Die nuus het Maandag in die Kaapse hooggeregshof bekend geword toe Van Breda se regsverteenwoordiger, adv. Pieter Both, regter Siraj Desai meegedeel het dat sy kliënt verlede week Woensdag 'n "ligte epileptiese aanval" gehad het.

Van Breda is vir vyf dae in die Constantiaberg MediClinic opgeneem en eers Sondag ontslaan.

Dié nuus kan moontlik 'n wending in die saak bring.

Botha gaan nou vir dr. James Butler, 'n neurochirurg en gewese dokter van Van Breda, wat hom behandel het vir die aanval, as getuie roep. Butler sal getuig oor die twee ure en 40 minute wat Van Breda op 27 Januarie 2015 glo flou was en waarvan hy niks kan onthou nie.

Van Breda staan tereg vir die driedubbele moord op sy ouers, Martin en Teresa, asook sy broer, Rudi. Die familie is op 27 Janurie 2017 met 'n byl op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch aangeval en vermoor.

Regter Desai het aan Botha gevra of Van Breda geskik is om verhoor te word weens sy mediese toestand.

Botha het gesê sy kliënt is geskik en die hof versoek om die saak uit te stel na Dinsdag.