Laat een nag in 2001 maak die romanskrywer Michael Peterson ’n noodoproep: Sy vrou het by die trap afgeval. Hy word weens moord in hegtenis geneem.

Hy ontken skuld. Vyftien jaar lank volg ’n rolprentmaker Michael se doen en late terwyl hy skuldig bevind, tronkstraf opgelê en dan vrygelaat word. Die uiteinde is ’n aangrypende waremisdaadtelevisiereeks.

Maar is hy ’n moordenaar? Dis 02:40 in die vroeë oggendure van Sondag 9 Desember 2001. ’n Noodoperateur in Durham, Amerika, ontvang ’n oproep van ’n plaaslike inwoner, Michael Peterson, ’n 58-jarige Viëtnam-oorlogsveteraan.

Op die opnameband hyg Michael en begin hy kerm. “My vrou was in ’n ongeluk,” sê hy. “Sy haal nog asem.” “Watter soort ongeluk?” “Sy het by die trap afgeval! Sy haal nog asem!”

“Sy haal nog asem.” Vreemde woordkeuse, dink jy dalk. Hy sê verder: “Asseblief! Asseblief! Stuur dadelik iemand hierheen!” Die paramedici daag ’n paar minute later op.

Daarna die polisie. Michael se huis in Cedarstraat 1810 is ’n herehuis van 929 m² met ’n groot ingangsportaal, ses slaapkamers en twee stelle trappe – ’n gekromde een voor en ’n smal, steil stel agter vir die huiswerkers.

Aan die onderpunt van die werkerstrap lê Michael se vrou, die 48-jarige Kathleen Peterson. As sy 10 minute tevore nog asemgehaal het, haal sy beslis nie nou meer asem nie.

Kathleen Peterson. Foto: Gallo Images/Getty Images

Michael se huis, sê die polisie, is nou ’n misdaadtoneel. ’n Toneel wat hulle tot in die fynste besonderhede ontleed het. Hulle het onder meer 10 000 bloedspatsels teen die mure ontdek.

Die bloed was byna droog. Van die spatsels was bo-op bloedsmeersels. Onder en om die liggaam was ’n plas gestolde bloed. Bloed het deur die bokant van Kathleen se ligte katoenbroek gesyg; agter aan haar linkerbroekspyp was ’n bloederige voetspoor van een van haar man se tekkies.

Kathleen het sewe skedeldiep-snywonde agter aan haar kopvel. Die skedel self was nie gekraak nie, maar daar was tekens van “rooi neurone” in die brein. Dit dui daarop dat sy weens bloedverlies dood is en dat dit tussen 90 minute en twee uur geduur het. Van die kraakbeen in Kathleen se nek is gekraak.

In haar hand het sy ’n klos van haar eie hare, dennenaalde en veertjies vasgehou. Daar was bloed aan die kruis van haar man se kortbroek, en water was kort tevore daarop gespat.

Toe Kathleen Peterson dood aangetref is aan die onderpunt van die trap in hul huis in Noord-Carolina, Amerika, het haar man, Michael, se storie nie lekker gestrook nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

En toe hulle luminol (’n chemiese stof wat bloedoorblyfsels blou laat gloei) op die kombuisvloer spuit, het die polisie gesien dit lyk asof iemand bloederige voetspore na die wasbak en wasmasjien skoongemaak het.

Die bewyse op die toneel dui daarop Michael het sy vrou vermoor. Hy is in hegtenis geneem, tronk toe gestuur, op borgtog vrygelaat en later deur ’n jurie vir moord met voorbedagte rade verhoor. Hy het onskuldig gepleit.

Tydens hierdie proses, en nog 15 jaar daarna, het die Franse rolprentregisseur Jean-Xavier de Lestrade Michael, wat volhou hy’s onskuldig, afgeneem.

Jean-Xavier het onder meer Michael se gesinslewe, sy intieme gedagtes en sy verhouding met sy peperduur prokureur vasgevang. Die uiteinde is The Staircase, ’n boeiende waremisdaadreeks wat nou op die stroomdiens Netflix beskikbaar is. In die loop van die 13 episodes van dié reeks sal jy Michael baie goed leer ken.

Of dalk glad nie. Hy kan dalk onskuldig wees – bloot die slagoffer van afgryslike omstandighede. Of ’n sosiopatiese moordenaar. Jean-Xavier wil hê jy moet daaroor wonder en bly wonder.

Kykers van die reeks tref Michael die eerste keer in sy huis aan, waar hy sy weergawe van die gebeure vertel. Hy klink, sou ek sê, baie soos ’n skuldige man. Hy sê hy het ’n fliek saam met sy vrou gekyk, wat “teen elfuur” klaar was.

Hulle het toe ’n glas wyn buite op die terras gedrink. Daarna het hulle van die terras na die swembadarea gestap – ’n redelike ent. Dis ’n groot tuin met ’n beboste omgewing met uitgegroeide bome.

Volgens Michael se weergawe stap hulle by die bome verby en gaan by die swembad sit. Hou in gedagte dat dit laat is. Dis Desember, winter in Amerika. Dis 12 °C. Teen dié temperatuur sou jy nie in jou gemaksone gewees het nie, het ’n meteoroloog later gesê.

Ná ’n rukkie, sê Michael – hy sê nie hoe laat nie – gaan Kathleen binnetoe, “want sy het die volgende oggend ’n konferensie-oproep gehad”. Sy was bekommerd oor haar werk; sy was ondervoorsitter by Nortel, ’n tegnomaatskappy wat in groot moeilikheid was.

“Dit was die laaste keer dat ek Kathleen lewend gesien het,” sê Michael. Hy bly ’n oomblik stil en sê dan: “Nee, sy was lewend toe ek haar aantref. Maar . . .” Dan voeg Michael die woord “skaars” by.

Vir my is hy die toonbeeld van senutrekkings en versinsels. ’n Moordverdagte onder die mikroskoop. Dit lyk of Jean-Xavier iets van sy siel vasgevang het. Intussen wonder ’n mens wat presies Michael tussen middernag en omstreeks 02:38 gedoen het.

Wat het in hierdie vermiste tyd gebeur wat die kopwonde veroorsaak het, wat bloed laat smeer en sypel en stol het? En as hy sy vrou doodgemaak het: waarom? As ’n mens oor dié saak begin delf in die talle berigte, waarvan die meeste daarop dui dat Michael skuldig is, is daar ’n motief.

Hy en Kathleen het in ’n pragtige huis gewoon; hulle het hul vyf kinders uit vorige verhoudings finansieel ondersteun. Michael is ’n romanskrywer bekend vir sy Viëtnamboeke, A Time of War (1990), wat goed verkoop het, en A Bitter Peace (1997), wat minder goed verkoop het.

Michael en Kathleen het gelukkig getroud voorgekom, maar dit het later op die lappe gekom hy het haar met verskeie mans verneuk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Teen 2001 het hy baie min geld gemaak. Kathleen het toe sowat R1,3 miljoen per jaar by Nortel verdien. Maar dit was nie genoeg nie. Die egpaar het ’n bietjie meer as R1,2 miljoen se kredietkaartskuld gehad.

Hulle kon skaars hul kinders se studiegeld bekostig. In dié stadium het Kathleen ’n lewensversekeringpolis en pensioen van R15,5 miljoen gehad. Sy was bekommerd oor haar werk.

Die nag van haar dood moes sy ’n e-pos stuur om die volgende dag se konferensieoproep te reël. Sy het haar skootrekenaar by die kantoor gelos. Sy moes haar man s’n gebruik. Sy het selde sy kantoor binnegegaan – dit was sy privaat ruimte.

Sy sou hom mooi daarvoor moes vra. Kathleen was bekommerd oor haar man. Daar was iets onbetroubaars aan hom. Hy sou sê hy gaan gim toe en dan bly hy ure lank weg. Kathleen sou nie ontrouheid duld nie.

Sy het van haar eerste man geskei toe sy uitvind hy het ’n affair. Sy het dit duidelik aan Michael gestel: As sy ooit ontdek hy verneuk haar, is dit verby tussen hulle.

’n Bisarre teorie lui Kathleen is deur een van Noord-Carolina se roofsugtige uile aangeval

Vir baie mense wat oor die saak verslag gelewer het, is dit duidelik wat volgende gebeur het. Kathleen het na Michael se studeerkamer gestap. Hy kon haar nie juis keer nie: Die e-pos was belangrik; sy was die broodwinner.

Michael moes stilweg gebid het: Asseblief, moenie dat sy sien wat alles in die studeerkamer is nie. Byvoorbeeld, die pornografie op die rekenaar; die eksplisiete foto’s in die lessenaar se laai; die e-pos na “Brad”, ’n gay gesel met wie Michael ’n afspraak gereël het. Michael was biseksueel.

As Kathleen moes uitvind, sou hy alles verloor. Het Kathleen op ’n leidraad oor Michael se ontrouheid afgekom? Dié verslaggewers glo dit is wat gebeur het: Kathleen sien iets.

Sy verloor kop. Sy sê aan Michael die verhouding is verby. Hy verloor kop. En dit ontketen die gebeure wat van Cedarstraat 1810 ’n misdaadtoneel gemaak het. Maar in die TV-reeks hou Jean-Xavier ’n mens aan die wonder.

Hy laat jou oor en oor sin uit die feite probeer maak. Jy sal jou verstand betrap dat dit sekerheid uit onsekerheid probeer skep. Ek bespreek van hierdie kwessies met Jean-Xavier. Hy sê hy het “sewe weke ná die dood” begin verfilm.

Ek merk op dat hy nie die woord “moord” gebruik nie. Die eerste paar maande het Michael die verfilming tot “die regsproses” beperk, sê hy. Maar later, “ná vier of vyf maande, het hy verfilming in die huis toegelaat” toe hy Jean-Xavier begin vertrou.

“Hy’s ’n wonderlike karakter,” sê die filmregisseur, “fassinerend en kompleks in baie opsigte.” Hy voeg by toe hy Michael die eerste keer ontmoet, het hy die indruk van ’n groot liefde tussen Michael en Kathleen gekry.

“Maar aan die ander kant het ek vir myself gesê, wel, daar is iets wat ek nie verstaan nie. Hy het dalk daardie aand iets gedoen.”

Al het hy Michael verseker hy sal hom tydens die verfilming “as ’n onskuldige mens” beskou, sê Jean-Xavier op rekord hy is steeds onseker. Dis dié talmende gevoel van twyfel wat die reeks so boeiend maak. Ons kyk hoe Michael se prokureur, David Rudolf, deur die saak se feite sif. Hy wys daarop dat die onus by die staat berus; hulle moet bo redelike twyfel bewys Michael is skuldig.

Ek bel David. Hy sê hy was eers “nie vreeslik gretig” dat Jean-Xavier hom verfilm nie. Maar toe besef hy dit hou ’n ander moontlikheid in: Om aan mense te wys hoe die verdedigingsproses werk.

Tydens sy verhoor is daar getuienis gelewer oor die skedeldiep snywonde aan Kathleen se kop. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ons is nie skelms wat enigeen ’n rat voor die oë probeer draai nie.”

Ek vra David of hy dink Michael is skuldig. Hy sê hy dink nie so nie. “Daar is geen twyfel in my gemoed dat hy nie Kathleen daardie aand doodgeslaan het nie. Ek kan my geen scenario voorstel waarin die bewyse hierdie teorie steun nie.”

Ons kyk hoe David en sy span ’n alternatiewe scenario skets: Michael en Kathleen stap na die swembadarea. Hulle drink wyn. Kathleen gaan in om haar e-pos te stuur.

Michael se biseksualiteit pla haar nie; sy het dit al lank gelede aanvaar. Dis geen bedreiging vir hul huwelik nie – dis net seks. In haar plakkies begin sy by die steil agterste trap opklim. Maar sy het ’n Valium en wyn in; sy’s onvas op haar voete. Sy val.

Haar kopvel bars oop. Bloed stroom uit. Sy staan weer op. Sy gly in die bloed. Haar kopvel bars weer oop. Sy lê ’n rukkie daar, bloei hewig. Staan weer op. Sy’s duiselig. Sy val weer. Die verdediging stel Henry Lee, die Taiwannese bloedspatselkenner van die OJ Simpson-saak, aan om die bloed teen die muur te verklaar.

Bloed kom in die mond en dan hoes jy dit uit, sê hy. In die hof het hy dit gedemonstreer deur verdunde tamatiesous op ’n vel wit karton uit te spoeg. Intussen rook Michael sy pyp by die swembad.

Om die een of ander rede kom hy nie voor 02:38 op Kathleen af nie. Sy haal nog asem. Hy maak die noodoproep. Voor die hofsaak moet Michael ’n nuwe nagmerrie in die gesig staar.

’n Vrou bel die polisie met ’n verpletterende brokkie inligting oor die tyd toe hy saam met sy eerste vrou, Patty, in Duitsland gewoon het. Die informant is ’n tante van Margaret en Martha, die meisies wat Michael en Patty as hul eie kinders grootgemaak het. Hulle het by Cedarstraat 1810 ingetrek toe Michael en Kathleen getroud is.

Die meisies se pa, George Ratliff, is in 1983 weens longversaking in Duitsland dood en hul ma, Elizabeth, twee jaar later. Michael was die laaste mens wat haar lewend gesien het.

Hy was een aand laat in November 1985 saam met haar in haar huis. ’n Getuie het hom die toneel sien verlaat. Toe die kinderoppasser die volgende oggend opdaag, het sy Elizabeth aangetref waar sy in ’n plas bloed aan die onderpunt van die trap lê. Daar was bloedspatsels teen die mure by die trap.

Michael is nie van haar moord aangekla nie. Sy het aan Von Willebrand-siekte gely, ’n toestand waar die bloed nie normaal stol nie, en het vermoedelik weens serebrale bloeding gesterf. Voor haar dood het Michael haar met haar geldsake gehelp.

Elizabeth se lyk is destyds met ’n vliegtuig oor die Atlantiese Oseaan gebring na Bay City, Texas, waar sy begrawe is. Sewentien jaar later het Jean-Xavier die gebeure verfilm wat op die oproep gevolg het. Elizabeth se kis is opgegrawe.

Haar liggaam is byna 2 000 km ver oor die land vervoer. Deborah Radisch, die patoloog wat Kathleen se nadoodse ondersoek gedoen het, het ook Elizabeth se skedel ondersoek. Daar was sewe skeurwonde agter aan haar kop.

Deborah meen die twee vroue het op ’n soortgelyke manier gesterf. Albei het by die onderpunt van ’n trap ineengestort. Iemand het hulle doodgeslaan. Was daardie iemand Michael? In The Staircase sien ons hom terwyl die saak voortsleep. Hy word skuldig bevind en gaan tronk toe.

Toe word Duane Deaver, een van die staat se bloedkenners, gediskrediteer en Michael word ’n herverhoor aangebied. Ons kyk terwyl 15 jaar verloop. Hy het maerder, meer afgerem geword. Sy kinders het ouers geword.

Sy seuns, Todd en Clayton, ondersteun hom en ook Margaret en Martha, Elizabeth se dogters wat hy grootgemaak het. Maar Kathleen se dogter, Caitlin, sê sy dink hy het haar ma vermoor.

Op die ou end aanvaar Michael ’n “Alford-pleitooreenkoms” of opsetlike manslag, ’n reëling waar die beskuldigde aanvaar daar is genoeg bewyse om hom skuldig te bevind, terwyl hy terselfdertyd volhou hy is onskuldig.

Michael woon steeds in Durham. Ouer, krommer en baie armer – maar vry. Maar wat het op die aand van 9 Desember 2001 gebeur? Almal sal hul eie teorie hê. ’n Bisarre een is dat Kathleen deur ’n uil aangeval is.

Ná agt jaar in die tronk is Michael ’n vry man; ouer, krommer en baie armer – maar vry. Foto: Netflix

Daar is roofsugtige uile in Noord-Carolina en die skeurwonde op haar kop lyk asof dit deur kloue veroorsaak is. Die staat het gespekuleer die moordwapen was ’n blaas-vuurstoker, ’n hol staaf met ’n skerp punt.

Die Petersons het so iets besit, maar die polisie kon dit nie in Desember 2001 kry nie. David het so ’n vuurstoker in die hof gehad en beweer dit was die hele tyd in die motorhuis.

‘Sy het by die trap afgeval! Sy haal nog asem! Asseblief! Asseblief! Stuur dadelik iemand hierheen!’

Een ding wat by my bly spook, is die vermiste twee en ’n half uur. Ja, Kathleen het dalk gegly en geval, weer en weer, haar kop oopgesny en in die bloed gegly. En daardie voetspore in die kombuis is dalk deur die mense gemaak wat daar rondgemaal en die misdaadtoneel besmet het.

Van die getuienis oor die bloed op die toneel het immers van die gediskrediteerde Duane Deaver gekom. Maar die tydlyn pla my. Kom ons gee Michael baie speling en sê hy en sy vrou stap om 23:30 na die swembad.

Kom ons stel voor hulle bly ’n uur daar. Dit sou beteken sy gaan 12:30 die huis binne, en begin kort daarna die trap opklim. Dan sou Michael my steeds moes oortuig hy het minstens nog twee uur by die swembad gebly, in ’n kortbroek, op ’n winternag, voor hy ingegaan het.

Is dit geloofwaardig? Het David Michael gevra wat hy in hierdie tyd gedoen het? “Ek dink nie hy het ooit werklik ’n tydlyn saamgestel so duidelik soos jy pas gedoen het nie,” sê hy.

“Dit was altyd wel, die fliek het omtrent hierdie tyd klaargemaak en toe het ons ’n rukkie by die terras uitgehang. Daarom dink ek nie ek het in ’n stadium aan hom gesê nie: ‘Goed, ons moet rekenskap gee van hierdie twee uur’. En hou in gedagte as jy by ’n toneel soos daardie instap, raak alles in jou kop dof.

“Ek veronderstel die twee moontlike verduidelikings is: Hy het ingesluimer of hy was diep in gedagte, en ek weet nie watter een akkuraat is nie. As ek hom dit ooit gevra het, onthou ek nie wat hy gesê het nie.”

Hier is een moontlikheid: Michael en Kathleen kyk die fliek. Hulle drink wyn. Sy stap by die huis in. Sy het ’n ongeluk. Michael bly ’n paar uur by die swembad.

Dan vind hy Kathleen wat in ’n plas bloed lê, met ’n kring bloedspatsels teen die muur. Hy bel 911. Hy sê nie: “My vrou! Sy’s vol bloed! Daar’s bloed oral!” Hy sê sy was in ’n ongeluk.

Sy het by die trap afgeval. Sy haal nog asem. Hy merk boksies af. Hier is nog ’n moontlikheid: Hulle stry. Sy sê sy gaan hom los. Hy slaan haar. Hy slaan haar weer. Sy verloor haar bewussyn. Sy bloei baie.

Dis ná middernag op 9 Desember 2001. Michael kyk na sy vrou. Na al die bloed. Hy oorweeg sy opsies. Om 02:40 tel hy die foon op.

  • The Staircase is nou op Netflix beskikbaar.
Bron: William Leith/The Times Magazine/News Syndication