Cheslin, voorheen ’n eerstejaarteologiestudent aan die Universiteit Stellenbosch (US), is op 27 Mei 2017 erg aangerand toe hy saam met die Matie Hannah Cornelius in Birdstraat, Stellenbosch, gekaap is. Hannah (21) is verkrag en vermoor. 

Marilyn Marsh (47), Cheslin se ma, het Woensdag aan Huisgenoot gesê haar seun “gaan nie terug Stellenbosch toe nie”. 

Hy gaan volgens haar wel sy studie in 2018 hervat.

Cheslin Marsh gaan nie terug na die US nie. Foto: Facebook

“Hy het by ander universiteite aansoek gedoen en gaan beslis weer studeer. Ek weet nie wat hy gaan studeer nie, maar hy het gesê hy gaan nie weer teologie studeer nie.”

Hy het ook aansoek gedoen vir ’n beurs om sy studiegeld te dek, sê sy.

Marilyn sê Cheslin het glad nie ná die voorval sy studie aan die US hervat nie. 

Dit gaan goed met hom, sê sy. “Ek vertrou dit gaan elke dag beter met hom. Hy gaan aan,” sê Marilyn.

Sy vat “elke dag soos dit kom”, sê Marilyn.

Cheslin en Hannah het voor ’n woonstelblok in haar VW Citi Golf gesit toe hulle oorval is. Haar lyk is later op die plaas Groenhof buite Stellenbosch gevind. ’n Beseerde Cheslin is later in Kraaifontein opgespoor nadat die aanvallers hom vermoedelik vir dood agtergelaat het. Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Nashwill Julies en Eben van Niekerk is in verband met die voorval aangekeer.

Die vier verskyn weer op 28 November in die Stellenbosch-landdroshof.