Sy "beste vriend, regterhand, familielid" is klaarblyklik deur ontsettende ontberinge nadat hy 21 maande gelede tydens beurtkrag by die outomatiese hek van sy eienaar se woonplek in Rondebosch uitgekom het. Zeus was in 'n gehawende toestand toe Matthew hom weer die eerste keer daarna by die People’s Dispensary for Sick Animals sien – nadat 'n vrywilliger vir dié dierewelsynsorganisasie hom op 6 November in Athlone se strate gevind het. Hy was so uitgeteer dat sy ribbes so te sê deur sy vel gesteek het, en hy was oortrek van brandsiekte en baie verswak.

Nugter weet hoe lank hy nog aan die lewe sou kon bly kou as Yvonne Read hom nie daar op 'n verlate erf aangetref het en na die PDSA (SA) geneem het nie.

Maar danksy die regte kos, behandeling en hope aandag is hy nie meer so ver van die ou Zeus wat almal se lewens opgekikker het nie, vertel Matthew ons.

"Dis ongelooflik om te sien hoe vinnig die outjie herstel, hoe hy homself weer terugtrek in die lewe in. Terug by ons die eerste dag of wat, kon hy nie van sy bed af beweeg nie. Hy was duidelik net dankbaar vir die gerief en warmte, en om weer veilig terug by ons te wees."

Maar sy energievlak het gou verbeter, sê Matthew, 'n sakeman in die reklame- en modebedryf. Waar hy aanvanklik nie eens by Matthew op die rusbank kon spring of teen die trap kon op of af nie, "jaag hy nou al weer sy eie stert, soos hy altyd gedoen het wanneer hy opgewonde was".

Kort nadat Matthew hom met 'n spesiale wasmiddel in die stort onder hande geneem het, het die brandsiekte-rowe grootliks afgeval. En hy het spoedig al meer van die Zeus begin sien wat hy in 2014 as babahondjie gekry het toe hy nog 'n student in Grahamstad was en wat sy onafskeidbare metgesel oral geword het. Die Zeus wat oortuig is dat hy 'n mens is en alles moet eet wat sy baas eet; dadelik opgewonde by die deur gaan wag sodra Matthew na die leiband mik; wat mal is daaroor om tennisballe te jaag en flenters te kou.

Hy het ook niks van sy toiletreëls van vroeër vergeet nie. "Dis wonderlik om hom weer oopbek te sien glimlag, en dat hy ondanks alles wat hy moes deurmaak nie sy vertroue in mense verloor het nie."

Lank gesoek, hoop opgee… en toe lui sy foon weer eendag

Zeus het net dae voordat Matthew-hulle se huurhuiskontrak in Rondebosch verstryk het, vermis geraak. Maar Matthew, wat deesdae in Seepunt woon, is daagliks soontoe terug om hom te soek, by veeartse en diereorganisasies vir hom rond te vra en enige leidrade op te volg uit sy internetveldtog, waarin hy mense gevra het om te help uitkyk en 'n beloning uitgeloof het.  Dae het weke geword en weke maande… en ná "ontelbare" oproepe van mense wat geglo het hulle het Zeus gesien, maar eindelik vergeefs geblyk te wees het, het Matthew probeer aanvaar dat iemand sy beste vriend aangeneem het, of dat hy dood was.

Zeus op sy derde verjaardag, voordat hy weggeraak
Zeus op sy derde verjaardag, voordat hy weggeraak het. Foto: Verskaf

Toe hy dus die oproep van die PDSA (SA) se Veronica Nel kry, het hy niks verwag nie. Selfs toe sy vra vir die mikroskyfienommer waaronder Zeus geregistreer is, het Matthew nog nie regtig opgewonde geraak nie. "Maar ek het sy papiere gaan kry en die nommer vir haar begin lees … en daar voltooi sy toe vir my die res van die nommer. Ek was oorweldig – al wat ek kon uitkry was: Wow… wow…"

Veronica-hulle het hom gewaarsku Zeus lyk baie sleg, maar dit was steeds 'n skok om hom daar by die PDSA (SA) te sien. Weens die brandsiekte kon Zeus omtrent nie sy oë oopmaak nie.

Maar Matthew het skaars die verwese staffie se kop begin vryf, toe sy stert begin hy swaai... eers flou, en toe al vinniger, die eerste keer sedert hy by die PDSA aangekom het. En toe’s hy al om Matthew, nog baie wankelrig op sy bene of te nie. Ná soveel maande het hy sy vriend binne sekondes herken.

En toe Matthew hom later op sy motor se agtersitplek gemaklik maak, het hy reeds weer sy posisie van ouds probeer inneem – met sy  kop tussen die voorste sitplekke.

Matthew het vir Yvonne 'n bos rose en sjokolade gegee. "Sy's 'n engel, awesome… die wêreld het meer mense soos sy nodig," sê hy.

"Iemand het my gebel oor 'n rondloperhond wat in die strate ronddwaal," vertel Yvonne. Sy het die beller gevra om hom nader te probeer lok en by haar te hou totdat sy opdaag, maar dié was nie bereid om aan die hond te raak nie. Yvonne is toe soontoe en het meer as twee en 'n half uur na die hond gesoek voor sy hom in 'n bos op die verlate erf gekry het.

Sy het hom met blikkieskos nader laat kom – "hy het 'n hele klomp daarvan geëet, en wou toe ook sommer saam met my in my bakkie klim. Met so 'n mooi geaardheid, het ek gedink, móés jy aan iemand behoort het, iemand wat baie vir jou omgegee het. By die PDSA het hulle hom dadelik op 'n drup gesit, begin behandel en, nadat hulle sy ID-mikroskyfie geskandeer het, vir Matthew in die hande gekry."

Veronica kry geen vergoeding vir haar reddingswerk nie. Dit kom uit haar hart uit, sê sy. Tonele soos Matthew en Zeus se hereniging is vir haar meer as genoeg beloning.

"Dit breek my hart om te dink wat Zeus alles moes deurgemaak het," sê Matthew. "Maar dit alles het my ook vir die eerste keer werklik laat besef watter ongelooflike werk mense soos die PDSA doen. Ek kan nie genoeg dankie sê aan hulle dat hulle my laaitie gered het nie."

  • Die PDSA is 'n internasionale liefdadigheidsorganisasie wat in 1917 deur Maria Dickin in Brittanje begin is. Die PDSA (SA) is 82 jaar gelede met 'n klein veeartsenykundige kliniek in Distrik Ses gestig. Hulle funksioneer nou onafhanklik van die Britse instelling.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.