Dit was op 16 Desember 2017 op ’n afgeleë dorpie in die genadelose agterveld van die Noordelike Gebied in Australië.

Maar tot vandag toe bly die verdwyning van Paddy en Kellie, 'n Australiese skaaphond, 'n gis- én twispunt op Larrimah, ’n stowwerige dorpie met (nou) net 11 inwoners, ’n hotel en ’n teekamer. Terloops, net drie van die 11 inwoners is vroue.  

Terwyl meer inwoners moontlik iets van Paddy se verdwyning weet, word die vinger na veral drie moontlike verdagtes gewys: die hoteleienaar, tuinier en eienares van die teekamer.

Van eensgesindheid is veral deesdae min ter sprake.

Die hoteleienaar

Barry Sharpe (76) is die eienaar van die Pink Panther, die watergat waar Paddy soos klokslag elke dag sy agt biere kom wegslaan het. Barry sê hy het eers besef daar’s fout toe Paddy nie die Sondagoggend vir “kerk” by die kroeg aanmeld nie.

“Kerk” is wanneer die inwoners gewoonlik Sondae in die voorkamer van die Pink Panther byeenkom om saam die aktualiteitsprogram Landline op die kassie te kyk.

Barry versamel eksotiese diere en slange. En dan het hy vir Sam, ’n soutwaterkrokodil . . . 

Die teekamer-eienares

Fran Hodgetts (75) besit Fran’s Devonshire Tea House, die mees afgeleë Devonshire-teekamer ter wêreld, waar handgeskrewe advertensieborde beloftes van varsgebakte broodrolle, appeltert, poffertjies, mangostrüdel en ’n verskeidenheid pasteie maak.  

Een van die getuies, Maurice Darby, het beweer Fran het Paddy verag. En hy haar.

Bobby Roth, wat al 19 jaar op Larrimah bly en in ’n stadium die skottelgoed vir Fran gewas het, het in trane in die hof getuig “Fran het gereeld gesê sy gaan nog eendag vir Paddy doodmaak.”


Maar Fran het glo dieselfde dreigement gemaak teen haar eksman, William (oftewel Bill onder die inwoners), wat nou in ’n woonwa langs die Pink Panther-hotel woon.

Daar was glo deurentyd ’n kwasterigheid tussen Fran en Paddy. Sy het hom vir talle klein dingetjies blameer en hy het haar glo op allerhande onaangename maniere verpes.

Hy was byvoorbeeld woedend wanneer Fran se klante op sy eiendom parkeer. Uit weerwraak het hy haar klante gewaarsku om liefs nie haar geregte te beproef nie, want niks is tuisgemaak óf vars nie. Die ergste belediging was glo dat selfs sy hond, Kellie, nie haar pasteie wou eet nie.

Fran het in Junie vanjaar in die landdroshof op Katherine in die Noordelike Gebied getuig die afgelope 10 jaar met Paddy in die omgewing het vir haar gevoel soos “hel toe en terug”.

Hy het glo haar klante verwilder, van haar gesteel en haar eiendom beskadig. Hy het haar getreiter en haar gereeld “die bosvark” genoem. Fran het in ’n stadium ’n beskermingsbevel teen hom aangevra, maar die plaaslike hof het haar aansoek verwerp.

Vier dae voor sy geheimsinnige verdwyning het hy glo ’n dooie kangaroe op haar stoep gelos. Fran hou vol sy het absoluut niks met Paddy se verdwyning uit te waai nie.

“Ek is deurtrek met artritis. Kan jy jou indink dat ek ’n liggaam en ’n hond kan ronddra?”

Paddy en sy skaduwee, Kellie. Foto: Vimeo-skermgreep (Lucy Marks).

Die tuinier

Haar tuinier, Owen Laurie (71), en Paddy het glo drie dae voor sy verdwyning ook ’n reusebekgeveg gehad oor Kellie se onophoudelike geblaf voor die teekamer. Owen het glo ook in ’n stadium gesê wanneer iemand aan sy plante raak, sal dit "tot die eerste moord op Larrimah lei".


Owen het tydens sy getuienis die konfrontasie ontken, maar terselfdertyd erken hy het ’n slegte humeur. Daarna het hy weer die hof se aandag gevestig op die laaste plek waar Paddy gesien is: die Pink Panther-hotel.

Bejaardes

Lucy Marks, ’n ABC-nuusverslaggewer van Darwin, sê ’n uitgebreide soektog van sewe maande na Paddy en sy hond het net mooi niks opgelewer nie en die polisie vermoed hy is dood. Maar daar is geen absolute bevinding of hy bloot net dood of dalk vermoor is nie.

Sy beskryf die gemeenskap van Larrimah as oorwegend bejaard en hoop dat die meeste van hulle wel nog die uiteinde van Paddy se raaiselagtige verdwyning sal hoor.

Larrimah

“Sekere goed kan net op Larrimah gebeur,” is hoe Kylie Stevenson die dorp sowat 428 km suidoos van Darwin beskryf. Moeilik om te glo dat daar in ’n stadium 3 000 mense op dié verlate stukkie grond gewoon het.

Toe Andrew McMillan, ’n bekende Australiese skrywer in 2012 oorlede is, is hy op Larrimah begrawe. Maar tipies van die Australiërs, was dit nie ’n begrafnis in die konvensionele sin van die woord nie.

Sy tikmasjiene is saam met hom begrawe en Ann Kanters, ’n inwoner van die dorpie, het ’n gedeelte van die begrafnisrede gevoer en afgesluit met: “Ons wens hom alles van die beste toe - daar bo iewers.”

Dronk agter die stuur is nie ongewoon nie, maar dronkbestuur van ’n trein is 'n eerste. Dit het oor die Kerstyd in 1999 hier gebeur.

O, en dan is daar is die lokomotief van sowat R1,77 miljoen wat spoorloos verdwyn het. Die geel diesellokomotief was een van Larrimah se toeriste-aantreklikhede.

Ben Roth, ’n oudinwoner van die dorp, beweer sy oupa Karl Rogh het gereël dat die lokomotief aan Pine Creek of Adelaide River, noord van Larrimah, oorhandig word omdat albei dorpe ’n treinmuseum begin het.

“Dit het net hier sit en wegroes,” het Ben oor sy oupa se omstrede besluit gesê. Maar dit het net tot meer onmin op die dorp gelei.

Terloops, terwyl daar genoeg te ete en drinke is vir die inwoners en verbygaande toeriste, is daar nie ’n enkele druppel brandstof op die dorp nie. Die vulstasie het in 2009 afgebrand en nou moet inwoners 76 km na Mataranka of 100 km na Daly Waters aflê om hul voertuie se tenk vol te maak.

Tot meer oor Paddy en Kellie bekend word, kan met sekerheid gesê word: die onmin, gissings en vingerwysings gaan nie verdwyn nie. Die kwasterige inwoners van die dorpie sal net weer iets anders vind om met mekaar te baklei.

Bronne: irishcentral.com, itunes.apple.com, nytimes.com, theaustralian.com, katherinetimes.com.au