Net een olifant bly in die Knysnabos en omliggende fynbos oor: ’n volwasse koei. Dié ontdekking gaan met groot hartseer en tragedie gepaard, want sy is die laaste waarlik wilde, vrylopende olifant in Suid-Afrika en die suidelikste ter wêreld.

Die bevinding is onlangs gepubliseer in And Then There Was One, ’n wetenskaplike artikel deur voorste soogdierwetenskaplikes. Dit volg nadat ’n opname met 72 statiese infrarooikameras wat elke dag 24 uur lank aan was van Julie 2016 tot Oktober 2017 in die Knysna-olifantverspreidingsgebied gedoen is.

Dié gebied strek oor 185 km² en sluit die Tuinroete-Nasionale Park, privaat kommersiële bosplantasies en privaat bosgrond in.

Die Knysna-olifante het nog altyd seisoenaal langs duidelik afgebakende paaie tussen weikolle en water in dié gebied beweeg.

“ ’n Debat oor hoeveel Knysna-olifante daar is, heers nou al jare lank, want hulle is moeilik om te sien of op te spoor,” sê Graham Kerley, direkteur van die sentrum vir Afrikabewaringsekologie aan die Nelson Mandela-universiteit, een van die soogdiernavorsers wat aan die studie deelgeneem het en ’n medeskrywer van die artikel.

“Om te bevestig dat daar net een Knysna-olifant oor is, is vir baie ’n skok, want hulle is omring deur ’n aura van mistiek en mitologie wat deur hul skugterheid en stories soos Dalene Matthee se Kringe in ’n Bos aangevuur is.”

Vir die opname is die 72 kameras op 38 plekke binne die olifantverspreidingsgebied geplaas. Dié kameras is gestel om hoëgehaltebeeldmateriaal af te neem met ’n tussenpose van een sekonde lank tussen opeenvolgende foto’s en ’n vertraging van twee sekondes tussen videogrepe.

Die kameras is vasgemaak op ’n hoogte van 1-1,5 m aan bome binne 1 m vanaf die paaie wat olifante gebruik. Onlangse tegnologiese verbeterings in kamerastriktegnologie maak dit ’n betroubare metode wat algemeen in ekologiese studies ingespan word.

“Die kameras was elkeen 15 maande lank aktief en het in dié tyd die gebied eweredig gedek om te sorg dat geen leemtes voorkom waar olifante dalk ongemerk woon nie,” sê Lizette Moolman, ’n Sanparke-wetenskaplike en een van die navorsers wat aan die studie gewerk het.

Altesaam 5 195 olifantfoto’s en -videogrepe (15 tot 30 sekondes elk) is in 144 vasleggingsgebeurtenisse vasgelê. Op al die foto’s en video’s is net een volwasse koei geïdentifiseer met ’n ronde lyf en effens geplooide voorkop wat ’n unieke, maklik herkenbare patroon vorm.

“Sy is sowat 45 jaar oud en beweeg in die inheemse bos- en fynbosgebiede op Sanparke- en naburige privaat grond,” sê Lizette.

‘Sy is die metafoor vir ons behandeling van alle spesies wat saam met ons op die planeet woon’

Olifante het unieke individuele liggaamlike kenmerke, byvoorbeeld oorkeeppatrone en slagtandvorms en -groottes, wat hulle individueel identifiseerbaar maak. Benewens die koei se vorm en voorkop het sy unieke tandvormige oorkeeppatrone en taamlik wydgesette, asimmetriese en ongeskonde slagtande met die linkertand hoër as die regter.

“Die wrede werklikheid is dat daar nie meer ’n bevolking van Knysna-olifante is nie. Al die mistiek om hulle is gereduseer tot ’n enkele olifant wat in taamlik tragiese omstandighede oorbly,” sê Graham.

Olifantkoeie is nie veronderstel om alleen te wees nie – hulle bring hul lewe saam met familie-eenhede van koeie en hul kalwers deur. Die foto’s onthul dat hoewel sy ’n volgroeide koei is sy nie ontwikkelde borste het nie omdat sy nie dragtig is of soog nie.

Haar verskrompelde melkkliere dui daarop sy het baie lank laas, indien ooit, gekalf. Graham sê sy blyk in ’n betreklik goeie toestand te wees, met die uitsondering van haar geswelde temporale klier met oormatige temporale afskeiding. Dié afskeiding kan daarop dui dat sy stres ervaar, moontlik omdat sy alleen is.

“Met hierdie faktore in ag genome, is die debat oor hoe ons die bevolking laat uitsterf het en hoe die laaste olifant bestuur moet word baie emosioneel en ernstig, want sy is ’n simbool van hoe ons biodiversiteit as ’n geheel behandel,” sê hy.

“Dis die verantwoordelikheid van die samelewing, want ons het die olifante, wat eintlik savanneolifante is, by onherbergsame boshabitatte ingedwing weens honderde jare waarin hulle gejag en uit hul natuurlike habitat verjaag is.”

Die blare van die Knysnabosbome bevat min proteïen en baie vesel – ’n voedselbron van swak gehalte. Die grootste deel van die bosdak is 30-40 m hoog en buite bereik vir weiding. Die afleiding is dat die Knysna-olifante hul dieet aan die bosrand en in die fynbos moes aanvul.

Histories het die Knysna-olifante in hul duisende as ’n aaneenlopende bevolking honderde kilometers al langs die Suid-Kaapse kus geswerf. Hulle het tot ruigtes, fynbos en Karoohabitat toegang gehad.

Oor die afgelope 300 jaar of wat is hulle weens vervolging en menslike indringing gedwing om as ’n vlugtelingbevolking in die bos te skuil. Teen 1876 was die duisende Suid-Kaapse en Knysna-olifante volgens die amptelike verslae van bosbewaarders tot 400-500 diere verminder.

In 1920 het maj. P.J. Pretorius die laaste bekende wettige jagtog op Knysna-olifante uitgevoer. Hy het ’n permit gehad om een olifant dood te maak, maar vyf is in die proses dood en die olifante het tot sowat 13 verminder. Teen 1970 was daar net 11 (’n opname deur die Natuurlewevereniging); teen 1981 drie (rekords van die departement bosbou).

In 2007 het ’n DNS-ontleding van olifantmis ’n toename tot vyf olifantkoeie, ’n kalf en ’n teelbul getoon. Maar dié soort opname bied net statistiese ramings van bevolkingsgrootte en nie die werklike telling nie; dit doen die kamera-opname wel.

Olifant
Sy is die enigste olifant wat tussen Julie 2016 en Oktober 2017 in die bos gewaar is. Foto: Sanparke.

Noukeurige opvolgtellings is afgeskeep, en nou het ons net een oor. Sy kan tot 65 jaar oud word, wat vir olifante normaal is, en sy kan nog 20 jaar lank in die bos wees – maar dis onmoontlik om te voorspel.

“Dit is ’n reusagtige uitdaging om haar te bestuur, want sy is baie sku en vermy mense,” sê Graham.

“Dit is nie haalbaar om savanneolifante van ander bevolkings – van die Addo-olifant-Nasionale Park of Krugerwildtuin – in die bos in te voer nie. Dit is in September 1994 met drie jong Kruger-olifante probeer en het misluk. In minder as ’n maand is een aan stresverwante longontsteking dood. Die ander twee het die bos verlaat, konflik veroorsaak en moes op die ou end na die Shamwari-wildreservaat verskuif word.”

“Die laaste Knysna-olifant het dieselfde genetika as die Addo- en Krugerbevolking; dus ontstaan die vraag of sy uit die bos na ’n trop verskuif moet word. Die opsie om haar te vang en na êrens anders te verskuif sal vir haar gevaarlik wees. Ons weet nie eens of dit vir haar van waarde sal wees nie aangesien sy net die bos ken en dalk nie in ’n ander gebied by ander olifante sal kan aanpas nie.”

Dieselfde geld vir enige pogings tot kunsmatige bevrugting. Dis te gevaarlik, en as op dié oplossing besluit word, sal dit beter wees om haar na ’n ander olifantbevolking te verskuif. Maar dit sal vir haar te traumaties wees, sê Graham.

Hy sê ’n belangrike stem waarna geluister moet word in die besluit oor haar bestuur, is die mense van Knysna. Hulle sal waarskynlik nie wil sien dat sy die bos verlaat nie. “Dit kom neer op ’n samelewingsbesluit, want dis nie meer ’n bevolkingsbesluit nie; dit gaan oor die laaste Knysna-olifant se welstand. My mening is dat ons haar met rus moet laat.

“Hopelik het ons mense ’n nare les geleer, want dit is per slot van sake ons skuld dat ons hier met die laaste olifant sit. Sy is die metafoor vir ons behandeling van alle spesies wat saam met ons op die planeet woon.

“Die gesegde ‘die olifant in die vertrek’ kon nie meer gepas gewees het nie; sy sê vir ons ons maak groot foute en ons gaan baie meer as sy verloor as ons nie die waarde wat ons aan biodiversiteit heg en hoe ons dit bestuur, verander nie.”

  • Hierdie artikel het eers in Business Day verskyn.
Herrie oor studie

Nie almal stem met die uitslag van die studie saam nie. ’n Dag nadat Sanparke die bevinding bekendgemaak het, het Gareth Patterson, ’n olifantdeskundige en bewaringskundige, dit op sy Facebookblad betwyfel.

Hy het aan Huisgenoot verduidelik sommige meen die soort sensus wat in dié studie gebruik is, kan onakkuraat wees. Gareth, skrywer van die boek The Secret Elephants, het jare se veldwerk oor dié spesifieke olifante gedoen.

Hy het in 2007 ’n DNS-sensus uitgevoer wat aangedui het daar is vyf jong volwasse olifante in die bos. Die tweede sensus, wat hy in 2009 gedoen het, het dieselfde uitslag opgelewer – sowel as ’n sesde olifant wat die eerste keer nie opgemerk is nie.

Nog veldwerk het gedui op drie bulle en kalfies. Daarbenewens het Gareth ook die olifante se misbolle, wat hul ouderdom aandui, ontleed. Volgens hom het talle sulke metings die afgelope jare gewys daar is olifante van verskillende ouderdomme in die bos.

Hy beveel aan dat Sanparke eerder ’n vergelykende DNS-sensus doen om die huidige getal Knysna-olifante vas te stel.

Sanparke het by navraag gesê hulle is bewus van Gareth se destydse studie wat oor 15 jaar gestrek het, maar die situasie in die bos het sedertdien verander, soos hul studie toon.

Die organisasie sê hul studie is nie gedoen om ander wetenskaplikes verkeerd te bewys nie, maar hulle het gerapporteer wat van Julie 2016 tot Oktober 2017 in die bos bevind is.

Ongeag hoeveel olifante in die bos is, dit is alombekend dat die Knysna-olifant bedreig is. – Joanie Bergh