Dit was van die ontstellendste woorde wat sy al moes hoor: “Ek is jammer om dit te sê, mevrou, maar jou seun is ’n psigopaat.”

Kon dit eindelik ’n verklaring wees vir al die trane wat sy die laaste jare oor haar seun se skokkende gedrag moes stort?

Die psigiater het bygevoeg: “Hy’s ’n kompulsiewe leuenaar, meestermanipuleerder, en hy kan nie emosies ervaar nie.” Sonika*, ’n Gautengse ma in haar 40’s, kon dié skokwoorde skaars verwerk.

Sy het haar tot papier gewend om daarvan te probeer sin maak en haar noodkreet in ’n brief aan Huisgenoot gestuur. “Ek het dae aaneen gehuil,” skryf sy in dié brief.

“Hoe en waar het dinge skeefgeloop? Wat doen ek die dag as ek die oproep kry wat elke ouer vrees – daardie oproep wat sê watter gruwelike misdaad my kind gepleeg het?”

Dis ’n maand nadat die dokter by die psigiatriese kliniek sy diagnose met haar gedeel het toe Sonika die voordeur van haar gesin se huis aan die buitewyke van Johannesburg oopmaak.

Sy is getroud; ’n gewone werkende ma van twee seuns. Haar probleemkind, Jayden*, is nie vandag tuis nie. Hy is in sy laat tienerjare – oud genoeg om self te kom en gaan.

Verslae vertel Sonika sy het rede om die oproep te vrees wat sy in haar brief aan Huisgenoot beskryf het. Uit ervaring weet sy hoe gewelddadig haar oudste kan raak.

“Hy’t my al met ’n mes gedreig en in ’n emosielose stem gesê: ‘Vir jou steek ek vrek’ – net omdat ek hom gevra het om sy kamer op te ruim.”

Uit vrees het Sonika en haar man, Michael*, selfs ’n veiligheidshek voor hul slaapkamerdeur laat oprig. Of haar kind werklik ’n psigopaat is of nie, kon Huisgenoot nie bevestig nie; hy het in sy lewe al baie ontberings beleef, en dis moontlik dat dít eerder ’n bepalende invloed op hom uitgeoefen het.

Jayden manipuleer glo ander sodat hulle moet dink sy gedrag is sy ouers se skuld. Foto: Verskaf

Maar Sonika leef die verskriklike werklikheid van soveel ma’s wie se kinders hul lewensvreugde verwoes, en sy moet probeer aanvaar dat daar dalk nie uitkoms is nie.

Verlede jaar het die wanhoop oor haar seun se gedragsprobleme haar so erg ondergekry dat sy ’n oordosis van haar voorgeskrewe antidepressante gedrink het.

Sy het gevoel sy kan net nie meer nie. Sonika het oorleef, maar haar donker gedagtes oor haar kind wil nie wyk nie.

“Ek bid dat dit sal regkom, maar wanneer hy aggressief is en ons lewe omverwerp sonder om ’n tikkie berou te toon, wens ek hy was liewer dood,” erken sy. Sy kyk verslae na haar hande.

“Ek is lief vir hom, maar soms wens ek hy wil net rustig doodgaan . . .”

Sy onthou die klein bondeltjie, styf in ’n kombers toegewikkel. ’n Gesonde baba, dié blondekopseuntjie waarvoor sy gewag en gebid het nadat haar eerste baba vroeër doodgebore is, vertel Sonika.

Jayden was nog klein toe Sonika van sy pa geskei is. Sy en haar tweede man, Michael*, het saam ’n seun, David*. Terwyl David se ma oor sy moeilike ouboet gesels, luister hy aandagtig.

Toe sy hom vra om vir haar koffie te maak, doen hy dit pligsgetrou – ’n troosgebaar teenoor sy ma wat soveel seer ervaar. Sonika erken Jayden het ’n traumatiese pad gestap voor die diagnose wat haar so geruk het.

Hy is as kind by sy kleuterskool mishandel en later in sy lewe ook glo deur ’n nabye familielid.

Toe hy klein was, is aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS) by hom gediagnoseer, en in die jare daarna moes Sonika keer op keer in ’n hoof se kantoor hoor hoe haar kind klasse ontwrig, sy onderwysers ignoreer en met ander baklei.

Sonika se jongste, David*, gee haar ’n drukkie. “Hy is baie bewus daarvan as ek ontsteld is en probeer altyd troos”. Foto: Onkgopotse Koloti

Tuis was dit ’n stryd. “Hy het sy karretjies stukkend getrap; jou geïgnoreer wanneer jy praat. Ons het slae probeer, maar dit het nie gewerk nie. Ek het hom badkamer toe begin stuur, waar hy gate in die deure geslaan het.

Maak nie saak wat ek gedoen het nie, dit het geen verskil aan sy gedrag gemaak nie,” onthou sy. Sy het hom na ’n sielkundige, ’n arbeids- en spelterapeut geneem.

Medikasie is vir hom voorgeskryf om die AGHS te behandel, en sy ma het sy dieet verander – alles sonder sukses. In ’n stadium het Jayden, toe ’n tiener, by ’n kennis gewoon, maar ’n paar maande later was hy weer tuis.

Hy is as tiener die eerste keer in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem – dié keer is gedragsteuring by hom gediagnoseer, ’n gedragspatroon wat as uitdagende of selfs gewelddadige optrede by kinders en tieners manifesteer.

Jayden het ophou skoolgaan en begin werk, maar was telkens weer werkloos. Hy het dagga begin gebruik en is in ’n stadium in ’n rehabilitasiesentrum daarvoor opgeneem.

Hy het baie rondgetrek – dan het hy by sy ma, by vriende en dan by ’n meisie gewoon. “Hy is aantreklik, atleties en maak maklik vriende. Volwassenes hou van hom, want hy’t op die oog af goeie maniere.

Hy maak meisies se knieë lam,” sê Sonika. Maar onder sy ma en stiefpa se dak sien hulle ’n ander sy van hom. Dis dan wanneer hy tydens woedeuitbarstings soos “ ’n wilde dier” tekere gaan, vertel sy ma.

Toe hy vroeër vanjaar die derde motor afskryf wat sy ma en stiefpa vir hom gegee het, was dit die laaste strooi en het sy hom die huis belet. Jayden het toe twee weke lank in ’n bakkie gewoon.

Sonika het hom jammer gekry en hom weer na ’n psigiatriese hospitaal geneem. Hier het hy ’n reeks toetse ondergaan. En dis toe dat die psigiater haar kontak en die woord “psigopatie” gebruik om haar kind se gedrag te verduidelik.

Jayden is toe ontslaan. Omdat haar seun se gedrag nog nie tasbare skade aangerig het nie, is daar min wat Sonika kan doen om hulp te kry, sê sy.

“Hulle kan nie vir my sê waarheen ons hom kan neem nie; daar is nie ’n plek vir hom nie.”

’n Maatskaplike werker by die psigiatriese hospitaal het aanbeveel dat sy ’n paar maande lank geen kontak met Jayden het nie sodat hy ’n band kan smee met die mense by wie hy nou woon.

“Ek het oop kaarte met die vrou gespeel oor sy diagnose, maar ek kon hoor hy het haar ook gemanipuleer; sy dink ons oordryf,” vertel Sonika. Sy erken sy geniet die tydelike vrede in haar huis.

Maar wat sy gaan doen om haar kind, en haarself, te help, weet sy nie. Desperaat verwoord sy die donker gedagtes wat haar bors laat toetrek: “Ek het altyd gewonder hoekom ek die oortreders in sake soos die Griekwastad- en Van Breda-moorde jammer kry. Nou weet ek: My seun herinner my aan hulle.”

Op die oog af ’n gelukkige gesin. Jayden, David, sy stiefpa, Michael*, en Sonika by ’n fotosessie einde verlede jaar. Foto: Verskaf

Psigopaat of nie? 

Jayden se psigiater het by navraag laat weet hy mag nie die diagnose bevestig of dit met Huisgenoot bespreek nie vanweë dokter-pasiënt-vertroulikheid.

As psigopatie wel korrek by hom gediagnoseer is, sal dit nie spruit uit die trauma wat hy as kind beleef het nie, sê ander kenners. Ware psigopate word gebore, nie deur omstandighede gevorm nie, sê dr. Marcelle Stastny, ’n psigiater van Kaapstad.

“Iemand word met ’n antisosiale abnormaliteit gebore; hy is so aanmekaargesit.” Sy sê dis iets wat nie maklik gediagnoseer kan word nie. “Onderhoude word met die pasiënt gevoer en sy verlede word bekyk.”

Die kenmerke van ’n psigopaat is dat hulle geen empatie toon nie, nooit skuldig voel nie, ander manipuleer en gedurig lieg, maar hulle sal nie noodwendig gewelddadig raak of misdade pleeg nie.

Psigopatie word as ’n gedragsteuring of persoonlikheidsafwyking beskou en nie ’n geestesteuring nie. Dus word iemand by wie dit gediagnoseer is nie weens die diagnose in ’n inrigting opgeneem nie en kan dit nie met medikasie behandel word nie.

Die uitwerking van trauma kon Jayden se gedragsprobleme vererger het, maar dit sou nie veroorsaak het dat psigopatie later by hom gediagnoseer is nie, sê Marcelle.

Dit kan wel ’n rol speel by die gewelddadige gedrag wat hy toon.

Hoe gemaak met my ‘onmoontlike’ kind?

’n Gedragspatroon wat by kinders en tieners as uitdagende of gewelddadige op­trede manifesteer, word gedragsteuring genoem. Dit kan uiteenlopende oorsake soos biologiese, genetiese, omgewings- en sielkundige faktore hê.

Roep kenners se hulp in as jy raadop is, sê Marlize Heppell, ’n sielkundige van Klerksdorp. “Verskeie faktore kan lei tot gedragsprobleme, en jy gaan dalk meer as een kenner moet raadpleeg.

 “Spreek ’n pediater om seker te maak iets soos swak sig of gehoor beïnvloed nie jou kind se gedrag nie. Besoek ’n sielkundige om vas te stel of daar trauma is wat jou kind sukkel om te verwerk.” 

Marilet Kotzé, ’n berader van Bloemfontein, sê ’n arbeidsterapeut kan help om moontlike leerprobleme te identifiseer wat dikwels daartoe bydra dat kinders ‘onmoontlik’ raak.” 

Sy sê ouers verwar kinders soms deur dieselfde oortreding op verskillende dae anders te hanteer. “Stel duidelike grense en duidelike gevolge wanneer dié grense oorgesteek word.” Sy sê soms kan ouers se hantering van die situasie dinge vererger.

“Gaan vir ouerskapsleiding by ’n sielkundige om toegerus te word sodat jy jou moeilike kind reg kan hanteer.”

* Skuilname