese polisieman in Alan Parker se burgerregtedrama.

Ons is in ’n Londense hotel saam met haar rolprentmaker-man, Joel Coen (63), wat half onseker op die agtergrond rondhang.

Ek het vroeër vanuit die voorportaal gesien hoe hy nie kon besluit of hy op en af met die trap moet loop nie, soos ’n verlore siel uit een van sy en sy broer, Ethan, se flieks.

Frances lyk nie verlore nie.

Sy lyk fiks, goed versorg, jonger as 60, maar nie op ’n kunsmatige manier nie, en glad nie soos die hardgebakte vroue wat sy dikwels speel nie. Haar klere is anders as hulle s’n die toonbeeld van stedelike sjiek.

Sy is moeilik om vas te pen – sy staan baie min onderhoude toe – maar tot my verligting is sy heel spraaksaam en reguit.

Die ouderdomskwessie boei haar. Sy was ’n jaar lank in “volskaalse konflik” met die regisseur Martin McDonagh gewikkel oor haar ouderdom in sy nuwe fliek, Three Billboards outside Ebbing, Missouri.

Daarin lewer sy een van die beste vertolkings van haar loopbaan as Mildred Hayes, ’n ma wat rou oor haar dogter wat verkrag en vermoor is.

Frances het eers vir Martin gesê sy’s te oud om die ma van ’n tiener te speel; sy moet haar ouma wees.

“Ek ken vroue uit hierdie sosiaal-ekonomiese laag en hulle het nie kinders van daardie ouderdom nie. Maar hy het gesê hy glo nie ’n ouma sou so hard vir haar kleinkind baklei nie, en ek het gesê: ‘Ja, hulle sal.’

Op die stel saam met haar medesterre Peter Dinklage (middel) en Lucas Hedges (agter) en die regisseur, Martin McDonagh.

“Dit het ’n jaar lank so aangegaan tot Joel op die ou end gesê het: ‘Bly stil en doen dit. As hy dink jy’s nie te oud nie, dan is jy nie te oud nie.’ ”

Frances het opdrag gegee dat die fliek gemaak word. Twaalf jaar gelede het sy Martin se toneelstuk The Pillowman op Broadway gesien en teen haar gewoonte die partytjie ná die vertoning bygewoon.

“Hy het gesê: ‘Ek weet jy sal goed wees in een van my toneelstukke.’ En ek het gesê: ‘Ek hoor jy maak flieks; skryf vir my ’n rol.’ En hy het dit gedoen. Ek het dit nog net vir twee ander mense gesê, Joel en Ethan. Ek sê dit elke paar jaar.”

Sy kry soms werk by die Coen-broers; sy is per slot van rekening met een van hulle getroud.

Die bekendste daarvan is haar Oscar-bekroonde rol as Marge Gunderson in Fargo, ’n fliek so kragtig, volmaak en onvergeetlik dat sy steeds 22 jaar later op straat voorgekeer en gevra word om met die Marge-aksent te praat.

Martin het eers ’n dekade ná die Broadway-partytjie vir haar die draaiboek vir Three Billboards gestuur.

Haar vertolking van Mildred, wat woedend, snaaks en ’n vuilmond is, en geneig tot verstommende dade van geweld, het vir haar ’n Golden Globe vir beste aktrise besorg.

Vanjaar tydens haar toespraak by die Golden Globes.

En baie reken sy sal vanjaar ook met die Oscar-beeldjie huis toe gaan. Wat haar onder meer na Martin aangetrek het, was sy knap skryfwerk.

“Die meeste draaiboeke wat ek sien, is bloudrukke met visuele hulpmiddels. Ek word altyd gevra om leemtes te vul.”

Die onderwerp van swak skryfwerk laat dadelik die woedende Mildred in haar te voorskyn kom.

“Ek het pas ’n fliek gekyk waarin ’n jong aktrise dieselfde sin oor en oor gesê het – ‘verskoon my, verskoon my, verskoon my!’ Ek het besef ek is al gevra om daardie sin te sê en het dan met variasies vorendag gekom. Wat dit werklik beteken, is skryf, f***** skryf vir haar ’n sin.

“Speur die sielkunde van die karakter na; gee haar ’n paar woorde.”

Frances is as Cynthia Ann Smith in Illinois gebore, die dogter van ’n ma wat sy eenkeer as “white trash” beskryf het.

’n Pastoor, Vernon McDormand, en sy vrou, Noreen, het haar op 18 maande aangeneem.

“Ek verwag steeds Noreen gaan uit die graf opstaan en vir my sê om my mond uit te was. Hoeveel keer sê ek ‘f**’ in Three Billboards?”

Talle kere, maar almal subtiel verskillend.

Vernon was ’n prediker en die gesin het baie rondgetrek. Frances het in Pennsilvanië skoolgegaan, was in Wes-Virginië op kollege en het toe in die Yale-dramaskool beland. Sy is in 1984 met Joel getroud. Hulle kon nie kinders hê nie.

“Ons het probeer, maar die natuur het nie saamgewerk nie. Dit was 25 jaar gelede; onvrugbaarheid was toe ’n ander ding. Dit was amper soos om, vanuit ’n vrou se oogpunt, ’n wetenskaplike eksperiment te word, en ek wou regtig nie ’n wetenskaplike eksperiment word nie. Ek wou ’n ouer word.

Frances, haar aangenome seun, Pedro, en haar man, die regisseur Joel Coen.

“Ek wou nog altyd, altyd, vandat ek ’n jong volwassene was, ’n ma wees. Dit was ’n fisieke pyn in my lies, maar toe verskuif dit na die waai van my elmboog.

“Ek het toe geweet dit gaan nie oor swanger wees of die lewe skenk nie, maar om hulle fisiek of metafories vir die res van my lewe vas te hou.”

Hulle het in 1994 ’n baba, Pedro, van Paraguay aangeneem. By die kleuterskool het hulle elke geloof gevier en oor Pedro se geloof uitgevra.

“Ek het gesê: ‘Wel, ek maak hom as ’n heiden groot.’ En iemand het gesê: ‘O, jy bedoel soos ’n Meipaal (die tradisionele dans om ’n paal in Mei as ’n vrugbaarheidsritueel).’ En ek het gesê: ‘Dit klink goed.’

Ons tjank ook vir die volmaan. Wanneer ek ’n volmaan sien, kan jy my nie keer om te tjank nie.

“Ek wou hê ons moes as ’n gesin iets hê waaroor ons almal kon saamstem. Joel is Joods grootgemaak en ek as Protestant. Nie een van ons het daardie godsdienste aangehang nie, maar het ’n sentimentele gehegtheid aan die beste dele daarvan gehad; daarom vier ons die wintersonstilstand en maak son- en maankoekies.

“En om die een of ander rede toe ons dit die eerste keer doen, het ons aartappelgebak en ertjies geëet en enkelmout-whisky gedrink; Pedro het nie toe al nie. Hy doen dit nou.

“Ons tjank ook vir die volmaan. Wanneer ek ’n volmaan sien, kan jy my nie keer om te tjank nie.”

Terwyl sy Pedro grootgemaak het, het sy haarself tot een fliek en een toneelstuk per jaar probeer beperk. Toe hy kollege-ouderdom bereik, het die skeidingsangs haar beetgepak. Gelukkig het haar werk afleiding gebied. Sy was lus om haar eie reeks te maak.

Dit was Olive Kitteridge, ’n konfrontasie met depressie en selfdood in vier dele.

“Ek het aan Olive Kitteridge begin werk toe Pedro 16 of 17 was; gelukkig het ek al dié dinge vooruit beplan. Toe gebeur dit alles gelyktydig. Genadiglik het dit my deur die hartseer gedra toe hy die eerste keer uit die huis is.

“Hy het nie ver weggegaan nie. Hy woon vier blokke van ons woonstel in New York. Ek loop hom in die straat raak, en dis wonderlik.”

Toe sy hom eenkeer vra of sy ’n goeie ma was, het Pedro geantwoord: “Was?” Die storie laat haar ’n knop in die keel kry.

Hy wik en weeg nou tussen persoonlike afrigter word en ’n loopbaan in die rolprentbedryf.

“Nepotisme is baie aantrekliker op 22 as 45,” sê sy vir hom.

Deesdae is sy ’n toeris in New York, sê sy.

“Ek gaan daarheen om al die dinge te doen wat ou vroue doen. Ek gaan Woensdae na ’n middagvertoning, ek eet smiddae saam met my vriende, ek kry ’n pedikuur, ek sien hoe die swart haartjies uit my ken groei. Ek’s mal daaroor.”

Maar, voeg sy by, sy is ’n kleindorpiemens.

“Ek moet werklik die laaste hoofstuk van my lewe op ’n klein dorpie, in die natuur, in ’n klein gemeenskap beleef.”

Sy en Joel het ’n huis aan die kus van die noordwestelike Stille Oseaan. Sy hou die presiese plek geheim en is verstom toe ek die dorp se naam raai. Maar sy hoef nie bang te wees nie; ek sal die geheim na my graf neem.

Haar lewe draai om haar tuisdorp. Sy praat nooit in die openbaar oor politiek nie, maar daar is sy by die plaaslike politiek betrokke. Sy stap ook graag.

“Ek hou van stap; dis my oefening. Niks meer ‘fiks word’ vir rolle vir my of om in die een of ander rok te probeer pas nie.”

En dit werk.

“Dis dit. Dit is hoe 60 lyk, tot môre, wanneer dit soos iets anders sal lyk. Ek voel fiks. Solank ek aan die vloer kan raak sonder om my knieë te veel te buig, is ek oukei.”

Maar die Geheime Dorp gaan nie net oor stap nie. Dit gaan oor egtheid. Net soos sy met verdriet in Olive Kitteridge gemaak het, weef sy die privaat strewe by haar openbare werk in.

Sy werk nou aan ’n televisiereeks wat gegrond is op The Awakening Land, ’n trilogie deur Conrad Richter. Dit gaan oor ’n baanbrekerfamilie in die vroeë 19de eeu.

“Ek wil dit net verken om ’n karakter te speel wat in haar leeftyd besef dinge het skeefgeloop. Dis op die rand van industrialisering. Hulle het al die bome afgekap om die dorp te bou, en teen die tyd dat die dorp verrys, plant sy weer bome.”

Sy plant metafories gesproke bome op haar Geheime Dorp, probeer die verwoesting van moderniteit regstel.

“As iemand vir my sê: ‘Ek is ’n angstige mens,’ sê ek dis ’n algemene toestand van die mens. Ons ly almal aan angs, manie, depressie omdat ons nie werk nie. Die menslike dier is geskape om te werk. Dis ’n masjien, en die brandstof wat ons in die masjien gooi, is heeltemal verkeerd.

“Ons doen niks met ons lyf nie, ons moet aktiwiteite vir die masjien uitdink; daarom is daar gims op elke hoek.”

Sy sê haar karakter doen alles.

“Jy staan soggens op en oorleef tot jy aan die slaap raak. Jy kry net genoeg slaap om soggens wakker te word en dit alles weer te doen. Dit is ’n lewe wat die moeite werd is om te leef, en die oomblik dat sy ledig is, begin sy haar bestaan bevraagteken.”

Tog sê sy sy het uit ervaring en gesprekke met Joel geleer al mag wat ’n akteur het, is die mag om nee te sê: “Nee vir die werk, nee vir die stelsel, nee vir stereotipering. Maar genoeg nees beteken geen werk nie; daarom moet jy ook ’n paar ja’s ingooi.

“Ek probeer my posisie ontwikkel tot ek net genoeg doen om dit moontlik te maak om nog werk te doen. Ek glo ek kan ’n stem en model vir ander vroue en mans wees oor hoe om ’n lang loopbaan in ’n uiters ontoegeeflike beroep te hê.”

Ons groet en ek kry twee soene; twee meer as gewoonlik. Dalk is dit om die geheim oor die Geheime Dorp te verseël.

Maar hoe kan ek ooit die Grootste Lewende Wyse Vrou verraai?

Three Billboards outside Ebbing, Missouri begin op 23 Februarie in Suid-Afrika.


© Bryan Appleyard/The Sunday Times Culture Magazine/News Syndication; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP