"Ek het ’n roomys in die vorm van ’n hond geëet," spog ene Penguin4466 op haar Reddit-blad. Sy plaas graag foto’s van allerhande vreemde kos wat sy in haar tuisland, Taiwan, eet.

Maar die voor en ná foto’s wat sy geplaas het van roomys wat soos honde lyk, het nie in almal se smaak geval nie. Sy het dit vir sowat R134 by die J.C.co-restaurant in Kaohsiung, Taiwan, bestel.

"Die probleem wat ek daarmee het: dis dieselfde as pretparke met kamma-olifante waarop kinders ry. Dit skep ’n indruk en ’n kultuur dat dit reg is om op olifante vir pret te ry," vertel Herman H. Le Roux, ’n bekende diereaktivis van Pretoria, aan Huisgenoot.com.

"Die kind sien nou die hond as roomys. Dan is dit mos aanvaarbaar om honde te eet. Hierdie siening kan onbewustelik bevestig word. Daar is plekke in die wêreld waar dit oukei is om dié diere wreed dood te maak en te eet."

"Ek voel nie dis iets om ’n groot bohaai oor te maak nie, maar ek stem nie saam daarmee om so iets te doen nie. Die honde lyk baie lewensgetrou," voeg hy by.

Almal het aanvanklik ge-oe en ge-a toe hulle die hondvormige roomysfoto’s sien. Maar toe sy die foto plaas van hoe die hondjie lyk nadat sy hom met ’n lepel getakel het, het diereliefhebbers van hulle laat hoor.

"My brein hou nie hiervan nie," skryf BadEgg1951.

"Mal detail – ek sal sleg voel om dit te eet," vertel een. "Dis net soos om ’n regte hond te eet," laat nog ’n internetgebruiker hoor. 

"Goed gedoen, maar dis grieselrig," skryf Leanne Chan op nextshark.com.

Wat dink jy?