“Dit is iets wat al ’n ruk lank aankom,” vertel Hannah se niggie Lali van Zuydam. “Toe die hofsaak nog aan die gang was, het Geraldo Parsons ’n Facebook-profiel gehad.

"Ek het met die departement van korrektiewe dienste in verbinding getree en hulle kon dit verwyder. Toe skep hy in Februarie verlede jaar weer een.” 

Op 12 November 2018 is Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk in die hooggeregshof in Kaapstad elk twee keer lewenslange tronkstraf opgelê vir die verkragting, moord en poging tot moord van Hannah en haar vriend Cheslin Marsh. 

Cheslin het die aanval oorleef.

Die vierde beskuldigde, Nashville Julius, is 22 jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van ontvoering en roof met verswarende omstandighede.

cheslin marsh,hannah cornelius
Cheslin Marsh tydens 'n vorige onderhoud met Huisgenoot. Foto: Jacques Stander

Nog twee profiele met profielfoto’s wat lyk soos dié van Vernon Witbooi en Nashville Julius is nou op Facebook aktief, maar is onder ander name geskep.

Op 27 Mei 2017 het die studentedorp Stellenbosch gesteier toe Hannah, wat in daardie stadium ’n tweedejaarstudent in die geesteswetenskappe was, ontvoer, verkrag en vermoor is.

hannah cornelius,student
Hannah Cornelius. Foto: Instagram

Sy het haar vriend Cheslin, toe ’n eerstejaarstudent in teologie, op daardie nag in Mei om 03:20 van ’n kuierplek na sy koshuis, Eendrag, geneem.

Hannah het sowat 150 m van die ingang na die koshuis parkeer en hulle het ’n rukkie in die motor sit en gesels toe vier mans - Geraldo, Vernon, Nashville en Eben - hulle in die motor oorval. Gewapen met ’n mes en ’n skroewedraaier het die aanvallers in die motor geklim en met die twee studente na die Helshoogtepas buite die dorp gery.

Daar het hulle stilgehou, Cheslin in die bagasiebak gedwing en verder rondgery met Hanna by hulle voor in die motor. Die aanvallers het eindelik by ’n oop veld in die Kaapse voorstad Kraaifontein stilgehou, Cheslin uit die bagasiebak laat klim en hom aangesê om met sy kop teen die grond te sit. Alles het vir hom swart geword, maar hy het later wakker geword en hulp gesoek.

Intussen het hulle Hannah na ’n wynplaas buite Stellenbosch geneem en haar daar herhaaldelik verkrag. Sy is twee keer met ’n skroewedraaier in die nek gesteek voor hulle ’n klip van 40 kg opgetel en haar daarmee doodgegooi het.

hannah cornelius,cheslin marsh,moordsaak
(Van links) Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk is in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind aan die ontvoering, verkragting en moord op Hannah en die ontvoering van Cheslin. Nashville Julies (regs) is aan ontvoering en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die familie probeer die stukke van hul lewe bymekaarsit, maar sukkel, erken Lali. Veral nadat Hannah se ma, Anna, in Maart 2018 in die see naby Scarborough verdrink het.

Hanna se pa, Willem, en haar outistiese broer het alleen agtergebly. 

Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) woordvoerder Singabakho Nxumalo, het bevestig die saak kry aandag. "'n Formele ondersoek sal gedoen word."

Lali sê dit is vir hulle moeilik om afsluiting te kry, terwyl hulle weet die moordenaars het toegang tot die buitewêreld.

“Ek verstaan dat veroordeelde misdadigers mag skoolgaan en verder studeer, maar om in die sosiale media te wees, is nie reg nie.

"Dit pla my dat hulle my niggie se stem weggevat het, dat ons nie weer foto’s van haar op Facebook kan sien nie, maar dat hulle in die sosiale media kan wees.

“Hulle het iets baie waardevols van ons weggeneem en hulle is skuldig bevind aan moord. Dit is nie iets kleins soos diefstal nie.

“Ek het baie respek vir die regstelsel en die departement van korrektiewe dienste, maar dit laat 'n mens wonder wie regtig in daardie tronk in beheer is.”

Geraldo se profielfoto wys hoe hy gekruisde arms in ’n sweetpak teen ’n wit muur staan. Langs hom is ’n foto van ’n vrou met ’n pienk sonbril en laer af op die blad het hy aangedui dat hulle in 2018 verloof geraak het.

Die beskrywing van homself lui: “’n Gawe en liefdevolle mens net vir my toekomstige vrou.”

Hannah Cornelius
'n Skermgreep van die Facebook-profiel van een van Hannah se moordenaars.

Wat Lali verder pla is die feit dat Cheslin, wat oorleef het, met alle mag probeer om met sy lewe voort te gaan, maar ook hieraan blootgestel kan word. “Hulle kan ’n bedreiging vir sy veiligheid wees en hom intimideer."

Lali sê haar oom, Willem, kry uiteraard baie swaar.

“Dit is soos hy in die hof gesê het. Sy lewe het geëindig die dag toe sy dogter dood is. Hy gaan aan, maar dit sal nooit weer goed gaan nie.”

Hannah Cornelius
Hannah Cornelius saam met haar ma, Anna, en haar ouma, Eleanor. Hulle is elkeen 10 maande uit mekaar oorlede. Foto: Verskaf

Hannah sou op 12 Februarie 2020 24 jaar oud geword het.

“Ons het spesiaal baie aan haar gedink en na foto’s gekyk en was baie bewus van haar verjaardaarsdag.

Singabakho sê die departement doen alles in sy vermoë om smokkelgoed uit korrektiewe sentrums te hou. "Die smokkel van selfone is 'n groot uitdaging vir die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap."

Volgens hom het die DKD tussen 2018 en 2019 beslag gelê op 6 301 selfone in Wes-Kaapse tronke.

"Hierdie is 'n stryd wat die DKD nie op sy eie kan wen nie, ons het die hulp van die publiek nodig."

Hy het bygevoeg dat die DKD mense noop om nie selfone by tronke in te smokkel wanneer hulle daar besoek aflê nie en om dit by die polisie aan te meld as gevangenes hulle van selfone uit die tronk bel. 

Die publiek kan in sulke gevalle die korrupsielyn by 0800 701 701 skakel.