Dean en Coenraad (Coena) Smith (69) was besig om wild te jaag op Dean se plaas naby Alldays in Limpopo. 

Coena is oorlede in die ongeluk en Dean is verlede Vrydag uit die hospitaal ontslaan. Dean het sy rug gebreek en sy regterhand se kneukels is vergruis in die ongeluk wat op 30 Julie gebeur het. 

Dean vertel aan Huisgenoot dat hy en Coena besig was om elande aan te jaag toe hulle ’n vreemde vibrasie in die enjin hoor. 

“Coena het gedink die enjin kry dalk nie genoeg petrol nie en die volgende oomblik toe begin ons in die rondte spin,” sê hy. 

Dean, wat self ’n helikoptervlieënier is, sê hy vermoed die stertskroef van die helikopter het gaan staan. 

“Ek is by die voorruit uitgegooi, want my veiligheidsgordel het gebreek. Ek word toe wakker op my maag in die gras en hoor ’n vuur wat brand,” sê hy. 

Dean het met sy gebreekte rug na Coena gestrompel en hom uit die brandende helikopter gehaal. Coena was toe nog lewend, maar het gekla van pyn in sy bors. Hy is later in die hospitaal oorlede. 

“Ek het toe my bewussyn verloor en wakker geword toe my mense my na ’n hospitaal jaag.”

Dean is oorgeplaas na die Little Company of Mary-hospitaal in Pretoria. Hy het ’n operasie aan sy rug en hand ondergaan.

 “Ek kan weer loop. Elke dag word ek beter,” sê hy.

Foto: Verskaf
Die uitgebrande helikopter. Foto: Verskaf

Dean sê die ongeluk spook nog by hom. 

“Die ongeluk speel oor en oor in my kop. Ek was Maandag vir die eerste keer by die ongelukstoneel. Ek weet nie hoe ek nog leef nie. As die helikopter 'n bietjie na links of regs geval het, was dit in die lang, droë gras en sou alles vinniger vlam gevat het. As my gordel nie gebreek het nie, sou ek dalk my bewussyn verloor het. Ek is baie dankbaar ek leef.”

Dean sê hy het gereeld saam met Coena gewerk en hy gaan baie gemis word.  

Coena is voorheen deur die Nasionale Seereddingsinstituut vereer nadat hy 11 mense gered het wat in die Mokolorivier vasgekeer was.

Foto: Facebook
Coena Smith se roudiens is verlede week gehou.