Die donkerkop pastoorvrou en haar man was twee van die kerkgangers wat twee weke gelede 'n groot kerksaamtrek in Bloemfontein bygewoon het.

Berna Kruger (43) wat op 10 en 11 Maart saam met haar man, past. Henk Kruger (46) van die Light the World Ministries op Hartswater in die Noord-Kaap, die Jerusalem Prayer Breakfast by 'n kerk in Bloemfontein bygewoon het, het Woensdag aan Huisgenoot bevestig sy en Henk is in kwarantyn nadat hulle albei op Vrydag 20 Maart vir COVID-19 getoets het.

Albei se uitslag was positief.

Berna vertel hulle het nie dadelik simptome van die gevreesde siekte ervaar nie.

“Dit het vir my eers net soos ’n tipiese griep gevoel,” het Berna Woensdag vanuit kwarantyn in die gesin se huis op Hartswater gesê.

“Dit gaan nou al beter met my as verlede week! Maar onthou die Here weet alles. Hy is in beheer.”

Past. Henk en Berna Kruger van Hartswater. Foto: F
Past. Henk en Berna Kruger van Hartswater. Foto: Facebook
Past. Henk en Berna Kruger van Hartswater. Foto: F
Past. Henk en Berna Kruger van Hartswater. Foto: Facebook

Berna vertel hulle het die Donderdag 12 Maart teruggekeer huis toe, maar sy het eers teen die Dinsdag 17 Maart begin olik voel.

“Ek het baie erg koors gekry, en ek het baie erg lyfseer gehad.”

Berna sê sy het nooit gedink dit sal COVID-19 wees nie.

“Ek het maar net in die bed gaan klim.”

Berna sê Henk het ook begin siek voel, maar dit was eers toe hulle ’n oproep kry om hulle in te lig dat vyf van die buitelandse sprekers wat by kerksaamtrek gepraat het, positief getoets het vir COVID-19, en dat hulle op Vrydag 20 Maart amptelik getoets en dadelik in kwarantyn geplaas is. Henk is saam met haar getoets, maar sy uitslag het aanvanklik weggeraak. Dit is intussen opgespoor en hulle het Dinsdagaand uitgevind ook hy is positief getoets vir die virus.

Die egpaar se vier tienerdogters is ook getoets, maar hul toetsuitslae is nog nie bekend nie.

“Ons almal toon simptome, maar ons almal is nog oukei.”

Sy vertel teen die Donderdag 19 Maart het haar koors gebreek, maar die afgelope Sondag 22 Maart het die droë hoes-simptome begin.

“Ek het nou net daai pap en lam gevoel. Amper soos met malaria.”

Berna vertel dat sy en Henk sedert hulle van hul blootstelling aan die virus ingelig is, hul volle samewerking aan die departement van gesondheid gegee het.

“Ons het ’n lys gemaak met almal met wie ons in kontak was, en almal is opgevolg en getoets. Almal moet hul samewerking gee.”

Sy vertel ook die kerk waar die saamtrek gehou is, het dadelik verantwoordelik opgetree en uit hul pad gegaan om seker te maak mense word getoets. Die egpaar is baie dankbaar daarvoor.

Moenie die virus vrees nie

“Ons is vol vertroue dat alles oukei sal wees. Meer as 80% van mense herstel volkome. Ek hoor hoe gaan mense tekere oor die virus, maar niemand is so bang vir die ewigheid sonder God nie?

“Ek is nie bang vir die dood nie. Ek sien dit as my ticket reguit na Jesus toe en ek is opgewonde om na Jesus toe te gaan. Dit breek my hart dat mense so bang is vir die siekte, maar nie so bang is vir sonde nie.

“Mense moet banger wees vir die hel. Ek dink hierdie is vir die hele wêreld ’n reality check van die eindtye en dat ons Skepper op pad is. Dit is nou die tyd om dinge met Hom reg te maak.”

Gehaltetyd

Berna se raad vir mense wat oor die land heen van middernag Donderdag in ’n staat van inperking moet tree, is om gehaltetyd met hul gesinne en die Here deur te bring.

“Mense moet die tyd saam met Jesus gebruik en dit gebruik om die Bybel te lees en meer van ons Skepper te leer. Al het hierdie virus nou die land getref, kan niemand ons vrede van ons af wegvat nie.”

Sy glo mense moet ook die tyd met hul gesin geniet en waardeer. “Bestee tyd saam met jou gesin, maak die meeste van hierdie geleentheid. Almal in die huis moet hul fone wegsit."

Minister se dringende beroep

Suid-Afrika se minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, het Woensdagmiddag by ’n mediakonferensie in Pretoria, op almal wat dié geleentheid vandeesmaand by die Divine Restoration Ministeries-bygewoon het, ’n beroep gedoen om dringend met die Vrystaatse departement van gesondheid in kontak te kom om hulself te laat toets.

Hy het spesifiek na die saamtrek verwys en gemaan as mense wat die saamtrek bygewoon het nie aanmeld nie, die departement genoodsaak sal wees om mense se name te publiseer om te verseker dat hulle wel na vore kom om getoets te word.

'n Verteenwoordiger van die kerk het Huisgenoot na die departement vir amptelike kommentaar verwys.

Mondli Mvambi, die woordvoerder vir die gesondheidsdepartement in die Vrystaat, het aan Huisgenoot bevestig op 21 en 22 Maart het altesaam 360 mense na vore gekom wat vir simptome skandeer is. Dit was hoofsaaklik diegene wat by die saamtrek was of kontak gehad het met mense wat daar was. Altesaam 39 mense, wat voorlopige simptome getoon het, is amptelik vir COVID-19 getoets.

"Die doel is nie om die kerk skade te laat ly of te stigmatiseer nie. Die virus kan enige plek en enigiemand nou tref. Ons waardeer al die samewerking wat die kerk tot dusver gegee het. COVID-19 is nie 'n doodsvonnis nie, maar ons het 'n verantwoordelikheid om almal wat daar was of kontak gehad het met mense wat daar was te laat toets. Mense kan by die naaste staatskliniek aan hul huis aanmeld om getoets te word, al wat hulle moet doen is om oop kaarte te speel en bekend te maak dat hulle moontlik in kontak met iemand met die virus was. Ons gaan almal moet saamwerk om te verseker dat die virus nie verder uitkring nie."

Die minister het Woensdag aan die media bevestig dat COVID-19 reeds by twee mense in die Noord-Kaap gediagnoseer is en dat daar 'n verband met die kerksaamtrek in Bloemfontein is. In Bloemfontein is dit reeds by 18 mense gediagnoseer.

Angus Buchan, wat ook op die geleentheid 'n spreker was, het Dinsdag in sy laaste inskrywing op Facebook bevestig dat hy en sy vrou, Jill, Saterdag 21 Maart vir die virus getoets is. Angus het Woensdag bevestig dat hul toetsuitslae ook inderdaad positief is.

Teen Woensdagmiddag was daar reeds altesaam 709 bevestigde gevalle in die land.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.