Boodskappe van medelye het op sosiale media ingestroom ná die hartseer nuus van Darius se dood bekendgemaak is.?

Huisgenoot.com het verlede jaar November berig die oud-Springbok en geliefde emeritus-predikant se maagkanker het weer opgevlam.

 Die Blou Bul Rugby Trust het die hartseer nuus op hul Facebook-blad bekendgemaak.

“Goeie more. Dis met hartseer dat ons meedeel dat Darius Botha vanoggend oorlede is. Ons meegevoel en gebede met die Botha familie”.

“My simpatie aan Naas en die Botha familie en vriende, met Darius se afsterwe. Mag die Almagtige God julle troos en in Sy groot hand hou. Mooi loop Darius,” het die rugbykommentator Kobus Wiese op sy Twitter-blad geskryf, met biddende handjies daarby.

Kanker is sowat drie jaar gelede reeds by Darius gediagnoseer. Hy het destyds ’n operasie ondergaan waarin sy maag, die kliere wat geraak is en ’n deel van sy pankreas verwyder is.

“Hartseernuus om te verneem dat my eertydse kollega in die SA Polisie Kapelaansdiens, Darius Botha, vanoggend oorlede is. Met sy lewensblyheid, sin vir humor en geloof het hy baie van ons bemoedig en inspireer.

“Ek het die voorreg gehad om saam met hom en my kollega in die Wellington Moedergemeente, Bennie J van Rensburg, te kuier toe hy onlangs hier oor sy pad met kanker gepreek het. Soli Deo Gloria,” het Eric Bernardo op sy Facebook-blad geskryf.

Darius in aksie op die veld. Foto: Galle Images/Getty Images.

Darius het verlede jaar November aan Huisgenoot.com gesê die kanker was ná die operasie en behandeling in remissie, maar “dat dit nou weer ’n oplewing maak”.

Hy het toe gesê dat hy nie weer behandeling ondergaan nie en “dit dag vir dag vat”.

Sy tweelingkinders is albei aan kanker dood. Carine is in 1993 op 6 jaar oud dood en Tobie in 2005, toe hy 18 jaar oud was.