Toe haar redders haar kry, was daar traanspore oor haar gesiggie. Sy het toe reeds twee dae alleen in die veld by haar dooie ma gewaak.

Dié getraumatiseerde diertjie het waarskynlik als gesien en beleef: die knal van die geweerskoot, die reuk van haar ma se bloed en die stemme van die stropers wat haar ma se horing uit die skedel kap en saag om dit aan ’n smokkelsindikaat te verkoop.

Die treurgeluide van die renosterkalfie, wat nou as Lotti bekendstaan, het kykers wêreldwyd op die TV-nuuskanaal Sky News aan die hart gegryp en weer die afgryslike wreedheid van renosterstropery in die kollig geplaas.

Lotti se verhaal kon maklik daar langs haar ma geëindig het. Sy was al twee dae sonder melk en het onder geweldige stres verkeer. Maar danksy haar weldoeners van die renosterweeshuis buite Mookgophong in Limpopo is Lotti vandag – ses maande later – spekvet en gesond.

Ons kyk toe hoe sy op en af in die speelkamp hardloop saam met nog ’n witrenosterkalfie, Lolli (10 maande). Dan skuur dié twee hul koppe liefderik teen mekaar voor hulle in ’n sonkol gaan lê.

“Elke jong renoster by ons sentrum het ’n hartseer storie,” vertel Arrie van Deventer, stigter van dié rehabilitasiesentrum.

Hy wys na Thula, wat deur ’n stroper se koeël verblind is. Die letsel aan Thula se rug is gelaat deur dieselfde koeël wat sy ma doodgemaak het.

Die twee boesemmaatjies Lolli en Lotti stap sy aan sy in die speelkamp.

Maar dis ook ’n plek van gelukkige eindes waar wesies soos Lotti en Lolli gerehabiliteer word met die doel om hulle weer in die natuur vry te laat – hetsy in ’n reservaat of op ’n privaat wildplaas.

En dis ’n allerbelangrike liefdestaak. Want die vraag na onwettige renosterhorings in dele van Asië en die Midde-Ooste, waar dit vir onder meer kwakmedisynes en tradisionele dolk-handvatsels gebruik word, is klaarblyklik onversadigbaar.

Volgens ons minister van omgewingsake, Edna Molewa, is sowat 1 028 renosters in 2017 in Suid-Afrika gestroop.

“Een mens en een organisasie sal nooit dié oorlog wen nie,” sê Arrie.

Maar vir hom en sy helpers is elke kalfie wat hulle red ’n belangrike oorwinning.

“Die renosters moet voorberei word om weer vry te kan leef en te teel. So kan elke dier weer bydra tot die voortbestaan van hul spesie.”

Veiligheidswagte met honde patrolleer die rehabilitasiesentrum. Hulle is die renosters se “lyfwagte”, verduidelik Arrie.

Hy wil om veiligheidsredes nie vertel hoeveel renosterkalfies hier versorg word nie. Maar hulle word nooit alleen gelaat nie, sê hy.

Arrie bedryf die sentrum nou al ses jaar lank met behulp van geldskenkings wat onder meer die salarisse van permanente werkers, voer en ander noodsaaklikhede betaal. Verder maak hy op vrywilligers staat.

En hulle versorg nie net renosters nie.

Dis vir hom moeilik om nee te sê wanneer hy ’n oproep kry oor enige babadier wat hulp benodig. Hier is ook nou ’n swartwitpenskalfie, ’n sebra, perde en twee buffels.

“Ons het al alles van ’n baba-nagaap tot ’n baba-olifant gehad,” sê Arrie.

Dan is dit etenstyd. Ons stap tussen die kampe deur en hoor hoe die renosterkalfies met steungeluide vir melk roep.

Hulle is nes kinders en gooi vloermoere as hulle nie hul sin kry nie.

Toe hulle Zanré van Jaarsveld, een van drie “huismoeders” wat die wesies versorg, met haar arms vol melkbottels gewaar, kom die kalfies opgewonde nader gedraf. Dan heers ’n tevrede stilte terwyl elkeen aan ’n 2 L-koeldrankbottel suig.

Binne enkele minute is die bottels leeg en smeek die renosters vir nog.

“Hulle is nes kinders en gooi vloermoere as hulle nie hul sin kry nie,” lag Zanré.

“Ons noem dit milk rage.”

Sy vertel die kalfies word ’n spesiale mengsel van vetvrye melk, bruinrys en ander aanvullings gevoer. Hoeveelhede hang van die dier se ouderdom en gewig af.

Die huismoeder Zanré van Jaarsveld (agter) en ’n vrywilliger, Tiana Lazo, tydens die weesrenosters Lolli en Lotti se voertyd by die renosterweeshuis.

Zanré werk al langer as ’n jaar voltyds by die sentrum. Vier buitelandse vrywilligers is ook nou hier.

Ons word gewaarsku om nie aan die renosters te vat terwyl hulle eet nie. Hulle is bang vir vreemde mense. En hoe makker hulle word, hoe moeiliker sal dit wees om hulle eendag weer as wilde renosters in die natuur vry te laat; daarom is die rehabilitasiesentrum glad nie oop vir die publiek nie.

Renosters wat suksesvol gerehabiliteer word, sal op die ouderdom van vier tot vyf jaar in die natuur vrygelaat word.

Arrie en sy vrou, Marietjie, was reeds ervare wildtelers toe Arrie se werk met renosters sowat ses jaar gelede met ’n telefoonoproep van sy buurman begin het.

Die stigter van die renosterweeshuis, ­Arrie van Deventer.

Dié het vertel van ’n verwilderde renosterkalfie op sy plaas nadat die ma deur stropers gejag is.

Arrie het toe begin rondbel op soek na iemand om die kalfie te red, maar kon niemand kry nie. Toe gaan vang hy self die kalfie en maak dit in sy huis groot – en so het sy liefdeswerk begin.

Die rehabilitasiesentrum het op dreef gekom namate hy die nodige borge kon kry, want hy het nie self die geld daarvoor gehad nie.

Roetine is baie belangrik. Voedingstyd is elke drie uur. En smiddae om vieruur gaan stap die kalfies in die veld saam met hul onderskeie huismoeders – altyd onder die wakende oog van die wagte.

Die huismoeder word die renoster se nuwe ma.

Ná die uitstappie is dit tyd vir die dag se laaste voeding, waarna hulle na hul slaapvertrekke gaan, steeds deur die  wagte vergesel.

Arrie verduidelik die renosters se versorgers (met die uitsondering van die wagte) is almal vroue, “want vroue het ’n natuurlike moedersinstink. Die huismoeder word die renoster se nuwe ma.”

Hy verduidelik elkeen van die renosters het hul eie persoonlikheid en is super-intelligent. Die huismoeders en vrywilligers moet uiters passievol wees, “want dis ongelooflik harde werk – hulle moet, nes babas, 24 uur per dag versorg word”.

Die hartseer ding vir Arrie is hoe gereeld hulle nuwe renosterwesies inkry.

“Party is maar net ’n dag oud.”

En nie al die renosters sal eindelik weer in die natuur vrygelaat kan word nie.

Thula, nou 22 maande oud, sal byvoorbeeld haar lewe in die sentrum slyt.

Sy was maar ure oud toe haar ma doodgeskiet en sy gewond is.

Sy het een oog verloor en het geen sig in die ander oog nie weens ’n koeëlwond. Maar vir Arrie is dit nogtans ’n wonderwerk dat sy oorleef het. Op die operasietafel het sy vir ’n wyle ophou asemhaal, vertel hy. Sy was maar ure oud toe haar ma doodgeskiet en sy gewond is.

Langs Thula lê haar “oë”, Nenkani. Hy wyk nie ’n oomblik van Thula nie en sal ook sy lewe hier deurbring.

“Dit is soos ’n gereëlde huwelik dié,” skerts Arrie.

Die blinde Thula en haar kêrel wat haar oppas, Nenkani, ontspan heerlik in die wintermiddag­sonnetjie.

Ons stap terug na waar Lotti en Lolli in die speelkamp baljaar. Zanré maak met haar mond geluide en hardloop van die een hoek van die kamp na die ander met die twee kalfies agterna.

“Sy praat renoster met hulle,” dryf Arrie die spot met Zanré.

Dan kom hulle teen haar skuur vir ’n lekker lieskrap. Hulle strek een agterbeen behaaglik uit terwyl hulle gekrap word, knyp hul oë toe en val op hul sy neer.

Vir dié twee is daar wel hoop dat hulle eendag vry in die natuur sal kan rondbeweeg en tot die aanwas van hul spesie bydra – danksy die liefdeswerk van mense soos Arrie en Zanré wat dag en nag om hul voortbestaan veg. Een renosterkalfie op ’n slag.

FOTO'S: FANI MAHUNTSI