Daar’s ’n nuwe sagteware-gogga en dit is besig om iPhone-gebruikers in gevalle letterlik tot trane te dryf.

Selfs iPad- en Mac-gebruikers kan ook dieselfde probleem ervaar.

En volgens die nuusagentskap Reuters is dit is alles te wyte aan ’n enkele karakter in Telegu, een van die amptelike tale wat naas Engels, Hindi en Bengali in verskeie Indiese provinsies gepraat word.

Slimfone wat op die iOS 11-platform funksioneer, word die meeste hierdeur geraak. Apps raak halstarrig en mag selfs vries.

Die apps wat veral hierdeur geraak word, is die volgende: Messages, Safari, WhatsApp, Facebook Messenger, Outlook (vir iOS) en selfs Gmail vanaf jou selfoon. Skype word sover bekend nie hierdeur geraak nie.

Die gogga stuur die Indiese karakter na jou selfoon. Die oomblik wanneer jou iPhone die boodskap ontvang, sal dit in duie stort. Jy gaan in alle waarskynlikheid nie eers boodskappe kan ontvang nie.

The Verge sê die enigste manier om weer toegang tot jou iMessages te kry, is om iemand te vra om vir jou ’n boodskap te stuur, en dan moet jy probeer om die boodskaplyn (‘thread’) te probeer uitwis.

Jy moet ook ontslae raak van die hele gesprek met die persoon deur wie die karakter ingeglip het.

Wat kan jy doen?

Gradeer jou iPhone dadelik op om ’n moontlike aanval te verhoed.

Apple het nuwe sagteware vrygestel wat sal verhoed dat die enkele karakter iewers by ’n agterdeur kan inglip. Die weergawe wat nou installeer moet word, is iOS 11.2.6.

Gaan na Settings > General > Software update. (Daar sal gewoonlik, afhangend van hoe jy jou iPhone opgestel het, ’n rooi sirkeltjie verskyn met ’n nommer wat as aanduiding dien waar nuwe sagteware beskikbaar is).

Klik op Software update en installeer die nuwe sagteware. Gelukkig is dit nie 'n reusagtige groot bondel wat gelaai moet word nie.

Volg die instruksies op die skerm.

Doelbewuste sabotasie

Nadat die identiteit van die Telugu-karakter bekend geword het, het die verwagte natuurlik gebeur.

Mense het begin om doelbewus die karakter via Twitter aan diegene met iPhones te stuur. En hulle dink dis baie snaaks. Volgens 9t95mac is daar ’n manier waarop jy hierdie doelbewuste sabotasie kan verhoed.

Verkry toegang tot jou Twitter-rekening op ’n toestel wat nie ’n Apple-produk is nie. Soek dan vir die karakter in jou Twitter-rekening en blokkeer die persoon wat dit aan jou gestuur het.

Bronne: reuters.com, macrumors.com, 9to5mac.com, cnbc.com, theverge.com