Met hare wat al effens yl begin word, ligte sproete op sy neus en ’n glinsterende oorbel lyk die jong man voor ons nes sy beroemde krieketspeler-pa, Herschelle Gibbs.

Herschelle wil op 43 glo terugkeer na topkrieket. Foto: Papi Morake

As kind het hy gereeld langs die speelveld sit en kyk hoe Herschelle die grensballe moker. “Hy was my rolmodel,” sê Rashard Gibbs oor die voormalige Protea-openingskolwer. Hy het sy pa altyd bewonder, vertel Rashard (21).

Maar op 15 het hy begin besef dis sy pa se beeld as sportheld en sy leefstyl wat hom beïndruk het – nie Herschelle (43) as mens nie. “Hy is iemand vir sy aanhangers. Nie vir sy familie nie. Alles gaan net oor Herschelle,” sê Rashard waar hy en sy ma, Liesl Fuller (39), in ’n koffiekroeg in Modderfontein met ons gesels.

Die afgelope jare is dit al die verjaardae, Kerstye en ander spesiale oomblikke sonder sy pa wat hy die meeste onthou. Liesl vertel sy het haar seun in die verlede beskerm deur vir die media ’n front van ’n gelukkige verhouding met sy pa voor te hou.

“Maar ek was nog altyd die een wat die skerwe moes optel as Herschelle hom teleurstel.” Sy en Rashard het egter nou besluit om hul hart uit te praat.

“Ek gaan nie langer vir mense sê dit gaan goed en Herschelle is so ’n wonderlike pa nie. Hy was nooit daar nie. Hy was nooit ’n pa vir Rashard nie,” sê sy.

Herschelle speel deesdae vir die Pinelands-klubspan in die Kaap en wil glo weer plaaslike topkrieket speel. Rashard is self ’n belowende jong krieketspeler. Maar vir Herschelle sal jy nie tussen die toeskouers aantref waar sy seun speel nie, vertel Rashard en sy ma.

My grootste bekommernis is my kind se welstand
Liesl Fuller

Dit was 1992 toe Liesl en Herschelle mekaar op Stellenbosch ontmoet. Sy was toe 13 jaar oud en hy ’n matriekseun en belowende krieketspeler wat in ’n Wes-Kaapse skoletoernooi gespeel het.

Hulle het aangehou om mekaar te sien en vier jaar later het Liesl, toe self in matriek, swanger geraak met Rashard.

“Hy het die idee gehad dat ek hom in ’n strik probeer vang het toe ek swanger raak. Dit was nie die geval nie. Ek was jonk en naïef. Ek was ook maar net ’n kind,” vertel sy.

Daarna het hy hom glo algaande van Liesl onttrek.

“Die dag toe Herschelle sy debuut vir die Proteas maak, was die dag toe sy seun gebore is,” vertel Liesl.

Volgens haar wou Herschelle niks van Rashard weet nie en het hy net ingestem om maandeliks onderhoud te betaal.

“Ek het aanhou probeer en gesmeek dat hy sy seun ontmoet, maar toe Rashard drie jaar oud word, het ek moed opgegee.”

Volgens Liesl het sy 14 jaar lank elke maand net meer as die helfte van ’n bepaalde bedrag van Herschelle ontvang en het hy dit nooit verhoog nie.

Op 1 November verlede jaar het Rashard 21 geword, maar Herschelle was nie by die verjaardagviering nie. “Hy het my wel gebel op my verjaardag, maar ek het nooit ’n geskenk van hom gekry nie,” vertel Rashard.

Herschelle saam met Rashard. Volgens die 21-jarige skolekrieketafrigter was hy gelukkig as hy sy pa een keer per jaar gesien het. Foto: Verskaf
Volgens Liesl het Herschelle hom algaande onttrek nadat Rashard gebore is. “Die dag toe Herschelle sy debuut vir die Proteas maak, was die dag waarop sy seun gebore is.” Foto: Lubabalo Lesolle

“As ons hom nie na die wedstryde geneem het nie, sou hy hom nooit gesien het nie. My grootste bekommernis in dié stadium is my kind se welstand. Ek het hom nog nooit so emosioneel gesien soos nou nie. Sy pa se afwesigheid het hom ingehaal.

“Herschelle plaas graag ’n foto op Instagram wanneer hy Rashard gesien het, maar mense besef nie dis een keer per jaar nie – as hy (Rashard) gelukkig is,” vertel Liesl.

Hul seun het verlede jaar besluit om hom op krieket toe te spits en speel nou vir die Witwatersrand se span in die premierliga. Hy beoog om middel vanjaar in Engeland te gaan klubkrieket speel. “Ek moes dit alles ook reël en kontak maak met ’n vriend in Engeland wat hom kan help,” sê Liesl.

“Herschelle was woedend en het vir my gesê ek weet nie wat ek doen in die sportwêreld nie. Maar hy doen self niks om te help nie.” Volgens Rashard sou hy graag wou hê sy pa moet wees soos sy ou spanmaat die snelbouler Makhaya Ntini, tot onlangs boulafrigter van Zimbabwe.

“Makhaya het in Desember sy hele gesin Zimbabwe toe gevlieg. Hy het ook van Zimbabwe af gekom om te sien hoe sy seun, Thando, in Potchefstroom speel.

“Ek wil net hê my pa moet daar wees vir my en tyd maak om my te sien.”

Herschelle het teen druktyd ná vele navrae deur Huisgenoot nie kommentaar gelewer nie.