Klein Kit van Sarah Higson en James de Malplaquet was net 13 dae oud toe hy sterf nadat hy die herpesvirus opgedoen het. Bloot ’n soen of ’n aanraking deur ’n verpleegster of familielid het hom vermoedelik aangesteek.

Volgens die Daily Mail probeer die paartjie, van Brighton in Engeland, nou om mense bewus te maak van die moontlike gevare waaraan pasgebore babas blootgestel word wanneer hulle die gewone koorsblaarkiem aansteek.

Hoewel haar swangerskap feitlik sonder komplikasies verloop het, het hoë bloeddruk veroorsaak dat Sarah op 39 weke geïnduseer moes word.

Sy het deur middel van ’n keisersnit in die Royal Sussex County Hospital die lewe geskenk aan ’n gesonde seuntjie en die gelukkige paartjie het hul nuwe bondeltjie vreugde Kit genoem.

Kort daarna het die noodlot toegeslaan.

Kit se bloedsuiker was laag en hy is vir ’n paar dae in spesiale sorg geplaas waar hy as veiligheidsmaatreël antibiotikum gekry het. Die knapie se toestand het versleg en die dokters het nie geweet wat skort nie.

“Niemand het geweet wat verkeerd is nie, maar hulle het gesê ons hoef nie bekommerd te wees oor hom nie,” het Sarah aan Mirror Online gesê. “Hy het nie wakker geword vir voedings nie en was slaperig en kon nie pyn voel nie.

“Wanneer hulle sy hak geprik het vir bloedtoetse, het hy nie wakker geword nie. Die verpleegsters het bloot gesê sy toetse is normaal.”

Kit het geelsug gekry (’n leweraandoening wat veroorsaak dat ’n pasgebore baba se vel en oë geel raak), maar hy is ontslaan toe hy sewe dae oud is.

Sarah en James het agtergekom hy huil nie en slaap heeltyd, maar hulle was nie seker of hulle hieroor bekommerd moes wees nie.

Ná ’n roetinebesoek van die vroedvrou het sy voorgestel hulle neem hom terug na die Royal Sussex County Hospital.

“Die dokters het gesê: ‘Julle sal terugkyk en wonder hoe julle hier deurgekom het, want julle sal ’n gesonde seuntjie hê.’ Ons het hieraan vasgeklou, want ons het hulle vertrou,” sê Sarah.

Sarah Higson en James de Malplaquet. Foto: Facebook

Maar Kit se toestand het verswak en hy is na die Evelina London Children’s Hospital oorgeplaas en aan ’n ventilator gekoppel, skryf die Huffington Post.

Die dokters het aan Sarah en James gesê hul kleinding sou nie leef nie.

“Toe ons by die hospitaal aankom, het hy nie meer soos ons baba gelyk nie. Hy was twee keer sy grootte, het baie gebloei en was geswel.

“Sy klere was deurdrenk van die bloed. Hulle moes hom in ’n plastieksak toedraai om hom warm te hou. Dit was verskriklik om te aanskou.”
Sarah beskryf die ondervinding as “absoluut verskriklik”.

Een van die dokters het hulle uitgevra oor koorsblare, maar volgens Sarah het sy dit nog nooit gehad nie en James het vyf jaar laas ’n koorsblaar gehad.

Die dokters het daarin geslaag om Kit te stabiliseer en die paartjie het gedink hul nagmerrie is verby.

Om vyfuur die oggend het hulle ’n dringende oproep gekry.

“Ons is boontoe en die gordyn om sy bed was toegetrek. Ons het geweet dis slegte nuus.

Sarah Higson saam met klein Kit. Foto: Facebook

“Hulle het probeer om sy lewe te red, maar teen daardie tyd was dit te laat. Hy het voor ons oë gesterf.”

Die buise is verwyder en Kit se lewelose liggaampie is aan sy ouers teruggegee.

Mirror Online berig Kit het ’n virusinfeksie gehad wat bloedvergiftiging en veelvuldige orgaanversaking veroorsaak. Die uitslae van die toetse het die dag ná sy dood teruggekom: positief vir HSV1 of herpes simpleks tipe 1. 

“Ons kry albei swaar en die lewe kan moeilik wees. Maar dit het ons nader aan mekaar gebring,” sê Sarah.

“Daar’s baie trauma in smart. Party dae wil jy nie uit die huis gaan nie, ander dae is oukei. Dis nie liniêr nie.”

Byna ’n jaar is verby sedert Kid se dood op 28 September 2017, maar Sarah en James soek nog antwoorde. Dis die rede waarom hulle nou die Kit Tarka Stigting gestig het met die doel om geld in te samel vir meer navorsing hieroor en vir meer bewusmaking oor die virus.

“Ons het antwoorde gesoek, maar dis moeilik om te kry. Min navorsing word gedoen,” sê Sarah.

“Mense moet weet: bly weg van ’n baba as jy ’n koorsblaar het. Sy simptome was nie voor die hand liggend vir ’n mediese kenner nie, hulle het nie geweet nie.

“Meer opleiding is nodig.”

Wat sê ons kenners?

Huisgenoot het Owen Wiese, die bekende Kaapstadse mediese dokter wat op DStv se VIA-kanaal raad gee, oor babas en die risiko’s van die koorsblaarkiem gepols:

Babas kan wel blootgestel word aan die herpesvirus deur kontak met iemand wat dié hoogs aansteeklike virus dra, bevestig hy.

Selfs al het iemand nie sigbare koorsblare nie, kan die virus steeds oorgedra word aangesien dit in liggaamsvloeistowwe soos speeksel voorkom.

“Die kans vir oordrag is natuurlik aansienlik hoër as ‘n mens ‘n sigbare letsel het.” 

Babas se immuunsisteem het nog nie genoeg ontwikkel om infeksies soos volwassenes te kan beveg nie, verduidelik Owen. “Die baba word beskerm deur die teenliggaampies wat hy of sy van die ma ontvang. Hoewel dit selde gebeur, kan babas steeds ernstige infeksies opdoen.”

Wat is die waarskuwingstekens by ‘n kind wat die virus opgedoen het?

“By ouer babas lyk die infeksie dikwels soos by ouer mense. Tipiese koorsblaarletsels… dit is nie noodwendig net een letsel nie en kan dikwels verspreid wees.

“By jonger babas is dit ‘n hele ander storie: die virus kan oral versprei en verskeie organe soos die oë, longe en brein aantas.”

Simptome sluit in dat “die baba gewoonlik sleg drink en koorsig en uiters onrustig is. 

“Kyk veral uit vir letsels in en rondom die mond. As jy letsels sien en jou kind is siek, gaan sien onmiddelik jou dokter!”

En wat kan ouers doen om hul kinders so ver moontlik te beskerm?

“Moenie toelaat dat enigiemand jou jong baba soen nie,’’ benadruk Owen - al is dit hoe moeilik om te weier.

“Wees veral bedag op enigeen wat sigbare letsels het. Dring daarop aan dat enigiemand wat aan jou baba wil raak eers hul hande was.

“Was verder ook gereeld speelgoed en enige items waarmee jou baba in aanraking kan kom.

“Die belangrikste is steeds om jou baba onmiddellik dokter toe te neem as jy vermoed daar is probleme.”

Bronne: Mirror Online, Huffington Post, Daily Mail