Hy trek sy blou baadjie reg voordat hy by die beskuldigdebank inskuif. Vir 'n oomblik lyk hy byna onherkenbaar.

Kan dit wees? Het Henri van Breda, die driedubbele moordbeskuldigde, al sy hare afgeskeer?

Poenskop Henri, skerts een van die joernaliste. 

Dit pas hom nogal, sê 'n ander. 

Vir 63 dae lank, vir die duur van die hofsaak, hou ek vir Henri in die beskuldigdebank dop. En sy voorkoms het deur die tyd behoorlik verander.

Geklee in sy bekende blou pak, het Henri sy hofsaak met 'n skoongeskeerde gesig en kort, netjies gesnyde hare begin. 

Soms was sy hare agtertoe gekam en gejel, ander kere het hy dit met 'n sypaadjie gekam. 

Toe laat Henri sy hare en sy baard groei en later begin ek en ander joernalsite oplet dat sy blou baadjie bietjie stywer om sy middel sit. Hy het vining begin gewig optel. 

Die spanning van die hofsaak het duidelik op Henri se gesig gewys en soms sou hy in die beskuldigdebank sit met swart kringe onder sy oë, 'n teken wat min slaap verklap. 

Op 29 November is die saak uitgestel tot vandag, 12 Februarie, vir die staat en die verdediging om hul slotbetoë te lewer. 

Joernaliste, televisiespanne en toeskouers was opgewonde om Henri ná bykans twee maande weer te sien. 

Dit is vreemd. Dit voel soos 'n ou bekende wat jy lanklaas gesien het en jy kan nie wag om hom weer raak te loop nie. 

Waar is Henri, hoor ek iemand agter my vra.

En toe stap hy die vertrek binne. My kollega skrik hoorbaar en ek gryp na haar arm.

Is dit hy? vra ek haar. 

Sy val oor haar woorde terwyl haar oë op die jong man is, en kry later 'n skaars hoorbare "ja" uit. 

Daar staan Henri.

Ná bykans twee maande se afwesigheid is hy dié keer nie vetter nie, sy hare ook nie langer of gekleur nie.

Hy is kaalkop. Sy hare is heeltemal afgeskeer sodat jy die rondings van die moordbeskuldigde se kop behoorlik kan sien, met net die liggrys haarlyn wat duidelik is. 

Wat het hom besiel? wonder ek stilweg. Dadelik begin die vrae in my kop opduik, soos dit 'n joernalis betaam. 

Dalk is hy siek, dalk ondersteun hy iemand met kanker, dalk was dit 'n jare lange droom van hom om al sy hare af te skeer (hoewel die tydberekening nogals vreemd sal wees, dink ek). 

Of dalk was hy een aand net moeg vir die wêreld en als om hom, toe trek hy sy skeermes nader.

Ek gaan staan voor Henri saam met die ander joernaliste om 'n foto van die “nuwe” Henri met my selfoon te neem terwyl ek dink aan moontlike redes hoekom die jongman sy ligbruin hare sou afskeer.

Niks sou my egter kon voorberei vir sy antwoord nie. 

Netwerk24 se fotograaf vra later vir Henri die een vraag wat ons almal brand om hom te vra: Waarom?

Die beskuldigde verduidelik toe, sonder huiwer, dat hy dit gedoen het in die lig van die droogte wat Kaapstad tans teister. Hy voel Kapenaars doen te min om water te spaar en hy doen sy deel deur sy hare af te skeer.

Wel, kan jy nou meer, hoor ek iemand sê. "Ek gebruik minder water in my huis om water te bespaar en ander skeer hulle hare af – en ek is seker dit help ook in die droogtetye."  

Die saak teen Henri

Henri word daarvan aangekla dat hy sy ouers, Martin en Teresa, en sy ouer broer, Rudi, op 27 Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-landgoed buite Stellenbosch met 'n byl afgemaai het. 

Hy word ook aangekla van poging tot moord op sy suster, Marli, asook vir regsverydeling. 

Op dag 64 van die verhoor het adv. Susan Galloway, vir die staat, met die slotbetoë begin. Sy het aangevoer dat daar geen aanvaller in die Van Breda’s se huis was, behalwe Henri nie. 

Sy het dit weer aan die hof gestel dat De Zalze 'n sekuriteitskompleks is en die landgoed 24 uur per dag gepatrolleer word.

Daar is geen teken van gedwonge ingang gevind nie. Sy het aan regter Siraj Desai gesê dit is baie onwaarskynlik dat die ongewapende aanvaller/s, soos Henri beweer, deur die sekuriteitshekke sou gaan, reguit na die van Breda’s se huis loop en hulself by die huis bewapen om die familie uit te moor.

Die verhoor duurt voort.