’n Somaliese seerower hou wag by ’n gekaapte boot
’n Somaliese seerower hou wag by ’n gekaapte boot. Foto: Associated Press

As ’n bende Somaliese seerowers jou gevange hou en John Steed is jou enigste kans op redding, sou jy dalk alle hoop laat vaar.

Dié afgetrede kolonel en voormalige attaché by die Britse ambassade in Kenia is ’n saggeaarde, innemende figuur wat lyk asof hy veel eerder skemerkelkies wil drink as om by gevaarlike spioenasie­dramas betrokke te raak.

Toe hy in 2013 met sy eie privaat sending begin om die bemannings van drie gekaapte skepe te bevry, het hy geen ervaring van gyselaarsituasies gehad nie en geen geld vir lospryse nie. En ná skaars ’n maand het ’n reuse-hartskeuring byna sy lewe gekos.

Die stres om vir menselewens te onderhandel was amper te veel vir hom, maar hy het daarmee volgehou – tot sy familie en vriende se ontsteltenis.

“Ná my herstel was ek feitlik dadelik weer daarmee besig, al het sommige mense my afgeraai,” sê John (65). “Ek het wel soms gewonder of daar nie iemand anders is wat dit kon doen nie. Maar daar was nie regtig nie.”

Eindelik het John 41 matrose bevry en die langste gyselaarsdrama in die hedendaagse geskiedenis van seevaart beëindig. Dit het hom drie spanningsvolle jare geneem terwyl vriende gevrees het dat sy hart enige oomblik kon ingee.

Aan die begin van die sending het John ná sy aftrede in Nairobi as ’n VN-adviseur gewerk, met die fokus op seerowery. Hy is die pa van twee volwasse kinders en sy vervreemde vrou was in Engeland.

Sy werk het alles behels van gevangenisse vir seerowers bou tot die vestiging van opheffingskemas op die verarmde Somaliese kusdorpies waar die see­rowers vandaan kom.

Gyselaarsredding was nie deel van sy posbeskrywing nie.

Die afgetrede Britse kol. John Steed was die gysel
Die afgetrede Britse kol. John Steed was die gyselaars se laaste hoop.

Maar in die loop van sy werk het hy van die lot van die drie bemannings te hore gekom. In skeepvaartkringe was hulle as die “vergete gyselaars” bekend wie se skepe op vlak anker aan die wettelose kus van Somalië lê en roes het.

Al die skepe is ’n dekade gelede tydens die hoogtepunt van die Somaliese see­rowerskrisis gebuit toe bendes in die westelike Indiese Oseaan minstens 150 kapings uitgevoer het. Tussen 2005 en 2012 het hulle sowat 2 000 matrose gevange geneem, en ’n geraamde $500 miljoen (toe sowat R3,5 miljard) se lospryse is aan hulle betaal.

Terwyl ek vir die Britse media oor Somalië se ontwikkelende seerowerskrisis berig het, is ek en my fotograaf ontvoer en ses weke lank in ’n grot aangehou.

Maar dié drie skepe se eienaars het, anders as die meeste skeepsfirmas, geen versekering teen ontvoerings uitgeneem nie; daarom kon hulle nie die lospryse aan die kapers betaal nie en het die matrose in gevangenskap gebly.

So ’n lot is byna te aaklig om jou in te dink – en ek skryf dit as iemand wat self ’n ruk lank ’n gyselaar van Somaliese seerowers was. In 2008, terwyl ek vir die Britse media oor Somalië se ontwikkelende seerowerskrisis berig het, is ek en my fotograaf ontvoer en ses weke lank in ’n grot aangehou.

Dit was ’n afgryslike ervaring – dae van sielsdodende verveling afgewissel deur flitse van intense vrees, soos die dag toe ons kapers gedreig het om ons te martel.

Maar dit kom nie naby die beproewing wat die bemannings van die drie gekaapte skepe deurgemaak het nie: die vrag­skip Albedo onder die Maleisiese vlag, die treiler Prantalay 12 onder die Thaise vlag, en die treiler Naham 3 onder die vlag van Oman.

Die skeepseienaars het gehoop as hulle nie betaal nie, sal die seerowers die bemanning eindelik vrylaat. Pleks daarvan het die kapers aanvaar die eienaars se pleidooie dat hulle nie geld het nie, is net ’n gevoellose onderhandelingstaktiek. Hul reaksie was om die bemanning genadeloos te martel.

Op ’n keer het die seerowers die kaptein gemartel deur hom koponderstebo aan ’n tou in die see te laat hang en skote in die water om hom af te vuur. En toe die skip se eienaar ophou om hulle terug te bel, het hulle ’n bemanningslid doodgeskiet.

Die gyselaars is geslaan, gegesel, gebrand en erger dinge aangedoen.  

Op die Albedo is ’n gyselaar tereggestel en op die ander twee skepe is agt bemanningslede aan siekte dood nadat hulle uitgehonger is.

“Ek was geskok toe ek uitvind sommige skepe vaar oor die see sonder behoorlike versekering,” vertel John uit sy huis in Nairobi. “Die mans het verskriklik gely en niemand het iets gedoen nie.”

Aman Kumar Sharma, ’n 19-jarige ­Indiese matroos, was op sy heel eerste seereis toe die Albedo wes van die Maledive-­eilande gekaap is. Hy het vertel hoe die bemanning drie dae lank sonder kos of water in ’n ongebruikte swembad op die skip aangehou is terwyl die see­rowers op hulle geürineer en rioolvuil op hulle gegooi het.

Gyselaars van die Albedo is in haglike omstandighe
Gyselaars van die Albedo is in haglike omstandighede in Somalië aangehou.

Op ’n keer het die seerowers die kaptein gemartel deur hom koponderstebo aan ’n tou in die see te laat hang en skote in die water om hom af te vuur. En toe die skip se eienaar ophou om hulle terug te bel, het hulle ’n bemanningslid doodgeskiet.

“Ons het toe begin dink ons sou nooit daar uitkom nie,” sê Aman, wie se vingernaels met ’n knyptang uitgetrek is. “Ek het gedink: ‘Hoekom word ek so gestraf? Wat het ek verkeerd gedoen?’ ”

’n See­rower hou die Indiese matroos Aman Kumar do
’n See­rower hou die Indiese matroos Aman Kumar dop.

Intussen het matrose op die Pranta­lay 12, wat naby Garacad, ’n seerower­skuilplek aan die Somaliese kus, geanker was, ’n enkele bak rys per dag en brakkerige water gekry. Binne die eerste jaar het ses van hulle aan beri-beri gesterf – ’n vitamiengebreksiekte wat die ledemate laat opswel en tot hartversaking kan lei.

“Eers het hul vel vergeel en toe het hulle soos ballonne begin opswel – hul ledemate, gesig, vingers, alles,” vertel Channarong Navara, die skip se kaptein. “Een is in my arms dood terwyl ek hom probeer troos het.”

Destyds het min besonderhede oor die matrose se lyding die publiek bereik. Die bemannings is uit arm lande gewerf en hul families was dikwels bang om hul lot aan die groot klok te hang, want die skeepseienaars het hulle gewaarsku dat dit die seerowers die harnas kon injaag.

Maar dis nie net die matrose se werkgewers en regerings wat hulle aan hul eie lot oorgelaat het nie. Dit het alles gebeur onder die neus van die internasionale anti-seerowervloot, die reusagtige wê­reldwye vloot wat in 2008 saamgestel is om Somalië se waters te patrolleer.

Af en toe het die patrollerende oorlogskepe die oorhand oor die seerowers gekry, soos in rolprente soos Captain Phillips met Tom Hanks in die hoofrol.

Dit skets die kaping van die Maersk Alabama met sy Amerikaanse bemanning in 2009 toe ’n Amerikaanse oorlogskip tot hul redding gekom het.

Maar net ’n paar vlote, soos dié van Amerika en Brittanje, het spesiale magte wat seereddings met geweld kan uitvoer. En hulle stel hulle gewoonlik net aan gevaar bloot om hul eie burgers te red.

Vir hierdie drie bemannings – almal uit armer dele van Asië – sou daar geen Hollywood-einde wees nie. Soos Aman dit stel: “Ons is nie die seuns van presidente of premiers nie; daarom sou niemand ons kom red nie.”

Maar hy en sy medebemanningslede het nie van John geweet nie.

Eers was John se plan bloot om die kapers te kontak en mediese voorraad vir die bemannings af te lewer. Maar in die moesonreënseisoen van 2013 het die Albedo weens skade aan die romp begin sink.

Hy het die seerowers gesmeek om die bemanning uit menslikheid vry te laat. Hy is geïgnoreer. Die volgende nag het die skip in ’n hewige storm gesink. Vier matrose het verdrink en die ander 11 is daarna op land aangehou.

“Toe die ouens daardie nag sterf, het ek in my hart geweet ek wou iets meer doen en dat dit waarskynlik geld sou behels,” sê John. “Ek was op wankelrige grond, want die VN kon geen aandeel hê aan die betaling van ’n losprys nie en ek het geen geld gehad nie. Nie ’n duit nie.”

Dit het beteken die kapers kon sonder verlies van aansien ’n betaling kry en spore maak, en John kon verklaar hy het geen losprys betaal nie.

Om hom van die VN te distansieer, het hy ’n afsonderlike kantoor gekry – eintlik net die gastekamer in sy woonstel in Nairobi.

Terwyl die VN hom ’n beskeie salaris betaal het, is dit duidelik gemaak as alles sou skeefloop hy alleen sou wees.

In samesprekings met die seerowers het hy aangebied om hul “uitgawes” te dek eerder as om die gesamentlike losprys van $10 miljoen (R70 miljoen) te betaal. Dit het beteken die kapers kon sonder verlies van aansien ’n betaling kry en spore maak, en John kon verklaar hy het geen losprys betaal nie.

Maar nadat hulle gewapende mans gehuur het om die gyselaars drie jaar lank te bewaak, het die seerowers se “uitgawes” honderdduisende dollars beloop.

Die stres het sy tol van John begin eis. ’n Maand nadat die Albedo gesink het, is hy hospitaal toe geneem nadat hy weens ’n hartskeuring inmekaargesak het.

“Agterna het die dokters gesê ek moet rustig wees en nie my bloeddruk te veel opjaag nie,” vertel John. “Maar ek wou die gyselaars bevry. Op ’n manier het dit my aangespoor om gesond te word.”

John se plan was om privaat skenkers te nader in die hoop dat die gyselaars se nood ’n sterk motivering sou wees. Dit was nie. Filantrope en liefdadigheids­organisasies wat dalk miljoene vir ’n goeie doel sou skenk, was onwillig om geld aan seerowers te gee.

Maar die geldinsameling was net die eerste struikelblok. John moes die geld in Somalië kry en sorg dat die see­rowers by hul kant van die ooreenkoms hou.

'Ek wou die gyselaars bevry. Op ’n manier het dit
'Ek wou die gyselaars bevry. Op ’n manier het dit my aangespoor om gesond te word,' het John gesê. Foto: YouTube-skermgreep/CNA Insider

Bang dat John hom op glibberige terrein begeef, het ’n VN-kollega hom met die Londense regsfirma HFW in aanraking gebring. Twee van hul maritieme prokureurs, Richard Neylon en James Gosling, het spesialiste in Somaliese seerowersake geword en sedert 2005 die vrylating van 1 750 matrose verseker.

In die proses het die HFW-span ’n oog gehou oor die oordrag van lospryse van ’n geraamde $250 miljoen (toe R1,7 miljard). Soms het hulle ’n foto geneem van die geld saam met die dag se koerant as bewys vir die seerowers dat dit op pad is.

Die prokureurs het ingestem om sonder vergoeding met John saam te werk en het ook die onderhandelaar in gyselaarsituasies Leslie Edwards betrek.

Richard gee toe dat die betaling van lospryse seerowers aanmoedig, maar sê in die praktyk het skeepseienaars nie veel van ’n keuse nie.

“Dis maklik om die etiek te bevraag­teken van ’n losprysbetaling, maar wag tot jou eie geliefde ontvoer word en kyk hoe jy voel,” sê hy. “En in die geval van hierdie drie skepe, waar die eienaars nie die hulpbronne gehad het om te betaal nie, was dit duidelik die seerowers sou eerder die gyselaars laat sterf as om hulle gratis vry te laat.”

Die gyselaars is in daardie stadium in ’n dorpskamp aangehou. Talle was siek en party het dit oorweeg om selfmoord te pleeg. Maar Aman, ’n jong Indiese matroos, het kopgehou. Hy het genoeg Somalies leer praat om met een van die seerowerbevelvoerders, Ali Jabeen, bevriend te raak.

Normaalweg sal ek nooit ontsnappingspogings aanmoedig nie, maar die omstandighede was uitsonderlik. Die gyselaars was in ’n verskriklike toestand en ons kon nie nog geld kry nie.

Aman het aangevoel Ali was self moeg vir die hele ding en het vir hom ’n dapper aanbod gemaak. Sê nou Ali kon $200 000 (R1,4 miljoen) kry as hy die gyselaars een nag help ontsnap?

Ali het ingestem, maar die onderhandelaar, Leslie, het eers gesê dit is buite die kwessie. “Normaalweg sal ek nooit ontsnappingspogings aanmoedig nie, maar die omstandighede was uitsonderlik,” sê hy. “Die gyselaars was in ’n verskriklike toestand en ons kon nie nog geld kry nie.”

Ali se plan was om slaappille in die wagte se aandete te sit en die gyselaars in die donker te laat ontsnap. ’n Medepligtige sou dan met hulle na ’n plek in die Somaliese bosse ry waar gewapende begeleiers hulle sou ontmoet. John se Somaliese kontakte sou daarvoor sorg.

Dit het gou skeefgeloop. Met die eerste twee pogings het die slaappille nie gewerk nie. Ali het toe kontak verbreek nadat hy die geld in sy sak gesteek het.

Maar drie weke later het John uit die bloute ’n foonoproep van Aman gekry. “Ons het ontsnap, maar ons het in die Somaliese bosse verdwaal,” het hy gesê.

Ali het dit eindelik reggekry om die wagte te bedwelm, maar nagelaat om vir John te sê die ontsnapping gaan voort. Daarom het geen gewapende begeleiers gewag om die gyselaars op te laai nie. Hulle het in een van die mees wettelose struikrower­gebiede in Somalië verdwaal.

John het sy Somaliese kontak gebel en 10 angswekkende ure later ’n teksboodskap ontvang dat die matrose gevind is. Die volgende dag is hy op ’n VN-vliegtuig daarheen om hulle te gaan haal. Op die vliegveld moes hy die trane wegsluk toe hy hulle groet. Al het hy hul gesigte toe nog net op foto’s teen sy kantoormuur gesien, het hulle soos familie gevoel.

“Nadat ek so lank deur sulke moeilike tye met hulle te doen gehad het, het ek ’n band met hulle gesmee,” sê hy. “Hulle was nog ’n bietjie geskok en hulle het net vir my gevra: ‘Is jy John?’ Ek het groot verligting ervaar. Hul bevryding was ’n absolute vreugde; die beste gevoel ter wêreld.”

Op die Prantalay 12 het ’n matroos van sy verstand af geraak nadat die see­rowers hom wreed met ’n pistool geslaan het toe hy probeer ontsnap het.

“John het aangestap gekom, my hand geskud en gesê: ‘Lekker om jou te ontmoet,’ ” sê Aman. “Woorde kan nie beskryf hoe bly ek was om hom te sien nie.”

Die blydskap was van korte duur, want John en sy span moes daarna hul aandag aan die twee oorblywende skepe se bemannings wy. Teen daardie tyd is albei groepe in bosskuilings op die Somaliese vasteland aangehou. Hulle het tussen slange en sker­pioene geslaap, in haglike toestande.

Op die Prantalay 12 het ’n matroos van sy verstand af geraak nadat die see­rowers hom wreed met ’n pistool geslaan het toe hy probeer ontsnap het. Twee van die Naham 3-bemanningslede is aan beri-beri dood en die res het rotte geëet om aan die lewe te bly.

Danksy John se sukses met die bevryding van die Albedo se bemanning was dit makliker om geld in te samel. Geheime skenkers het in Asië na vore gekom.

Eers die volgende jaar, in Februarie 2015, is die vier oorlewende Pranta­lay 12-bemanningslede vrygelaat toe $400 000 (toe R4,8 miljoen) aan die see­rowers vir hul “uitgawes” betaal is. Die matrose is byna vyf jaar lank aangehou.

In Oktober 2016 is die 26 Naham 3-­matrose ná vier en ’n half jaar vir $2,3 miljoen (toe R32 miljoen) vrygelaat.

Matrose van treiler Naham 3 in 2016 nadat hulle vr
Matrose van treiler Naham 3 in 2016 nadat hulle vrygelaat is. Hulle is vier jaar lank in ­Somalië aangehou. Gyselaaronderhandelaars het $2,3 miljoen (toe R32 miljoen) betaal om hul vry­lating te verseker. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die gyselaars is met hul tuiskoms eufories verwelkom. Toe Aman na sy dorpie in die noorde van Indië terugkeer, het ’n skare van 20 000 hom toegejuig.

Die vrou van kapt. Channarong Navara (toe 64) van die Prantalay 12, Sheli, het hom gegroet nadat sy in ’n stadium ’n begrafnis vir hom gehou het. Sy het langer as ’n jaar niks van hom gehoor nie.

Matrose van treiler Naham 3 in 2016 nadat hulle vr
Matrose van treiler Naham 3 in 2016 nadat hulle vrygelaat is. Hulle is vier jaar lank in ­Somalië aangehou. Gyselaaronderhandelaars het $2,3 miljoen (toe R32 miljoen) betaal om hul vry­lating te verseker. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maar die tuiskoms was nie vir almal vreugdevol nie. Verskeie matrose het met hul tuiskoms gevind hul verloofdes is getroud of hul ouers oorlede. Baie gyselaars se families het in armoede geleef, want hulle het geen lone of vergoeding van die skeepseienaars ontvang nie.

Matrose van treiler Naham 3 in 2016 nadat hulle vr
Matrose van treiler Naham 3 in 2016 nadat hulle vrygelaat is. Hulle is vier jaar lank in ­Somalië aangehou. Gyselaaronderhandelaars het $2,3 miljoen (toe R32 miljoen) betaal om hul vry­lating te verseker. Foto: Getty Images/Gallo Images

Party matrose, soos Aman, het nie juis ’n keuse gehad as om terug te gaan see toe nie. Vandag gee hy vir mede­matrose lesings oor die gevare van see­rowery – en maan hulle om net vir verantwoordelike werkgewers te werk.

Die seerowers het nooit in die hof tereggestaan nie.

’n Bemanningslid van die Naham 3 gee John ’n drukk
’n Bemanningslid van die Naham 3 gee John ’n drukkie uit dankbaarheid nadat hy in Kenia aangekom het ná sy lang beproewing.

John woon steeds in Nairobi, waar hy soms met gyselaarsgevalle help. Al het Somaliese seerowery andersins grootliks doodgeloop – hoofsaaklik danksy die teenwoordigheid van gewapende wagte op skepe – het hy al met onopgeloste ontvoerings op die vasteland gehelp.

Hy het nooit enige amptelike erkenning vir sy pogings gekry nie, moontlik omdat die Britse regering die betaling van lospryse amptelik afkeur. Maar in 2017 het die VN se veiligheidsraad hom geloof vir sy werk met die bevryding van gyselaars.

Vir John is die beloning dat elkeen van die mans op die foto’s teen sy muur nou weer vry is. “Ek bekommer my nie oor erkenning nie. Om die ouens daar uit te kry was opsigself erkenning,” sê hy.

“Daar is niks soos om vir mense hul lewe terug te gee wanneer hulle alle hoop laat vaar het nie.”

© The Telegraph Magazine
FOTO'S: AMAN KUMAR SHARMA/COLONEL JOHN STEED/OMAR SHEIKH ALI, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, AAI/FOTOSTOCK, AP IMAGES
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe