Vanjaar ry die Brinks van Pretoria weer dieselfde pad deur die Vrystaat wanneer hulle met vakansie gaan; die pad waar hul lewe twee jaar gelede in ’n oogwink verander het.

Anderkant Theunissen sal pa Danie stop of stadiger ry.

Daar is ’n kruis langs die pad – dis op die plek geplant waar klein André (toe 13) en Rachel (toe 8) gesterf het toe die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand en sy gesin kort ná negeuur die oggend op 16 Desember 2016 op pad na Kaap St. Francis in die Suid-Kaap in ’n ongeluk was.

“Daar is maar altyd trane, maar dis menslik . . . Ons weet ons lewe het op daardie plek onherroeplik verander,” sê Danie aan Huisgenoot.

“Tog wil ons niks spesifieks met die plek verbind nie. Ons kinders is nie daar nie. Daar is ’n kruis – en ons wil altyd onthou waar dit gebeur het – maar ons kinders is in die hemel.”

Danie se vrou, Lise, is ernstig beseer in die ongeluk waarin die oudste seun en jongste dogter van hul vyf kinders oorlede is. Sy was weke lank in ’n koma in ’n hospitaal in Pretoria en haar linkerbeen moes geamputeer word.

Danie en die ouerpaar se ander kinders, Mieke (17), Johann (11) en Daniël (4), het ligte beserings opgedoen, maar moes maande lank sonder Lise tuis die groot verlies van hul geliefde André en Rachel verwerk.

Lise kon eers in Februarie 2017 weer tuis by die gesin aansluit, en hoewel die Brinks se seer nog vlak sit, moes hulle mettertyd vrede maak en aanpas by hul lewe ná die ongeluk.

Kerstyd sit die onthou van die verlies weer vlak, vertel Danie. “Die knop in ’n mens se keel raak oor Kersfees groter.

Die hartseer sit vlakker as op ander dae. Maar ons troos mekaar deur te sê elke jaar is nog ’n treetjie nader daaraan om ons kinders weer te sien.”

Soos soveel ander mense wat op Kersdag gemengde gevoelens ervaar, erken hy met rou eerlikheid: “Ons gaan Kersfees nes voorheen vier en fokus op die groot geskenk: Jesus. Ons sal stil-stil elkeen opnuut dankbaar wees dat ons kinders by God is, maar op so ’n dag fokus ons op die vreugde van ons kinders wat ons nog by ons het. Ons wil nie net treur nie.”

Hier skryf Danie oor die pad wat hy en sy gesin ná die ongeluk moes stap en oor sy gevoelens en gedagtes kort voor die Kerstyd presies twee jaar later.

Lise se linkerbeen is ná die ongeluk geamputeer – en al was die herstelpad vol uitdagings, is dit niks vergeleke met die ­geluk wat sy ervaar om vandag saam met haar man en ander kinders te wees nie. Foto: Facebook/Danie Brink

In Danie se eie woorde

Hoe gaan dit met ouers wat kinders aan die dood afgestaan het? Hoe gaan dit ná ses maande, ná twee jaar, ná 10 jaar, ná 30 jaar?

Daar is seker ’n groot variasie van antwoorde op hierdie vraag, en elke ouer se belewenis is anders. Vir ons as ouers van André en Rachel wat nou twee jaar gelede oorlede is, is ’n paar dinge tans waar: Hierdie “pakkie” is draagbaar in die mate waartoe ’n mens ’n perspektief op die ewigheid behou.

Die Bybel is propvol beloftes oor die ewigheid, die aantreklikheid van die hemel en die verdoemendheid van die hel. So wanneer gelowiges in hierdie lewe swaarkry (en ons sál swaarkry), kan ons vashou aan hierdie beloftes en uitsien na ’n ewigheid saam met God met alles wat Hy daarmee saam belowe.

Sonde en die effek daarvan op hierdie aarde is oral om ons.

Die dood van kinders is seker een van die duidelikste, seerste tekens daarvan, maar so ook baie ander dinge – terminale siekte, egskeiding, groot foute deur onsself en ander om ons, finansiële uitdagings en die spanning wat daarmee gepaardgaan, drank-, dwelm- en ander verslawings.

Ons almal het variasies hiervan in die afgelope jaar beleef, en as gevolg van die alwysheid van God kan ons moontlik in 2019 meer hiervan beleef.

As hierdie lewe al is waarvoor ons leef, wag daar grootliks teleurstelling op ons. Dan gaan mot en roes ons ontnugter, verras en moedeloos maak.

Gelukkig is daar ’n wonderlike belofte wat wag op gelowiges, en hieraan sal ons in die nuwe jaar moet vasklou vir lewe en dood. Vir ouers van kinders wat oorlede is, het hierdie lewe die meeste van sy hoogtepunte reeds gelewer.

Deur die genade van die Here het ons as gesin weer goeie tye, maar hierdie goeie tye staan skouer aan skouer met ’n verhoogde verlange na André en Rachel.

“Ons het ’n heerlike tyd, maar dink net hoe lekker sou dit gewees het as Boeta en Lalla ook hier kon wees?” Al wat dan troos, is die wete dat André en Rachel werklik op ’n beter plek is.

Dis dan wanneer ons die waarheid moet bely en ons somme moet maak oor hoe kort hierdie lewe is en hoe lank die hiernamaals. Deur die genade van die Here gaan dit baie goed met Mieke, Johann en Daniël. Ons sien hoe die Here ons kinders daagliks dra en hoe hulle elkeen groei.

Om nou kinders te hê van 17, 11 en 4 jaar oud is vreemd, en ’n mens sou dit dalk nie self so gekies het nie. Maar ons dank God elke dag, want die vreugde wat hulle elkeen op hul eie manier bring, is van onskatbare waarde. Wie weet hoe die ongeluk van 16 Desember 2016 hul lewe vorentoe gaan beïnvloed?

Ons vertrou dat dit positief sal wees en die evangelie ook hierdeur kragtig sal voortrol. In ’n krisis soos die dood van ons kinders is die genadegawe van die plaaslike gemeente onontbeerlik.

Die ondersteuning en gebede van medegelowiges dra ’n mens in tye wanneer jy swak is.

Christusgesentreerde prediking deur ’n prediker wat Jesus en sy eienskappe weekliks vir die gemeente voorhou, is veelvuldig meer werd as enige huisbesoek.

Ons moet ons gesinne aan hierdie genadegawe blootstel; dit is God se manier om seker te maak gelowiges is sy hande en voete op hierdie gebroke aarde. Predikers kan maar gerus wees – preek Christus, en in tye van swaarkry sal jou gemeentelede op jou prediking kan steun.

Daniël (4) kap onlangs sy duim met ’n byl raak, en toe dit ná ’n paar dae duidelik word sy duimnael gaan afval, vra hy my: “Het jy al ooit so ’n probleem gehad?”

Ek dink toe dadelik aan die mooi Afrikaanse uitdrukking: “Daar is nie salf aan te smeer nie” – die gesegde vir ’n probleem wat geen oplossing het nie.

Vir baie gevolge van sonde sal daar ongelukkig op hierdie aarde geen salf aan te smeer wees nie. Die verlange na kinders wat dood is, is gereeld byna ondraaglik.

In hierdie lewe sal tyd so ’n bietjie genees, maar die enigste troos wat werklik troos, is “dat ek aan Jesus Christus behoort”. Met Lise gaan dit goed, veral emosioneel – sy hou vas aan die Here en sy beloftes, en sy is elke dag ’n bietjie-bietjie beter.

Elke dag se opstaan en begin loop met ’n prostese maak ons fisiek bewus van ons afhanklikheid van die Here. Soos Lise self vertel: “Ek het altyd as jong meisie en Christen nie die Heilige Gees se werk op aarde as ‘comforter’ en ‘counsellor’ genoeg waardeer en beleef nie.

Ek wou nooit sy tyd mors om Hom met nietighede te pla nie. Nou kan ek nie anders nie.

En ek besef Hy is so . . . so alwys, kreatief en liefdevol dat Hy mý versoeke en miljoene ander s’n gelyk kan hanteer en beantwoord.

Ek kan nie wag om Hom te mag aanskou nie.

“Ek bid elke dag dat ek dit sal regkry om nie te kerm oor my beenverlies nie. Ek kan getuig dat ek deur God se genade bietjie vir bietjie dankbaarder word. As ek ’n dag lank gemaklik op die prostese kan loop, as ek die kinders kan rondry, as ek takies in die huis kan doen, as ek iewers kan help; dit is maar voorbeelde waarvan ek praat. En as die prostese my seermaak, dink ek aan ons Here Jesus wat as God aan ’n kruis moes hang, so seer moes kry en van sy Vader verwyder moes wees omdat Hy ons liefhet.”

Wat ek ten einde op die hart het: Die slegte nuus is dat hoe sleg dit ook al met jou in hierdie lewe gaan, dit gaan nie naastenby so sleg wees soos wat dit met jou sal gaan as jy hel toe gaan nie.

Die goeie nuus is dat hoe goed dit ook al met jou in hierdie lewe gaan, dit gaan nie naastenby so goed soos wat dit met jou sal gaan as jy hemel toe gaan nie. Hierdie twee stellings maak sin wanneer jy die werklikheid van die ewigheid, die hemel en die hel verreken.

Hierdie lewe is baie kort vergeleke met die ewigheid wat wag – en hy wag vir seker; dit weet elke gelowige.

Gelowiges kan hierdie lewe aanpak, en ons kan hom lei terwyl ons soms ly in dié wete: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet (1 Kor. 2:9).