School friends in classroom gossiping classmate si
’n Potchefstroomse ma sê sy het “geknak” nadat haar dogter glo maande lank geboelie is, toe besluit om in te gryp op ’n manier wat die tonge op dié rustige studentedorp los het, op ’n tranedal in die plaaslike polisiekantoor uitgeloop het en moontlik nog in die hof gaan draai. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sy het met haar hande in die hare gesit oor haar dogter wat kla dat sy by haar laerskool geboelie en uitgetart word – en dít deur haar ekskêrel se nuwe meisie.

Toe besluit ’n ma van Potchefstroom in Noordwes om in te gryp, maar op ’n manier wat die tonge op dié rustige studentedorp los het, op ’n tranedal in die plaaslike polisiekantoor uitgeloop het en moontlik nog in die hof gaan draai.

Midde-in die storm is drie ontstelde 13-jariges en hul befoeterde ouers, ’n liefdesdriehoek, ’n swetterjoel briewe met lasterlike bewerings, beskuldigings oor afknouery en ’n verdagte pakkie. 

Dit alles het op Donderdagoggend 10 Junie begin toe die ma, Michelle*, ’n klomp briewe deur die heining van ’n plaaslike laerskool gooi.

“Vir ’n lekkerrr vry . . . bel vir . . .” het daarop gestaan met die naam en selfoonnommer van die vermeende boelie, Nadia*, ’n gr. 7-leerder. “Sy is lekkerrr los,” is die boodskap afgesluit.

Die briewe het gou op die skoolbestuur se tafel beland en Nadia se ma, Petra*, is ingeroep. Dié was bekommerd oor haar dogter se veiligheid en het ’n klag van strafregtelike laster by die polisie gelê.

Sy het ook die skoolseun met wie haar dogter gekys is, Armand*, se ma, Danelle*, oor die smeerveldtog ingelig.

Michelle het 16 dae later met die hele sak patats vorendag gekom. En toe ontvou ’n kattekonsert so reg uit The Real Housewives . . .

Die skuldgevoelens het Michelle so gery dat sy ’n bekentenis by die polisie gaan aflê het, vertel ’n familielid van haar wat met die sage vertroud is.

School friends in classroom gossiping classmate si
Die brief wat ’n ma deur die heining van ’n laerskool gegooi het. Sy het “geknak” toe sy vermoed haar dogter word geboelie. Foto: Verskaf

“Sy ly al jare lank aan depressie en moes toekyk hoe dit ook haar dogter, Janine*, se werklikheid word nadat sy glo by die skool geboelie is,” verduidelik die familielid.

Nadat Armand met Janine uitgemaak het, het Nadia glo lelike goed oor haar begin sê. Die familielid vertel dit het so erg geraak dat Janine nie meer wou skool toe gaan nie en sy het ál meer teruggetrokke geraak.

Op die oggend voor die briewe versprei is, het Janine buite die skoolhek gevra: “Mamma, wat gaan sy vandag oor my sê?” Dit het Michelle glo gebreek. “Sy wou gehad het die boelie moes net een keer dieselfde pyn as haar kind ervaar,” verduidelik die familielid.

“Dis nooit reg vir enige volwassene om ’n kind te boelie nie,” kap Petra, Nadia se ma, terug. “Ons ken die ouers al jare lank en daar was nooit enige bewerings dat ons kind haar kind boelie nie. Hoekom is die skool nooit in kennis gestel nie? Sy kon dit self ook vir my gesê het.”

En wat sê Danelle, die ma van die seun wat eers met Janine en nou met Nadia gekys is?

“Ek het met my eie oë gesien hoe sy van ’n glimlaggende meisietjie met poniesterte verander het in ’n kind wat kop onderstebo loop,” vertel sy oor Janine. 

Nee, sy is nie vies vir Michelle nie. “Sy het ons vergifnis gevra, en ons het dit vir haar gegee. Ek regverdig nie haar optrede nie, maar ek sal nie haar hand los terwyl al die ander dit doen nie.”

School friends in classroom gossiping classmate si
Die twis tussen die vroue en hul kinders het die gemeenskap van Potchefstroom aangegryp. Foto: kykNET/YouTube

Die hare waai behoorlik – tot in die hof

Die twee ma’s het goed bevriend geraak toe Armand en Janine in Januarie verlede jaar gekys het. 

“Hulle was te skattig saam,” onthou Danelle. “Maar dit was kalwerliefde, eintlik was hulle meer soos beste maats.” 

Maar in Maart vanjaar het Janine tuisgekom met die nuus: Dis verby tussen haar en Armand. Hy is trouens nou met Nadia gekys.

Janine was ontroosbaar, vertel die familielid. “Dit het later oorgewaai toe die seun vir haar ’n boodskap stuur waarin hy sê hy’s jammer dat hy haar seergemaak het. Maar toe begin die geboelie by die skool.” 

Nadia het na bewering aan Armand vasgeklou en vir Janine gegrynslag wanneer sy naby kom, alles om haar glo “uit te tart”.

Die familielid beweer ook Nadia het later onder haar maats en op WhatsApp lelike goed van Janine begin sê. Daar is selfs ’n video op TikTok gedeel – gerig aan “my bf se eks” – waarin Nadia die woorde van ’n liedjie lipsing: ‘I don’t like you, b***h, I don’t like you . . .”

Huisgenoot het dié video onder oë gehad.

Janine wou later nie meer skool toe gaan nie, en sy het eindelik haar ma van alles vertel. 

Toe “crack” Michelle daardie oggend voor die skoolhek. “Dit het haar hart gebreek om te dink iemand boelie haar dogtertjie. Sy het nie reguit gedink nie en is huis toe, het die brief getik en toe ’n klomp kopieë daarvan gemaak.” 

Vir Petra was dit net so ontstellend toe sy daardie oggend skool toe ontbied is en hoor van die briewe waarin haar dogter as “lekkerrr los” beskryf word.

By die skool het die ma ook vir die eerste keer gehoor van ’n pakkie wat Michelle sowat ’n week tevore vir Nadia by die skool afgelewer het. Daarin was ’n tennisbal en blomme met ’n briefie wat lui: “Jy het gesê jy wil met my speel.” 

School friends in classroom gossiping classmate si
Michelle* het dié pakkie aan Nadia* gestuur en beweer dit kom van ’n seun wat van haar hou. Foto: Verskaf

Dit was van ’n seun wat glo in Nadia belangstel, maar sy en haar ma het vermoed dat dit ’n poging van Michelle is om Nadia so ver te kry om Armand te los.

Michelle hou vol dat die geskenkpak niks met die voorval te make het nie, vertel haar familielid, maar oor die briewe het haar gewete haar so gepla dat sy op 26 Junie ’n bekentenis by die polisie gaan aflê het. 

Hulle het haar gevra om Nadia se ouers te kontak. Michelle het die dogter se pa, Kobus*, gevra om alleen polisiekantoor toe te kom, want sy was doodbang oor hoe sy vrou, Petra, sou reageer. Voor hom het sy in trane gebieg dat sy die briewe met lasterlike bewerings oor sy dogter by die skool versprei het.

Dit was soos ’n “skoot koue water” toe sy hoor wie agter die briewe sit, sê Petra. “Daar was eers skok, en toe woede. Ons kén mekaar. Hoe kan sy so iets aan ’n kind doen? Aan ons doen?” 

Eers ná Michelle se skulderkenning het hulle van die beweerde afknouery gehoor, sê Petra.

Huisgenoot het die “boelie-video” waarin hul dogter lipsing met die ouerpaar gedeel. “Dis vir my bitter sleg om so iets van my kind te moet sien,” was Kobus se reaksie.

Petra sê sy kan nie verstaan waarom Michelle nooit die situasie met hulle bespreek het nie.

“Daar was nooit een oproep of boodskap nie. Sou sy steeds geknak het as sy soos ’n grootmens met ons kom praat het? Ons kan nie help om te dink sy wil net haar optrede regverdig nie.” 

Dan skiet haar gemoed vol. “Nie een van ons kan sê ons weet presies waarmee ons kinders elke oomblik besig is nie. Maar my kind is liefdevol en saggeaard – níé ’n boelie nie.” 

“Ons almal is rou en stukkend. Hulle is kinders, en dié goed behoort nie hul werklikheid te wees nie.”

‘Geen wenners nie’

Gaan die geskil in die hof draai? 

Ja, sê Petra. “My kind word nou by die skool en in die media geboelie. Is dit regverdig? Wat as sy iets aan haarself doen? Ons mág dit nie net los nie.” 

Sy stoei weer met haar emosies. Dis nie dat sy en haar man vir Michelle agter tralies wil sien nie. “Sy is ’n ma. Maar sy moet verantwoordbaar gehou word vir haar dade,” verduidelik Petra.

Eindelik is daar geen wenners nie, sê Danelle, wie se seun midde-in die vete beland het. “Ons almal is rou en stukkend. Hulle is kinders, en dié goed behoort nie hul werklikheid te wees nie.” 

En Michelle? 

“Sy kan niemand in die oë kyk nie,” vertel haar familielid. “Sy hoop nou dat hierdie ding nie haar lewe en die lewe van haar kinders sal verwoes nie.” 

* Skuilname is gebruik om die identiteite van die minderjarige kinders te beskerm wat hierby betrokke is.

  • Michelle wou geen kommentaar aan Huisgenoot lewer nie. Sy het die navraag na haar regsverteenwoordiger, Malan Schutte, verwys maar ook hy wou nie in dié stadium kommentaar lewer nie.
  • Kapt. Aafje Botma, ’n polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig dat ’n klag van strafregtelike laster ondersoek word.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe