Louis het Saterdagaand op pad na sy familieplaas in die Vaaldriehoek in 'n motorongeluk gesterf. Sy seun, Edwin (11), wat saam met hom in die voertuig was, het oorleef.

Ricus het op sy Facebook-blad geskryf: “My ou tjomma Louis Hendrik Claassen, my hart is baie seer. Jy was 'n legende. Ons almal gaan jou so mis. Dankie vir die rukkie wat ek jou kon ken en vir al die saamkuier en grappies. Jy laat 'n groot leemte. Tot ons mekaar wees sien, ou maat. Rus in vrede."

Ricus Nel (middel) saam met sy vriende Bernard van der Westhuizen (links) en Louis Hendrik Claassen (regs).

Ricus vertel hy en Louis het mekaar toevallig in 2003 na afloop van 'n Huisgenoot Skouspel-konsert ontmoet. Daarna het Louis gereeld vir Ricus ná 'n vertoning kom groet wanneer hy in die gehoor was. Drie jaar gelede het Ricus se tandarts, dr. Bernard van der Westhuizen, vir hom vertel van 'n gawe jagtersvriend van hom. Toe Ricus uitvra, kom hy agter dit is die einste Louis. 

Daarna het hy en Bernard op die Claassen-familie se Shelanti-jagplaas in Limpopo gaan jag en 'n hegte vriendskap het tussen Ricus en Louis ontstaan. Louis was ook die eerste mens aan wie Ricus sy 2016-treffer, Hardekole, gespeel het voor dit uitgereik is.

Ná die uitreiking daarvan het Louis dié liedjie altyd vir jaggroepe gespeel en gespot dat hy dit eintlik “op die map” gesit het.

Ricus beskryf sy vriend as 'n joviale, sterk en geliefde mens wat net die beste vir almal wou gehad het.

Louis was nie net bekend in jagterskringe nie; hy was ook in die voerkraalbedryf bekend. Hy word deur sy seun, Edwin, sy vrou, Jeanine, en ouers Edwin (sr.) en Heleen oorleef.

Die drie vriende het gereeld saamgekuier.