Hannah en haar mede-Matie-vriend, Cheslin, is op 26 Mei 2017 in Stellenbosch gekaap en ontvoer.

Cheslin is erg aangerand en vir dood agtergelaat.

Benewens kopbeserings en ’n gebreekte arm wat hy in die aanval opgedoen het, het Cheslin die gehoor in sy linkeroor verloor. 

Lali het aan CapeTalk vertel sy het besluit om ’n fondsinsameling op die platform van Backabuddy vir Cheslin te begin sodat hy ’n gehoorapparaat kan kry.

Cheslin kan nie ’n apparaat bekostig nie en kon nie verder studeer na die voorval nie, het sy gesê. 

“Ons het eers besluit om die teikenbedrag R15 000 te maak sodat ons hom kan ondersteun. Maar soveel mense het aan boord gespring toe hulle van die projek hoor, dat ons die bedrag opgestoot het na R20 000.

“Ons het besluit om dan enige ekstra fondse, as deel van die Hannah Cornelius-stigting, aan te wend vir Cheslin se studies sodat hy volgende jaar kan teruggaan universiteit toe.

Toe Charnaé Pieterse van die oor-instituut in Belville hoor van die Backabuddy-veldtog vir Cheslin, het hulle besluit om vir hom ’n gehoorapparaat te borg asook 'n volledige gehoortoets.

'n Dankbare Lali het gesê hulle sal nou al die fondse wat hulle tot dusver ingesamel het vir ’n gehoorapparaat aanwend om Cheslin se uitstaande mediese rekeninge te betaal, asook om soveel moontlik by te dra om hom terug op universiteit te kry. 

Sedert Lali met CapeTalk gesels het, is meer as R20 000 reeds ingesamel en die teiken bedrag is verhoog na R30 000. 

Uitspraak in die Hannah Cornelius-moordverhoor word vandag gelewer. 

  • Die moord op die pragtige Hannah Cornelius in Mei verlede jaar, het skokgolwe deur die land gestuur.  Haar lyk is op 27 Mei 2017 langs die pad naby 'n wynplaas buite Stellenbosch gevind.  Sy is herhaaldelik verkag, twee keer aan die linkerkant van haar nek gesteek voordat sy met 'n klip of klippe oor die kop doodgeslaan is. Die vier beskuldigdes, Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashville Julius, staan tereg op aanklagte van die verkragting en vir die  moord op Hannah, asook poging tot moord op Cheslin.