Die grafiese beeldmateriaal wys hoe ’n gas wat agter die bruidegom staan, iets afvuur wat na ’n vuurwapen lyk. Die bruidegom gryp in ongeloof aan sy borskas, kort voor hy grond toe val.

Foto: Magazine Features
Foto: Magazine Features

Daar is met hom hospitaal toe gejaag waar hy met sy aankoms dood verklaar is.

Die voorval het in Lakhimpur Kheri in Uttar Pradesh, Indië afgespeel terwyl Sunil Verma, wat in sy vroeë 20’s is, die gelukkigste dag van sy lewe gevier het. 

Die polisie sê Sunil se hegte vriend, Ramchandra, het ’n gelisensieerde vuurwapen tydens die vierings afgevuur en twee dwaalkoeëls het hom in die bors getref.

Dis algemeen om vuurwapens tydens vierings en feeste in Indië af te vuur as deel van die feestelikheid. Dit het al talle menselewens geëis. 

Ramchandra het sedert die voorval op die vlug geslaan en die polisie kon nie beslag lê op die wapen waarmee die koeëls afgevuur het nie. 

Daar is nou ’n ondersoek na die voorval en die polisie het Ramchandra van moord aangekla. Ghanshyam Chaurasia, senior polisiebeampte, sê hulle ondersoek ook ander hoeke wat met sy dood verband hou.

“Die bruidegom is dood weens ’n feestelike afvuring, maar ons ondersoek ook ander moontlikhede.”

’n Man, Deepak Kumar, is in Februarie vanjaar in die Indiese hoofstad in ’n soortgelyke voorval dood.