"Vertel jou storie.’’ Dít was die beste raad wat hy nog gekry het, onthou die ringkop van die Afrikaner-geskiedenis, prof. Hermann Giliomee, hier kort voor sy 80ste verjaardag.

Hy het dié raad ter harte geneem en 11 jaar later, in 2003, die 700-bladsye-boek gepubliseer wat hom wêreldberoemd gemaak het, The Afrikaners: Biography of a People.

’n Eksemplaar daarvan lê vandag op ’n sytafel langs sy lessenaar met sy grootskermrekenaar. Ons kuier in die studeerkamer van sy huis in Dalsig op Stellenbosch.

Sy argitekvrou, Annette, het die ruim woning ontwerp.

Die formidabele historikus, skrywer en joernalis, ook jare lank professor in politieke studies aan die Universiteit van Kaapstad, is gemaklik geklee in ’n kortmouhemp, slenterbroek en sy geliefde drafskoene.

Hy is vol staaltjies en verduidelik hoekom daardie raad van ’n Amerikaanse boekeredakteur in 1992 so waardevol was: “Historici het vergeet om stories te vertel. Hulle is geneig om in diep abstrakte ontledings van prosesse te verval.”

The Afrikaners (die Afrikaanse weergawe is Die Afrikaners – ’n Biografie) was sy magnum opus, ja, maar natuurlik net een van talle pennevrugte sedert die verskyning van sy eerste boek 43 jaar gelede, Die Kaap tydens die Eerste Britse Bewind.

Hermann werskaf al dekades lank feitlik onverpoos hier in sy boek- en lêerbesaaide studeerkamer.

Teen die mure pryk verskeie geraamde spotprente wat ’n jonger Hermann byvoorbeeld in onderonsies met Nasionale Party-swaargewigte soos PW Botha en FW de Klerk uitbeeld.

In een hiervan jaag ’n krokodil hom rond – hy was die eerste een wat die bekende bynaam Groot Krokodil vir Botha gebruik het, in ’n rubriek vir die voormalige tydskrif Die Suid-Afrikaan.

Cora Coetzee se skets van hom met die “Groot Krokodil” (PW Botha) op sy hakke. Foto: Misha Jordaan.

Hermann wys na ’n ou swart-wit foto teen die muur. Dis van sy oom Johann Buhr, vir wie se talent as skrywer en spreker hy groot agting gehad het.

“Hy het destyds onder meer kortverhale vir Huisgenoot geskryf. Ongelukkig is hy vroeg aan tering dood.”

Daar’s ook foto’s van hom saam met meer onlangse politieke leiers soos die DA se Tony Leon, en ander skrywers – van Athol Fugard tot Dana Snyman – asook gesinskiekies saam met Annette en hul twee dogters, Adrienne en Francine.

Op een foto is Hermann saam met twee geliefde dierevriende wat nie meer met ons is nie, sy spanjoele Jasper en Gorbi. Laasgenoemde “is gebore toe (die Russiese leier Michail) Gorbatsjof destyds op die toneel verskyn het”, verduidelik hy.

Annette, met wie hy reeds meer as 50 jaar getroud is, stap die vertrek binne om te hoor of ons drinkgoed wil hê net toe ons hom pols oor hul band en haar ondersteuning.

“Ek’s nou geïnteresseerd om te hoor wat jy sê,” laat hoor sy.

Hermann erken dan met groot geneentheid: “Ja, ek kon dit nie sonder my vrou doen nie. Al praat ons nie baie met mekaar terwyl ek skryf nie, is ons samesyn in die huis geweldig belangrik. Saans kyk ons saam nuus en bespreek alles. Noudat ons egter uitgevind het wat ’n mens alles op die internet kan lees . . .” spot hy eers weer ’n bietjie en laat die sin in die lug hang.

Om met ’n man soos hy getroud te wees “is partykeer nogal moeilik, nè. Hy kan so ‘infokus’ op wat hy doen,” laat val Annette met ’n lag voor sy weer uitgaan.

Sielsgenote: Hermann en Annette is al meer as 50 jaar getroud. Foto: Misha Jordaan.

Hierdie gesellige vertrek is die masjienkamer waar die produktiewe professor, wat reeds voor die Tweede Wêreldoorlog die eerste lewenslig aanskou het, steeds elke dag slyp aan geskiedskrifte.

En met sy 80ste verjaardag om die draai, het hy pas sy meesterswerk toegankliker gemaak. Die nuwe boek oor die Afrikaners is net 240 bladsye lank en val saam met ’n dokumentêre reeks, Die Afrikaners, wat vandeesmaand op kykNET begin.

Hoe het hy Afrikaners in sy lang leeftyd sien verander?

“Hulle is deur ’n paar fases. Aanvanklik ’n plattelandse, landelike samelewing, waar die idee was dat plaasarbeiders ‘die baas’ eerbied sou betoon, maar ‘die baas’ ook vir hulle moes sorg.”

Hy het dit as kind op sy oupa se plaas net buite Nieuwoudtville beleef en ook op Porterville, waar hy grootgeword het.

“Ná 1910 het Jan Smuts en Louis Botha ’n beroep gedoen vir nasiebou gegrond op gelyke erkenning vir Afrikaans en Engels, maar dit het gou geblyk dit was net lippediens van die Engelssprekende kant. Dié het veronderstel Engels sou outomaties oorneem.

“Dis toe gevolg deur ’n ‘volksbeweging’-fase. Dit het allereers nie gegaan oor ras nie, maar om Afrikaners as ’n volwaardige gemeenskap op te bou wat byvoorbeeld ondernemings tot stand kon bring en boeke van dieselfde gehalte as Engelssprekendes kon skryf.

“In my grootwordjare het almal gesê Afrikaners kan nie ’n kafee of hotel bestuur nie, hulle is net nie sakemense nie, maar kyk net hoeveel sake is vandag in Afrikanerhande.”

Sedert die 1960’s het Suid-Afrika “in die tydperk van groot internasionale isolasie” inbeweeg.

Dié destydse foto van ’n jonger Hermann by sy honde Gorbi en Jasper het ’n spesiale plek in sy studeerkamer. Foto: Verskaf.

“Breyten Breytenbach het eenkeer dié beeld gebruik: Ons leef in ’n kamer. Daar’s lig in die kamer, maar die vensters is swart geverf . . . ons kan nie sien wat buite aangaan nie.

“Die rede dat ek miskien gouer as ander van die NP en apartheid af weggebreek het, was juis ook dat ek deur my eerste werk as kadet in die diplomatieke diens ’n weeklikse sinopsis moes maak van al die korrespondensie wat ons van oorsese missies gekry het. En, ja, so kon ’n mens sien hoe die wêreld jou beskou – al die teenstand teen apartheid en die tuislandbeleid.”

Die “volksbeweging” het begin uitrafel namate Afrikaners meer welgesteld begin raak het, sê Hermann. Veral die sakelui het begin voel dat steun en erkenning van die Afrikaanse gemeenskap nie meer so belangrik is nie.

Nes met Engelssprekende sakelui het geld en sukses vir hulle die belangrikste faktore geraak. “En nou is ons in die fase van ’n ‘verpersoonlikte samelewing’. Ons lewe wentel hoofsaaklik om ons eie persoon, ons onmiddellike gesin en vriende.”

Waarom die Afrikanerbewind nog tot omtrent 1989 aan die apartheidsbeleid bly klou het, al het dit al teen die 1960’s duidelik geraak hoe onaanvaarbaar dit was, bly vir hom ’n ingewikkelde vraag.

“Omdat hulle nie geweet het waarop verandering sou uitloop nie, was die opsie om niks te doen nie moontlik ewe aantreklik.”

Hermann is positief oor die jonger geslag Afrikaners. Soos hy in die nuwe weergawe van sy boek vertel, lyk dit asof die jonger geslag besig is om die stigma van apartheid te verwerp, sonder om onverskillig te staan teenoor die skade en leed wat die stelsel voor 1994 meegebring het.

“Dit is hierdie geslag wat die toekoms van Afrikaans en Afrikaners gaan bepaal.”

Hermann oor:

Afrikaans

“Dis een van net vier tale wat in die 20ste eeu van ’n spreektaal met beperkte status ontwikkel het tot ’n taal wat in alle fasette van die openbare lewe gebruik kan word, insluitend as volwaardige wetenskapstaal. Die ander is Hebreeus, Maleis-Indonesies en Hindi.”

Geskiedskrywing

Dit bly vir hom moeilik.

“Geskiedskrywing lyk dalk maklik, maar dis eintlik ’n geweldig moeilike dissipline wat lang vakleerlingskap vereis. Jy moet byvoorbeeld ook die fyn lyn tussen verduideliking en regverdiging begryp.”

Tegnologie

Die internet is vir hom in baie opsigte wonderlik.

“Dis ook waarom die elite nie meer die selfvertroue van ouds het nie; hulle weet hoe vinnig hulle uitgevang kan word,” lag hy.

Hy was baie ingenome toe hy onlangs agterkom ’n mens kan al jou gunstelingliedjies, soos Koos Kombuis se Lisa Se Klavier en Leonard Cohen se Everybody Knows, op YouTube kry.

Toekomsvrese

“Ek dink daar’s by leiersfigure, wit en swart, ongeag wat hulle ook al sê, ’n selfkorrigerende meganisme wat hulle laat besef as mense nou werklik aan die baklei sou raak, gaan niemand wen nie en die hele land tot niet wees.

“Jan Smuts het juis destyds al gesê: ‘In Suid-Afrika gebeur die beste of die slegste nooit nie.’ ”

Die Afrikaners – Verkorte en Aangevulde Uitgawe, R290 by takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.