Dit was ’n Vrydag­aand en die middestad van Stockholm het ge­wemel van mense wat tussen kroeë en res­taurante drentel. Stil tussen hulle het die Sweedse premier, Olof Palme, en sy vrou, Lisbeth, gewandel.

Die egpaar het op die ingewing van die oomblik gaan fliek en, soos dikwels tevore, besluit om nie lyfwagte saam te neem nie. Maar op dié aand in Februarie 1986 het die besluit Palme sy lewe gekos.

Palme is in die rug geskiet terwyl hy en sy vrou,
Palme is in die rug geskiet terwyl hy en sy vrou, Lisbeth, in Stockholm se strate gewandel het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om 23:21 het die twee afgestap langs die Sveavägen, een van die stad se besigste strate, toe ’n lang man in ’n donker jas tot agter hulle loop, sy een hand op Palme se skouer sit en met sy ander ’n enkele koeël in die premier se rug afvuur.

Hy het Lisbeth met ’n tweede koeël skrams getref voor hy gevlug het.

Omstanders het hulle dadelik gehaas om Palme te probeer bybring waar hy in ’n plas bloed op die sypaadjie gelê het. Ses minute later is hy na die naaste hospitaal geneem, waar hy kort ná middernag dood verklaar is.

Geskokte omstanders drom op die moordtoneel saam.
Geskokte omstanders drom op die moordtoneel saam. Foto: Gallo Images/Getty Images

Later is bevind die koeël het sy ruggraat in twee gesny en hy is dood voor hy die grond getref het.

Al het meer as 20 getuies die skieter gesien, is dié feite steeds min of meer al wat vir seker bekend is oor die moord wat Swede in ’n tyd van skok en verwarring gedompel het.

Vir sy burgers was Palme meer as ’n politikus. Hy het Swede se linkse So­siaal-Demokratiese Party, wat ’n groot deel van die 20ste eeu aan bewind was, meer as 16 jaar lank gelei.

Dié party was verantwoordelik vir baie van die beleid wat mense gewoonlik met Swede verbind, onder meer hoë belastings en ’n sterk maat­skaplike welstandstelsel. Palme het nie net die party beliggaam nie; hy was die verpersoonliking van hul waardes.

Contra, ’n gewilde konserwatiewe tydskrif, het veerpylborde met ’n karikatuur van sy gesig verkoop.

Om dié rede was hy onder baie burgers geliefd, maar onder ander gehaat. Paranoïese Sweedse regses het aantygings gemaak dat hy ’n Sowjetspioen was. Contra, ’n gewilde konserwatiewe tydskrif, het veerpylborde met ’n karikatuur van sy gesig verkoop.

Palme het menings so verdeel dat die speurder Lennart Gustafsson, wat van 1986 tot 2016 aan die moordsaak gewerk het, in 2012 aan ’n verslaggewer gesê het: “Jy kon die helfte van die Sweedse bevolking daarvan verdink het.”

Meer as 10 000 mense is ondervra in die saak waarvan die lêers nou meer as 250 m se rakruimte in Swede se nasionale polisiehoofkwartier in beslag neem. Dit maak dit die grootste aktiewe argief van ’n moord­ondersoek ter wêreld.

Sven Lennart Gustafsson het van 1986 tot 2016 aan
Sven Lennart Gustafsson het van 1986 tot 2016 aan die saak gewerk. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2010 het Swede die verjaringswet op moorde geskrap, spesifiek sodat ondersoekers so lank as wat nodig is hul soektog na Palme se moordenaar kon voortsit.

Die raaisel van sy dood het ’n landwye obsessie geword en rolprente, toneelstukke en musiek geïnspireer. Dit word selfs ’n faktor genoem in die wêreldwye ontploffing van Skandinawiese misdaadfiksie.

Palmesiekte

Voor die misdaadromanskrywer Stieg Larsson se dood in 2004 het hy aan ’n teorie oor die saak gewerk wat ’n internasionale ­sameswering behels. Die Sweedse polisie ondersoek hierdie teorie nou in alle erns.

’n Aantal Sweedse amateurspeurders het ’n groot deel van hul lewe daaraan gewy om die saak te probeer oplos. Hul ondersoeke het party van hulle die wet laat oortree en ander gedryf tot iets wat aan kranksinnigheid grens.

Party Swede noem dit Palmessjukdom – “Palmesiekte”.

Meer as 130 mense het valslik die misdaad erken.

“Swede kry die idee van dié grusame trauma met die moedersmelk in,” sê Måns Månsson, ’n regisseur wat ’n fliek oor die moord gemaak het. “Dis moeilik om te laat vaar.”

Van die oomblik dat die eerste noodoproep ná die skietvoorval gemaak is, is Swede in ’n chaos gedompel. Op­names van vroeë gesprekke tussen die polisie en hul hoofkwartier, beamptes op Palme se moordtoneel en personeel by die hospitaal is meestal uitdrukkings van ongeloof.

“Wat? Nee! Ons premier?” vra ’n polisiebeampte.

Die polisie het nagelaat om die misdaadtoneel behoorlik af te sper en ’n te klein area gedek. Een van die koeëls is eers twee dae later deur ’n verbyganger op die sypaadjie opgetel.

Rouklaers wat in die ure ná Palme se dood opgedaag het, het verby die band geglip om blomme naby die plas bloed neer te sit en so toekomstige soektogte na die moordenaar se voetspore nutteloos gemaak.

Eerste moordondersoek

In daardie stadium het dit gelyk of niemand werklik in beheer was nie. Hans Holmér, destyds die hoofkonstabel van Stockholm se polisie, het saam met sy minnares in die noorde van die land geski.

Hy het nooit tevore ’n moord­ondersoek gelei nie, maar toe hy die nuus vroeg die volgende oggend kry, het hy hom na die stad teruggehaas en beheer oor die ondersoek geneem. Hy het ten minste in die rol gepas, met ’n hoekige gesig, hardekoejawelhouding en ’n reeks leerbaadjies.

Van sy eerste TV-­verskyning het hy die rol vertolk van die held waarop die geskokte land kon staatmaak. Die publiek het kort voor lank sy kantoor met ruikers en sjokolades toe­gegooi en die media het hom as Swede se Clint Eastwood geloof.

Hans Holmér het in 1986 die ondersoek gelei. Foto:
Hans Holmér het in 1986 die ondersoek gelei. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ondanks sy gewildheid was Hans nie vir die taak opgewasse nie. Een van sy eerste stappe was om ’n saamgestelde skets uit te reik van ’n verdagte wat naby die moordtoneel gesien is.

Maar leemtes tussen die veronderstelde waarnemings van die vlugtende moordenaar het beteken niemand kon seker wees die man in die skets was werklik die moordenaar nie.

Nietemin het die skets van die verdagte, ’n man met ’n Nordiese voorkoms en ’n lang neus en dun lippe wat die Sweedse media “die Skim” gedoop het, in elke koerant in die land ver­skyn.

Oor die volgende dae het die polisie meer as 8 000 wenke van die publiek ontvang oor bure en kennisse wat soos die Skim lyk.

Sewentien dae ná die moord is die eerste verdagte in hegtenis geneem. Hy het bande gehad met regse groepe wat geglo het Palme was ’n geheime KGB-agent, maar is gou weer vrygelaat weens ’n gebrek aan bewyse.

Die militante Koerdistan-Werkersparty (PKK)

Teen daardie tyd het Hans hom op ’n ander teorie toegespits: dat lede van die militante Koerdistan-Werkersparty (PKK) ’n sluipmoord op die premier uitgevoer het.

Palme se regering het die groep, wat ’n buitepos in Stockholm gehad het, kort tevore tot terroristeorganisasie verklaar. Maar die enigste ander rede om die teorie aan te voer was skynbaar dat die PKK ’n maklike sondebok was. Daar was so te sê geen bewyse teen die groep nie.

Ondanks die gebrek aan bewyse het die polisie vroeg in 1987 ’n klopjag op ’n boekwinkel in Stockholm uitgevoer wat as ’n basis vir die PKK gedien het. Vyftig lede is in hegtenis geneem, maar die klopjag het niks van waarde vir die ondersoek opgelewer nie.

Die koerante het oor dié mislukking teen Hans gedraai en hom met inspekteur Clouseau van Pink Panther vergelyk. Hy het kort daarna in oneer bedank.

Daarna het sake net nog meer bisar geraak.

In die geheim het Hans voortgegaan om as ’n privaat burger die PKK-teorie na te jaag. Tot in 1988 toe hy en die joernalis Ebbe Carlsson vasgetrek is omdat hulle onwettige meeluistertoerusting in Swede probeer insmokkel het om te kon voortgaan om lede van die groep dop te hou.

Dit was ’n nasionale skandaal – die land se eertydse held wat die wet oortree om ’n gediskrediteerde teorie oor die premier se sluipmoord te ondersoek – nog voor ontdek is die destydse minister van justisie, Anna-Greta Leijon, was ook deel van die komplot.

Christer Pettersson

In 1988 het die Sweedse polisie ’n nuwe hoofondersoeker aangestel. Dié het ’n leidraad opgevolg wat Hans laat vaar het: ’n man wat op die aand van die moord verdag opgetree het naby die fliekteater waar die Palme-egpaar was.

Daar was ook ’n moontlike verdagte, Christer Pettersson, wat aan die man se beskrywing voldoen het. Drie kennisse het na vore gekom om te sê Pettersson, wat dikwels in Sveavägen rondgehang het, was beslis tot moord in staat: Hy het tronkstraf uitgedien omdat hy lukraak iemand met ’n bajonet doodgesteek het.

Waar Hans soos ’n storieboekheld gelyk het, was Pettersson ’n storieboekskurk, met ’n sterk voorkop, afwaartse mondhoeke en wilde oë. Al het hy geen voor die hand liggende motief gehad nie, het die polisie hom op 14 Desember 1988 in hegtenis geneem.

Christer Pettersson is skuldig bevind, maar later
Christer Pettersson is skuldig bevind, maar later vrygespreek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dieselfde aand het Lisbeth Palme na ’n video-uitkenningsparade gekyk wat Pettersson ingesluit het en hom as haar man se moordenaar uitgeken.

Pettersson het volgehou hy is onskuldig, en geen forensiese bewyse kon hom aan die moord­toneel verbind nie.

Jy kan sien wie die alkoholis is.

Maar op grond van Lisbeth se uitwysing is hy ná ’n sewe weke lange verhoor in Julie 1989 skuldig bevind en lewenslange tronkstraf opgelê. Vir ’n oomblik het dit gelyk of die landwye trauma verby was.

Maar Pettersson se prokureurs het dadelik teen die besluit appèl aangeteken. Hulle het aangevoer die polisie het voor die uitkenningsparade vir Lisbeth gesê die verdagte drink swaar.

Sy het Pettersson geïdentifiseer deur te sê “Nommer agt pas my beskrywing” en toe, deurslaggewend:“Jy kan sien wie die alkoholis is.”

’n Mengeldrankie van Baileys en wodka het daarna in kroeë in Stockholm gewild geraak. Dit is Die Moordenaar genoem.

Pettersson is in Oktober 1989 vry­gelaat. Op ’n nou ikoniese foto keer hy na sy woonstel terug met bottels wodka en Baileys Irish Cream in sy hande asof hy vir die publiek wil wys hoe hy van plan is om sy vryheid, en die duisende wat vir sy verkeerdelike inhegtenisneming aan hom toegestaan is, te vier.

’n Mengeldrankie van Baileys en wodka het daarna in kroeë in Stockholm gewild geraak. Dit is Die Moordenaar genoem.

Pettersson het nie uit die openbare oog verdwyn nie. In die jare ná sy vrylating het hy die media groot bedrae geld gevra vir onderhoude waarin hy vir ’n erkenning uitgelok en omgekoop is.

Hy het ­geskimp oor die moontlikheid dat hy skuldig was, maar nooit ’n bekentenis gemaak nie. Hy is in 2004 dood. As hy die premier vermoor het – wat baie Swede steeds glo – het hy die geheim na sy graf geneem.

Teen die begin van die 1990’s is soveel tyd en geld bestee om Pettersson en die PKK vergeefs te vervolg dat basiese vrae oor die moordaand onbeantwoord gebly het.

Geen geloofwaardige verdagte

Waar was die moordwapen, vermoedelik ’n Smith & Wesson .357-magnum-rewolwer? Hoekom is getuies se vermelding van mans met tweerigtingradio’s naby die toneel nie ernstig opgeneem nie? Was die polisie se onbevoegdheid te uitermate om toevallig te wees?

Oor die volgende twee dekades het die amptelike ondersoek voortgeploeter. Al het minstens vier verskillende hoof­ondersoekers die saak tussen 1988 en 2013 oorgeneem, is nie een geloofwaardige verdagte in hegtenis geneem nie.

Vanweë die gebrek aan amptelike vordering het amateurondersoekers hul eie oplossings vir die saak nagejaag.

Geen teorie was te vergesog nie: Palme se vrou het hom oor sy herhaaldelike ontrouheid vermoor. Die mense wat vir Palme se moord verantwoordelik is, is dieselfdes wat die VSA se pres. John F. Kennedy vermoor het. Dit was feministe wat kop in een mus was met Sciëntoloë. Dit was selfmoord.

Party, heelwat geloofwaardiger, teorieë het gekom van toegewyde Palme-fanatici bekend as privatspanarna, of privaat speurders. Dis mense wat hul lewe daaraan wy om ’n oplossing vir die saak te kry.

Die Skandia-man

Onlangs het die werk van party joernaliste en privatspanarna teorieë begin oplewer wat die amptelike polisieondersoek beïnvloed. Verlede somer het die Sweedse tydskrif Filter die uitslae van ’n 12 jaar lange ondersoek gepubliseer waar­volgens die moordenaar ’n getuie genaamd Stig Engström in die saak was.

Engström is in Swede bekend as die “Skandia-man”, want hy het gewerk vir dié versekeringsreus wat kantore langs die moordtoneel gehad het. Polities was Engström stewig na regs van Palme.

Thomas Pettersson, die joernalis wat die tydskrifondersoek gelei het, het ontdek Engström het voorheen in die Sweedse leër gedien. Thomas beweer Engström sou wapenopleiding gehad het en, deur ’n vriend met ’n groot vuurwapenversameling, toegang tot die soort .357-magnum waarmee Palme blykbaar geskiet is.

Rekords van die Skandia-kantoor toon Engström het die gebou om 23:19 verlaat, twee minute voor Palme vermoor is.

Engström het homself in 2000 om die lewe gebring. Sy vrou, van wie hy die vorige jaar geskei is, meen hy was te veel van ’n lafaard om Palme te vermoor.

Maar sy het onlangs aan die koerant Expressen gesê die polisie het haar in 2017 twee keer ondervra. Expressen het ook berig die polisie het Thomas, die joernalis agter die ondersoek, as ’n kenner in die saak ondervra.

Die polisie verken ook ’n teorie wat deels ontwikkel is deur die beroemdste mens wat ’n privatspanarna geword het, Stieg Larsson. Benewens die skryf van die blitsverkoper Millennium-­trilogie het Stieg ’n lang loopbaan as ondersoekende joernalis gehad.

Stieg Larsson. Foto: Gallo Images/Getty Images
Stieg Larsson. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die teorie waaraan hy gewerk het toe hy in 2004 weens ’n hart­aanval dood is, is dat die moord uitgevoer is deur ’n internasionale sameswering bestaande uit twee groepe met verskillende motiewe maar ’n gedeelde oortuiging dat Palme moes sterf.

Die Suid-Afrikaanse konneksie

Die eerste groep het bestaan uit pro-­apartheidslede van Suid-Afrika se sekuriteits- en intelligensiedienste. Palme was ’n uitgesproke teenstander van die apartheidsregime, en sy regering het miljoene se humanitêre hulp aan die ANC gegee.

Teorieë oor Suid-Afrikaanse betrokkenheid by sy moord doen al sedert die vroegste dae van die saak die rondte.

Dit het in 1996 besonder gewild geraak toe ’n voormalige bevelvoerder van ’n Suid-­Afrikaanse polisiemoordbende beweer het die moord op Palme was deel van Operation Long Reach, ’n hoogs geheime program om teenstand teen die apartheidsregering binnelands en in die buiteland te neutraliseer.

In 1982 het lede van die operasie die anti-apartheidsaktivis Ruth First in Mosambiek vermoor en ’n bom by die ANC se kantoor in Londen geplant.

Die aktivis Ruth First en haar man, Joe Slovo. Som
Die aktivis Ruth First en haar man, Joe Slovo. Sommige glo dieselfde mense wat haar vermoor het, het Palme ook vermoor. Foto: Shutterstock

Die tweede groep wat Stieg geïdentifiseer het, bestaan uit ekstremiste in Swede wie se netwerke Stieg al voor die Palme-­moord ondersoek het.

Een van die mans wat Stieg gemeen het by die sluipmoordkomplot betrokke was, was ’n Sweedse huursoldaat, Bertil Wedin, wat glo vir die Suid-Afrikaanse spioen in beheer van Operation Long Reach gewerk het.

Stieg het beweer Wedin het Palme se sluipmoordenaar, ’n Sweedse ekstremis, gewerf. Wedin ontken enige betrokkenheid by die saak en is nooit aangekla nie.

Sweedse polisieondersoekers het Suid-­Afrika in Oktober 1996 besoek en sê hulle kon geen bewyse van die sameswering oopvlek nie.

Nuwe bewyse

Jan Stocklassa, wat Stieg se ondersoek ná Stieg se dood voortgesit en sy ondersoek oor die saak in 2018 gepubliseer het, het vir my gesê hy meen die sluipmoordenaar leef nog en word tans deur die Sweedse polisie ondersoek.

Waar die nieamptelike ondersoeke ná sy dood momentum gekry het, is dit eers in die afgelope paar jaar dat nuwe lewe in die amptelike Palme-ondersoek geblaas is.

Ongelooflik genoeg het nuwe fisieke bewyse ná 30 jaar opgeduik. Verlede jaar het ondersoekers ’n tweerigtingradio gekry wat glo twee dae ná die moord op ­Palme in die omgewing opgetel is.

Dis onduidelik hoekom die persoon wat die ­radio gekry het, en na wie ondersoekers in die openbaar met ’n skuilnaam verwys, dit so lank gehou het of hoekom die persoon besluit het om dit nou in te lewer.

’n Tweerigtingradio is naby die toneel gekry. Foto
’n Tweerigtingradio is naby die toneel gekry. Foto: Gallo Images/Getty Images

As die toestel met Palme se moord verband hou, dui dit daarop dat meer as een mens betrokke was. Luidens berigte word die tweerigtingradio se mondstuk vir DNS getoets.

Intussen is Swede se premier, Stefan Löfven, desperaat op soek na antwoorde. Hy noem die saak “ ’n oop wond in die Sweedse samelewing” en sê: “Dis uiters belangrik dat dit opgelos word.”

Minder as ’n jaar ná Palme se dood het ’n anonieme lid van sy personeel aan The New York Times gesê die kans dat die moord opgelos word, is minder as 10%.

“Dit is nie ons probleem nie,” het die bron bygevoeg. “Ons probleem is wat die mense van Swede glo gebeur het en hoe hulle dit hanteer.”

Sonder ’n oortreder, motief of skuldigbevinding sweer die probleem drie dekades later steeds.

© The Guardian
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.