Hy was ’n gereelde klant by die hoekwinkel, ’n doodgewone man met ’n boepie en ylerige grys hare. Hy was beleef, sê die winkelklerk, en het dikwels in die winkel in Salisbury, Engeland, ’n spesifieke soort Poolse wors en ’n klompie krapkaarte kom koop.

'Doodgewoon'

Dit was tot hy en sy dogter “kata­­to­nies” in ’n nabygeleë parkie gevind is. Hulle het stuiptrekkings gekry en opgebring.

En in die nadraai van die chaos wat die rustige katedraalstad die nuus laat haal het, blyk dit toe Sergei Skripal (66) is g’n gewone ou nie, maar ’n gewese Russiese spioen.

Hy en sy dogter, Yulia (33), is met ’n uiters seldsame senugas aangeval. Teen ons druktyd het hulle in ’n hospitaal om hul lewe geveg terwyl ondersoekers van Scotland Yard naarstig probeer uitpluis wie die aanval uitgevoer het.  

Die twee het in een van Sergei se ander plaaslike uithangplekke, die ketting­restaurant Zizzi, geëet voor hulle in die park ineengesak het. Die polisieman wat hulle daar gekry het, veg ook om sy lewe.

Die eetplek waarin Sergei-hulle kort voor hul dood geëet het.

“Ons beskou dit as ’n ernstige voorval van poging tot moord deur die toedien van ’n senustof,” het Mark Rowley, hoof van teenterreurpolisië­ring, op ’n pers­konferensie gesê. Hy sê die aanval was spesifiek op Sergei en sy dogter gemik.

Spore van ’n uiters gevaarlike senu­middel is in Zizzi gevind en alle besmette items moes vernietig word, selfs die tafel waaraan Sergei en Yulia geëet het. Voorts is almal wat op 4 Maart daar en in die nabygeleë Mill-kuierkroeg geëet het, aangesê om al hul klere en besittings, selfs juweliersware en horlosies, te was.

Giftige senumiddels word as van die gevaarlikste wapens op aarde beskou.

Hoewel die sowat 250 polisielede wat die saak ondersoek nog nie nadere besonder­hede bekendgemaak het nie, het Sergei en Yulia blykbaar tuis met die middel in aanraking gekom.

Talle dele van die katedraalstad is afgesper ná die aanval op die oudspioen en sy dogter. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Ondersoekers dra biogevaarpakke om hulle te beskerm teen die middel wat in die aanval gebruik is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

’n Bron het aan Daily Mail gesê die ondersoekers vermoed ’n besmette kaartjie en bos blomme is aan hulle gestuur. Voor hulle uit is vir middagete, het hulle die blomme geneem na die grafte van Sergei se vrou, Lyudmila, en seun, Alexander.

Volgens Lyudmila se doodsertifikaat is sy in 2012 weens kanker dood, maar die bure hou vol die 59-jarige het in ’n pad­ongeluk gesterf. Alexander is verlede jaar op 43 weens lewerversaking oorlede. Scotland Yard ondersoek die moontlikheid dat albei vergiftig is.

'Hoogverraad'

Terwyl die aanvallers nog vasgetrek moet word, is dit maklik om hul motief te bepaal. 

In Rusland was Sergei, ’n kolonel, ’n gerespekteerde lid van die land se militêre intelligensie tot hy in 2004 in hegtenis geneem is. Twee jaar later het Moskou se militêre hof hom aan “hoogverraad by wyse van spioenasie” skuldig bevind omdat hy die identiteit van Russiese geheime agente in Europa aan Brittanje se geheime diens, MI6, verskaf het.

Rusland het beweer MI6 het hom met die jare sowat R1,2 miljoen vir vertrou­like inligting betaal wat hy sedert die 1990’s aan die Weste verskaf het.

Tydens Sergei se verhoor het die dagblad Komsomolskaja Prawda geskryf die onteerde kolonel het “lig daarvan afgekom”; in die Sowjettyd sou hy tereggestel geword het. Tog het hy nie eens sy volle vonnis van 13 jaar uitgedien nie.

In 2010 het die destydse premier, Dmitri Medwedef, hom begenadig. Hy was een van vier gevangenes wat Moskou in 2010 geruil het vir 10 Russiese spioene wat in Amerika aangekeer is. Hy het na Brittanje uitgewyk en ’n stil lewe gelei.

'Gelief onder inwoners'

Sergeo was sedert 2011 ’n bekende gesig in Salisbury.

Kringtelevisiemateriaal van hom kort voor sy dood in ’n winkel naby sy huis. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Sy bure ken hom as ’n vriende­like oudamptenaar in die plaaslike regering wat ’n BMW bestuur. Hy het saam met sy vrou, Lyudmila, gewoon tot sy vyf jaar gelede oorlede is. Daarna het hy ál meer op Yulia begin staatmaak. Sy mooi rooikopdogter het vermoedelik nog onlangs in Moskou gewerk, maar by haar pa en ma in Brittanje gewoon.

Sergei was gelief onder die inwoners. Ebru Ozturk (41), wat in die hoekwinkel Bargain Stop werk, sê sy het na sy gereelde besoeke uitgesien.

“Hy was soos ’n oupa,” sê sy. “Die laaste keer dat ek hom gesien het, was ’n paar dae gelede.”

Toe sy van die aanval hoor, het sy skoonmaker, wat naamloos wil bly, begin huil.

“Hy is ’n goedhartige man en ek was geskok toe ek uitvind hy is in die hospitaal,” sê sy.

Hy het ná sy skuldigbevinding vyf en ’n half afgryslike jare in ’n strafkolonie in die Russiese deelgebied Mordowië uitgedien.

“Hy het my vertel sy dogter kom van Rusland af Brittanje toe. Hy het eenkeer vertel hy was in die Russiese leër, maar nooit dat hy ’n spioen was nie.”

Min het hulle geweet die vriendelike buitelander het hom in taamlik merkwaardige omstandighede in hul onmerkwaardige stad tuisgemaak.

Hy het ná sy skuldigbevinding vyf en ’n half afgryslike jare in ’n strafkolonie in die Russiese deelgebied Mordowië uitgedien. Sy aanhouding was swaar, maar dit was selfs moeiliker om weg van sy gesin af te wees.

Uitruil van spioene

Die vier Russiese gevangenes wat in 2010 soos in ’n spioenasiefliek met die Weste uitgeruil is, is nie vooraf gewaar­sku nie, sê Igor Sutyagin, nog een van die mans wat destyds daarvan beskuldig is dat hy vir Brittanje en Amerika gespioeneer het. Maar hulle was nie van plan om ’n gegewe perd in die bek te kyk nie.

“Ek en Sergei het ure lank gesels,” sê Igor. “Ons was in dieselfde voertuig en toe op dieselfde vliegtuig. Hy was opgewonde om sy gesin weer te sien.”

Die Russiese wapenkunidge, Igor Sutyagin, agter tralies in Moskou, 7 April 2004. Hy is destyds 15 jaar tronkstraf opgelê nadat hy daarvan beskuldig is dat hy vir Amerika spioeneer het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op die landingstrook van die Weense lughawe is hulle uitgeruil vir 10 Russiese “onaktiewe agente” wat in Amerika deur die FBI gevang en na Moskou terug­gestuur is. As deel van die ooreenkoms is Sergei-hulle toegelaat om een familielid saam met hulle na Brittanje te neem. Met twee volwasse kinders was sy keuse voor die hand liggend – Lyudmila.

Igor het ’n openbare lewe in Londen gelei, ’n genoot by ’n navorsingsinstituut geword en lesings oor Wladimir Poetin se Rusland gehou. Die Skri­pals se nuwe lewe in die stil Salis­bury was die teenoorgestelde.

Hy het dikwels op ’n stoel in die ou kroeg aan ’n glas wodka sit en teug – hoe dan anders?

Al het ’n plattelandse lewe dalk idillies geklink ná ’n strafkolonie, het Sergei die omgewing waar­skynlik vanweë sy mili­têre agtergrond gekies. Soos The Guardian uitwys, is die gebied in ’n groot mate weermagwêreld. En ironies genoeg het hy waarskynlik gevoel hy is veilig tussen die golwende heuwels versteek.

Ná Lyudmila se afsterwe het Sergei by die Railway-vriendskapsklub aangesluit. Hy het dikwels op ’n stoel in die ou kroeg aan ’n glas wodka sit en teug – hoe dan anders?

“Dis baie moeilik om jou voor te stel iemand wat die Railway binnekom, is ’n Russiese spioen,” sê een van sy vriende. “Ons almal hoop hy is oukei.” 

BRONNE: DAILY MAIL, THE GUARDIAN, BBC, SKY NEWS
Ander aanvalle op spioene

Die Koue Oorlog tussen Rusland en die Weste is lankal verby, maar spioene van destyds slaap steeds met een oog oop.

Sedert die 1970’s is ’n rits Koue Oorlog-afvalliges wat na die Weste uitgewyk het glo deur Russiese of Sowjetsimpatiseerders vermoor. Hul voorkeurwapen? Gif. Maar hulle het ook al selfs vreemder metodes ingespan:

1978 Die Bulgaarse skrywer Georgi Mar­kov is op die Waterloobrug vermoor. ’n Onbekende sluipmoordenaar het met ’n spesiaal aangepaste sambreel ’n patroon wat die gif risien bevat het tot in Georgi se vel geskiet.

2006 Alexander Litvinenko, ’n gewese amptenaar in die Russiese veiligheidsdiens FSB, het gesterf nadat hy ’n koppie tee gedrink het wat met radioaktiewe polonium vergiftig is. ’n Voormalige KGB-agent en nog ’n man wat aan die Sowjetweermag verbind is, het hom dit gegee. Pres. Wladimir Poetin het enige Russiese betrokkenheid ontken.

2012 Die Russiese bankier in ballingskap German Gorbuntsov het oorleef nadat ’n aanvaller hom vier keer met ’n hand­masjien­geweer in die bors geskiet het.

2012 Die sakeman en fluitjieblaser Alexander Perepilichny het gesterf terwyl hy naby sy huis in Surrey gedraf het. In ’n voortgaande ondersoek is spore van ’n chemiese gifmiddel in sy maag gevind.

2013 Die biljoenêr Boris Bere­zovsky is in sy eksvrou se herehuis opgehang. Patoloë meen dit kan moord wees. Boris was uitgesproke teen sy eksprotégé Poetin.

2014 Scot Young, ’n vennoot van Boris, se lyk is gevind waar dit deur relings deurboor is nadat hy glo van ’n woonstel op die vierde verdieping in Sentraal-Londen gespring het. ’n Lykskouer het bevind dis dalk moord.

Bronne: Daily Mail, The Guardian, BBC, Sky News, Independent. 


Meer oor die gif

Maandag, 12 Maart 2018, het die Britse eerste minister, Theresa May, bekend gemaak die gif wat gebruik is, is nou geïdentifiseer. Dit staan bekend as Novitsjok, sover bekend die dodelikste gif, en is na bewering van Russiese afkoms.

Sy het Rusland vir die moordaanslag op Sergiy en Yulia aanspreeklik gehou en het dit as 'n "direkte aanval op ons land (Verenigde Koninkryk)" bestempel.

Die voormalige Russiese wetenskaplike wat glo gehelp het met die ontwikkeling van die senugas, Vil Mirzayanov (83), het die uitwerking van die gif as "afskuwelilk" beskryf.

Volgens hom veroorsaak die gif stuiptrekkings by die slagoffers en verminder die inname van suurstof. Dit gaan gepaard met "helse pyn".

"Dit is ware marteling. Selfs geringe dosisse kan die pyn vir weke laat voortduur. Daar is nie 'n manier waarop jy jou die afgryslikheid daarvan kan indink nie."