Die hond, wie se eienaar kort tevore oorlede is, het geduldig sit en wag vir hom om terug te keer na sy hospitaalbed.

“Moose het geduldig langs sy pappa se hospitaalbed sit en wag vir hom om terug te keer, onbewus dat ‘pappa' dood is,” het die diereskuiling by die foto op Facebook geskryf.

Die inskrywing het verder gesê dat die driejarige hond die dood van sy eienaar baie moeilik hanteer.

Volgens Fox News soek die skuiling nou na ’n nuwe tuiste vir Moose.

“Help asseblief vir Moose om ’n nuwe huis te kry en ’n familie wat lief sal wees vir hom. Hy is ’n gelukkige hondjie wat net mense nodig het om sy gebroke hart te help regmaak.”

“Hy is  drie jaar oue labradorkruising wat goed opgelei is, is mal oor kinders, baie neutraal met ander honde maar moet liefs nie tussen katte en voëls gesit word nie. Maar, jissie, hy is darem lief vir mense!”

“Moose sal floreer in ’n huis waar hy nie heeldag alleen sal wees nie, want hy sal darem net te veel na sy mense verlang.”

Sedert die inskrywing gedeel is, het die skuiling verskeie aansoeke gekry van mense wat die oulike brakkie wil aanneem, sê Mirror News.

“Danksy die krag van sosiale media, het Moose vreeslik baie aansoeke ontvang, en ons hoop dat hy binnekort ’n huis sal vind waar hy vir ewig kan woon! Dankie vir almal se omgee en die verspreiding van die storie!”

Bronne: Facebook, Fox News, Mirror News