Sy is aan haar bed gekluister terwyl die ongenaakbare son buite teen 36 °C skroei. Sy kan skaars beweeg, maar haar ongemak het niks met die Noord-Kaapse hitte te doen nie.

Wanneer sy probeer om van haar een sy na die ander te draai, raak sy duiselig. Haar rug, heupe, knieë en voete is pal seer. Sy kry gedurig hoofpyn en kan nie langer as twee uur op ’n slag slaap nie.

Die rede vir die ongemak wat Camilla Neelse (36) verduur, is haar borste; saam weeg dit minstens 14 kg, en dit raak steeds ál groter. Die siekte gigantomastie is in 2016 ná jare se lyding by haar gediagnoseer, maar die diagnose het nie die probleem opgelos of verligting gebring nie.

“Ek kan nie eens tot by die stoep loop nie, so seer is my lyf,” vertel Camilla, wat in haar jonger dae as model, ballerina en danseres uitgeblink het.

Hier waar sy haar storie vanuit haar en haar man se bed in hul huis in Roodepan, Kimberley, in die Noord-Kaap vertel, is Camilla moedeloos. Haar borste is nou al so groot dat sy nie meer ’n bra kan dra nie, en die pyn is ondraaglik.

“My bra van 40JJ pas my nie meer nie,” vertel sy. 

Gigantomastie veroorsaak dat ’n vrou se borsbindweefsel oormatig en aanhoudend groei. Sy lyk moeg en kyk radeloos na die waaier bo die bed wat sukkel om die versengende hitte te verlig.

Haar man, Nazeem Neethling (34), hou haar besorg dop waar hy langs haar staan. “Ek weet sy is nie oukei nie, al sê sy so wanneer ek nie by die huis is nie en oor die telefoon met haar praat,” sê Nazeem, wat in Junie vanjaar sy werk as bestuurder by ’n vulstasie gelos het om sy vrou voltyds te versorg.

Haar man, Nazeem Neethling, is haar grootste steunpilaar. Foto: Dino Codevilla

“Ek is afgemat en moedeloos. Ek wil net weer my lewe terughê,” sê Camilla terwyl sy haar man se hand styf vashou.

Camilla het voorheen as ’n ontvangsdame gewerk, maar is sedert verlede jaar Oktober werkloos en permanent bedlêend omdat die ongemak en pyn haar liggaam so aftakel dat sy nie meer kan werk nie. Sy is sedertdien medies ongeskik verklaar. Haar borste raak elke maand groter en haar ellende ál meer, vertel sy.

Met die desperaatheid vlak in haar oë sê sy: “Ek weet nie meer wat om te doen nie. Ek het dringend ’n operasie nodig om my borste te laat verklein. Ek kan nie so aangaan nie. Ek is lief daarvoor om te werk en wil nie langer so ly nie.”

Maar om van haar groot borste ontslae te raak is nie eenvoudig nie, sê Camilla. “My mediese fonds wil nie vir die operasie betaal nie,” sê sy. “Ek het al alles probeer en al baie met hulle baklei, maar dit help nie.”

Sy het ook by ’n staatshospitaal om hulp gaan aanklop, maar sê dit was verniet. “Hulle sê ek is te vet en ek moet gewig verloor. Hulle wil my nie help nie.”

Camilla hou vol die probleem lê by haar borste, nie by haar gewig of swak gesondheid nie. Sy erken dit is nie net die grootte van haar borste wat haar lewe versuur nie.

Sy ly ook aan osteoporose, slaapapnee en fibromialgie, ’n siekte wat wydverspreide pyn veroorsaak. Boonop het sy tipe 2-diabetes en endometriose in haar baarmoeder. Maar dit is veral die gigantomastie wat haar lewe ondraaglik maak. “Ek sit gewig aan as gevolg van die siekte.

Haar bra van 40JJ pas nie meer nie. Foto: Dino Codevilla

Ek kan dit ook nie bekostig om te veel gewig te verloor nie omdat die grootte van my borste dan kan veroorsaak dat ek my rug permanent beseer.” Sy sug mismoedig.

“Die impak wat alles op my lewe het, is enorm. Pyn maak van jou ’n monster.”

Haar borste het begin groei toe sy in 2008 swanger was met haar en Nazeem se seun, vertel sy.

“My borste was so groot dat jy nie my maag kon sien nie. Mense het nie eens geweet ek is swanger nie.”

Daarna het dit net aanhou groei. In 2015 is sy gehospitaliseer toe dit pynlik begin raak. Die dokters het toetse laat doen, vertel sy, maar die uitslae het geen antwoorde gebring nie en sy is aangeraai om gewig te verloor en ’n gesonder leefstyl te volg om haar gesondheid te verbeter.

“Ek het vir die eerste keer gehoor ek is te vet en moet op ’n dieet gaan.”

Camilla was daarvan oortuig die probleem lê by haar borste en nie haar gewig of leefstyl nie en het in Junie 2016 ’n plastiese chirurg besoek.

“Hy was die eerste dokter wat my geglo het en hy wou my help,” vertel sy. Maar sy sou derduisende rande vir die borsverkleiningsoperasie moes opdok, en dit was vir haar onbekostigbaar.

Camilla vertel sy was deur die jare al by 12 spesialiste, maar sy het steeds nie ’n uitkoms nie. Sy het ál meer terneergedruk geraak en is dit steeds. “Ek is depressief, maar weet daar is ’n rede waarom God sekere dinge met ’n mens laat gebeur.

Ek glo Hy het my op hierdie pad gesit om ander vroue te help wat met dieselfde siekte sukkel en nie weet wat om te doen nie.” Dit is waarom sy besluit het om in September vanjaar saam met haar man en familie Gigantomastia South Africa, ’n organisasie sonder winsoogmerk, te stig.

Die doel is om bewusmaking oor dié siekte te skep, sê sy, en hopelik ook geld vir haar operasie in te samel.

“Ons wil ander vroue met die siekte opvoed en aanmoedig om sodra hulle uitvind hulle het die siekte vir ’n operasie te gaan voor dit te ernstig raak.”

“Ek wil nie hê enige ander vroue moet soos ek voel nie en wil veral nie hê enige ander kind moet dieselfde deurgaan as wat my kind deurgaan nie.”

Camilla by haar seun. Vandat sy bedlêend is, speel hy nie meer buite nie, sê sy. Foto: Verskaf

Hul seun is die egpaar se enigste kind en ’n regte klein “grootmensie”, vertel Camilla.

“Hy is ’n kind wat altyd daarvan gehou het om buite te speel. Maar vandat ek bedlêend is, speel hy nooit meer buite nie. Hy is te bang ek kry seer en hy kan my nie hoor wanneer ek om hulp roep nie,” vertel sy.

’n Oomblik lank helder haar oë op. Sy kyk dankbaar na haar man en vertel dit is haar gesin en familie se steun wat haar die moed gee om haar oë elke oggend oop te maak.

“Die meeste van my vriende het my in die steek gelaat. Hulle sê ek is lui en vet en ek moet opstaan en gaan werk. Gelukkig het ek my familie.” 

Wat is gigantomastie?

Gigantomastie bilateraal beteken “baie groot borste”, sê die Kaapse plastiese, rekonstruktiewe en estetiese chirurg dr. Dirk Lazarus.

“Sommige vroue het groot borste, bekend as makromastie, maar besonder groot borste is gigantomastie.”

Die toestand word deur ’n reaksie op estrogeen en ander vroulike hormone veroorsaak, maar genetika kan ook ’n rol speel.

’n Mens kry drie soorte gigantomastie, sê die Kaapse plastiese chirurg dr. Nerina Wilkinson. “Die een word deur swangerskapshormone veroorsaak en lei tot abnormale borsgroei in die eerste trimester. Dit kan ook deur puberteit of medikasie veroorsaak word.”

Gigantomastie bilateraal lei tot pyn en ongemak, sê Dirk. ’n Pasiënt wie se borste swaarder as 2,5 kg elk weeg, kan simptome soos rug- en nekpyn, skouerpyn, ’n uitslag onder die borste, hoofpyn en psigososiale probleme en ’n swak selfbeeld ontwikkel.

Die gewig van die borste kan ook tot ’n gebuigde ruggraat lei. Volgens Nerina kan die toestand tot swak postuur en ’n verlies aan tepelsensasie lei.

“Gewigstoename is nie verwant aan gigantomastie nie,” sê Dirk.

Hy skryf gewigstoename aan ’n ongesonde leefstyl en eetgewoontes toe. ’n Swak dieet kan bydra tot diabetes, fibromialgie en gewigstoename, maar dit is nie die oorsaak van gigantomastie nie, sê hy.

’n Borsverkleining kan deur ’n plastiese chirurg uitgevoer word om verligting te bring.

“Om vir dié operasie te kwalifiseer, moet ’n pasiënt ’n liggaamsmassa-indeks van minder as 30 hê, dus nie oorgewig wees nie, en andersins gesond vir chirurgie,” sê Dirk.

In bepaalde gevalle kan ’n mastektomie aanbeveel word, voeg Nerina by. – Colin Hendricks