Dis skuins ná 11-uur op ’n Dinsdagoggend. Hanli Barnard se lighartige gesprek op kantoor in Pretoria word onderbreek deur die luitoon van haar selfoon.

Die 47-jarige, wat kontrakteurswerk vir ’n motormaatskappy doen, glimlag nog oor iets wat haar kollega pas gesê het toe sy die foon teen haar oor druk. Dan verdwyn die glimlag van haar gesig en haar bruin oë skiet vol trane.

Dit gaan nie goed nie

“Jy moet nóú hospitaal toe kom. Dit gaan nie goed met jou aanstaande nie,” sê die stem van ’n personeellid van die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg, waar haar verloofde, Johan van Wyk, al weke lank met sepsis lê.

Sy hardloop na haar motor en jaag eers na Hartbeespoort om ’n vriendin en Johan se oudste seun op te laai en hulle saam na die hospitaal te neem.

Met haar hande vreesbevange om die stuurwiel geklem herleef sy weer die gebeure van die afgelope agt maande: die traumatiese plaasaanval by Lanseria verlede November toe Johan (41) nege keer geskiet is terwyl sy, die jongste van haar twee kinders (6, die ander een is 12) en Johan se drie kinders (19, 13 en 12) geskok toekyk.

Sy en Johan was besig om hul troue te beplan toe die vier rowers op die stoep inbars . . . 

Hoe hy sy skietwonde oorleef het en hulle toe die troudatum aangeskuif het na 15 Desember – maar toe nogmaals moes uitstel omdat hy weer weens komplikasies moes terug hospitaal toe. Weer en weer is hulle deur dié beproewing. Drie keer altesaam.

Hul jongste troudatum is oor net 10 dae, dink sy terwyl sy ry. En nou dié oproep . . . 

“Here, asseblief, ek wil net koebaai sê; ek wil net betyds wees om hom een laaste keer vas te hou,” bid sy hardop. Dan bel die hospitaal weer: “Hoe ver is jy? Dit gaan nie goed nie.”

Vyftien minute later hardloop Hanli by die hospitaal in. Maar op die dokter wat haar inwag se gesig sien sy dis verby. Johan is dood aan ’n hartaanval.

Nou is sy gebroke oor die dood van haar geliefde.
Nou is sy gebroke oor die dood van haar geliefde. Foto: Luba Lesolle

Dis net twee dae ná Johan se dood dat ons met Hanli gesels. Haar wit trourok hang steeds in die kas by die trouvenue, vertel sy bedroef – gereed vir die bruilof wat nooit sal plaasvind nie.

“Ek is kwaad, bitter kwaad. Maar ek is ook verlig, want hy was in soveel pyn. Hy het lank nie meer gelyk soos die man vir wie ek lief was nie,” sê sy.

“Maar nou is hy weg vir altyd. En ek sal nooit sy bruid wees nie.”

Dit was die donkerste dag van haar lewe, sê Hanli oor die plaasaanval op 11 November wat Johan se lewe sewe maande later sou eis.

Ek het dadelik geweet ek sou lank vir hom lief wees. Hy was die man vir wie ek God gevra het.

Die huis hier op ’n landgoed in Hartbeespoort waarheen hulle ná die aanval getrek het, is karig gemeubileer. Sy kon nog nie aandag daaraan gee nie, maak Hanli verskoning. Sy was te besig om Johan, ’n hoenderplaasbestuurder, by te staan tydens die herhaalde komplikasies weens sy skietwonde.

“Ons het maar ses maande voor die aanval deur ons kinders ontmoet,” vertel sy.

“Maar ek het dadelik geweet ek sou lank vir hom lief wees. Hy was die man vir wie ek God gevra het.”

Die aanval speel nog daagliks soos ’n rillerfliek in haar gedagtes af.

“Ek en my dogtertjie het vroeër daardie dag roosblare op die buurplaas gaan pluk. Ons sou dit vir konfetti gebruik. Ons was so gelukkig,” sê sy bewoë.

“Dit was net ná 19:30. Ek en Johan het op die stoep sit en kuier toe die hond skielik blaf. Toe ek hek toe kyk, sien ek vier mans met balaklawas op.

“Ek het geskrik en gesê: ‘Hier’s moeilikheid.’ Maar toe reën die koeëls sonder waarskuwing. Jy val neer op die grond en jy wonder: Is dit ons einde? Is dít hoe ons gaan sterf?

“Die volgende oomblik hoor ek ‘oe!’ en Johan sak inmekaar. Bloed het in strome uit hom gespuit. Ek wou hom help, maar toe is die aanvallers al op die stoep. Hulle het my met die geweer teen die kop gekap; my gevra vir waardevolle goed.

Hoekom wil jy met ’n dooie man trou?

“Al die kinders was binne. Toe druk hulle ’n geweer teen my nek en dwing my die huis in – dit terwyl ek nie weet of ­Johan leef of dood is nie.”

Die aanvallers het televisiestelle, fone en juweliersware gevat.

“Hulle het my gevra wat op die tafel staan en na die tafelversierings gewys. Toe ek vir hulle sê dis vir ons troue, het hulle Johan geskop en laggend gesê: ‘Hoekom wil jy met ’n dooie man trou?’ ”

Toe vlug hulle, en ­Johan se seuns ontbied die plaaslike buurtwag.

“Ons almal – ek, my ma en die kinders – sit in die gang tussen twee mure terwyl Johan bewusteloos is. Ons weet hy moet by ’n hospitaal kom, maar jy is so vrek bang om uit te gaan.”

Johan is na die Life Fourways-hospitaal geneem waar hy gestabiliseer is. Daarna is hy na Helen Joseph oorgeplaas.

Die gesin het Johan byna daagliks in die Helen Jos
Die gesin het Johan byna daagliks in die Helen Joseph-hospitaal in Auckland Park besoek. Foto verskaf

Ná ’n maand is hy ontslaan en hulle het beplan om op 15 Desember te trou. Maar toe kry hy sepsis.

“Ons was stukkend; ons kon dit nie glo nie . . . Ons moes ons troue tot Junie uitstel. Dokters het gesê ’n lang pad lê nou voor. Maar ons het geen idee gehad wat op ons gewag het nie.”

Johan moes lank bedrus kry, maar het geleidelik weer aangesterk.

Ek het God om sy lewe gesmeek en tot die dag van sy dood geglo hy sal bly leef.

“Alles het so goed verloop; hy was weer positief. Dit het hom goed laat voel om weer vir sy mense te kan sorg – hy was moeg daarvoor om siek te wees.”

In Mei vanjaar kon hy weer begin werk. Maar op 11 Junie – dae voor hul nuwe ­troudatum op 15 Junie – het die sepsis weer opgevlam. ’n Derde keer moes hulle ’n troudatum vasstel: Dié keer sou hulle eindelik op 6 Julie afhaak.

“Die gemeenskap hier was besig om als te reël vir die nuwe troudag,” vertel haar vriendin Daleen Taylor.

“Iemand sou haar hare doen; iemand anders haar naels; die koek; die venue . . . Maar daar lê Johan toe in ’n geïnduseerde koma.”

Deur haar snikke vertel Hanli: “Ek het sy stem laas op 14 Junie gehoor. Ek het gesien hoe hy elke dag agteruitgaan. Ek het God om sy lewe gesmeek en tot die dag van sy dood geglo hy sal bly leef.

“Johan was nie een dag kwaad of bitter nie. Hy het gereeld vir mense vertel hoe ek sy lewe op die plaas gered het. Maar ek het nie. Nie daai dag nie, en nie op 25 Junie toe ’n hartaanval hom kom steel het nie.”

Ná die wrede plaasaanval het sy en Johan aande om gedroom van ’n “dood­normale lewe”, vertel Hanli hartseer.

In plaas van dae aftel tot hul bruilof moet Hanli
In plaas van dae aftel tot hul bruilof moet Hanli nou gereedmaak vir Johan se begrafnis. Haar vriendin Daleen Taylor (54) is vir haar ’n rots in die moeilike tyd. Foto: Luba Lesolle

“Ons het nie ­drome soos in die movies gehad nie. Ons wou net weer ’n gesin wees. Almal bymekaar.”

Maar nou is daardie droom vir altyd vernietig en sy weet nie waarheen nie. Sy sal dalk binnekort agter die veiligheidshekke van die landgoed moet wegtrek.

Laaste woorde

“Ons het niks oor nie. Die mediese uitgawes het ons bankrot gelaat. Al waarop ek kan hoop, is dat die Here vir ’n uitweg sal sorg.”

In plaas van ’n bruilof maak sy nou gereed vir Johan se begrafnis by die Kuierkerk op Hartbeespoort. Net een ding bring troos: Johan se laaste woorde op 14 Junie.

“Hy het gesê hy is lief vir my – nee, baie lief. En toe is hy weg; sy stem altyd stil.

“Nou moet ek vir altyd koebaai sê. Dis die pynlikste ding ooit. Jy wil huil en skree; jy wil opkrul en van almal wegkruip. Jy wens jy kon hardloop, maar die pyn sal oral volg.

“En al wat jy kan doen, is om te glo God het ’n groter plan.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.