Francois praat oor een van die beroemdste bulhonde in die land; die vyfjarige Ringo van Coke, gebore op 4 September 2012, is Sondag skielik dood.

“Ons weet nie of ons iets spesiaals gaan doen nie. Die hartseer is nog te vlak. Ek wou hom veras, maar ek het besluit om hom eerder te begrawe in ons tuin. Ons wil eerder sy energie by ons hou," vertel die emosionele rocker.

Ringo is aan ’n hartaanval dood.

“Bulldogs het maar allerhande kwale, maar hy was eintlik baie gesond die afgelope tyd. As klein hondjie was hy siekerig,” sê Francois.

"Dit is ook nog veels te vroeg om te praat oor 'n nuwe troeteldier wat ook familielid is."

Op Instagram vertel hy: "Niks sal hom ooit kan vervang nie."

Alex & Ringo

A post shared by Francois van Coke (@francoisvancoke) on

Laas toe ons met Francois gepraat het, was dit oor sy en Karen Zoid se liedjie, Toe Vind Ek Jou. Die "ons" in die lirieke is Francois en sy vrou, Lauren Wiid. Die "hond" is vernoem na die Beatles se tromspeler Ringo Starr en die "huisie" is in Boston in die noordelike voorstede van Kaapstad.

In April 2016 het hy nog in ’n onderhoud met Huisgenoot gesê daar is sprake van ’n pienkvoet. “Maar daar is nog nie enige babas op die horison nie. Ek het op die oomblik my hande vol met ons hond.”  En toe het hy nog geskerts – dís die beroemde hond wat byna meer aanhang op Instagram het as hy.

“Die baba gaan seker nog iets wees waaraan hy gewoond moet raak, Maar nou-nou het Lauren ’n foto gestuur van haar en Alex op die bed met Ringo wat rustig onder op die mat lê,” het hy kort na haar geboorte aan huisgenoot.com vertel. “Dit lyk my of hulle gaan vriende wees.”

Francois het vroeër Maandag op Instagram geskryf: “Ek wens Alex kon meer tyd saam met hom spandeer, sy was klaar so lief vir hom."

Ekslusiewe Huisgenoot-foto's: Misha Jordaan