Die geliefde pop, wat die meeste meisietjies se harte gesteel het, het in 1959 vir die eerste keer haar verskyning gemaak. Sedertdien was sy net as Barbie bekend.

Maar nou, ná byna 60 jaar wat sy deel van soveel huishoudings geword het, het Barbie op Twitter haar van bekendgemaak: Roberts. 

Haar volle naam is Barbara Millicent Roberts. Barbie is glo net haar bynaam. 

Haar ouers (ja, sy het natuurlik ouers!) heet George en Margaret Roberts. 

Maar die verrassings hou nie daar op nie.

Haar kêrel, Ken, die gespierde, manlike weergawe van die blonde Barbie, wat twee jaar ná haar sy debuut op die winkelrakke gemaak het, se van is Carson.

Barbie het intussen ook op Twitter bekendgemaak sy het drie susters. Aanhangers het die nuus met skok begroet.

Barbie het glo 'n suster gehad met die naam Kristine wie se vervaardiging in 2001 gestaak is, asook Kelly wat in 2010 deur Chelsea vervang is.

Sien, elke familie het maar sy probleme. Selfs Barbie s’n.