Daar moet geen versagtende omstandighede wees om Bob Hewitt (78) se vonnis in korrektiewe toesig om te skakel nie, het Theresa “Twiggy” Tolken, een van Hewitt se slagoffers, Donderdagaand aan Huisgenoot gesê.

Hewitt het haar 38 jaar gelede tydens ’n tennistoernooi in ’n hotelkamer verkrag. Hy het haar ook gedwing om op pad daarheen orale seks op hom uit te voer. Hy was haar afrigter. Sy was 12 jaar oud.

Twiggy Tolken op die dag wat Bob Hewitt tot ses jaar tronkstraf gevonnis is. Foto: Facebook

Hewitt, wat in Mei 2015 op twee aanklagte van verkragting en een van onsedelike aanranding in die hooggeregshof in Pretoria tot ses jaar tronkstraf gevonnis is, wil nou ná net twee jaar aansoek doen om dié vonnis in korrektiewe toesig om te skakel.

Bob Hewitt buite die hooggeregshof in Johannesburg. Foto: Getty Images

“Daar behoort geen omstandighede te wees wat hom toelaat om uit te kom nie. Verskonings soos ‘ek is oud en siek’ is nie goed genoeg nie. Hy het nie oor my ouderdom omgegee toe hy my verkrag het nie. Hoekom sal enigiemand sy ouderdom nou in ag neem? Hy het die gereg jare lank ontduik,” het Twiggy oor sy planne gesê.

“Ek het my verklaring aan die ondersoekbeampte gegee. Ek het vanoggend (Donderdag) e-pos gekry wat sê dit is ’n aansoek om sy vonnis in huisarres om te skakel. Eerstens dink ek dit is absurd. Hy het net twee jaar van sy ses jaar uitgedien. Wat my betref, was sy vonnis van ses jaar in die eerste plek nie eens lank genoeg. Vyftien jaar of meer sou ’n meer gepaste vonnis gewees het. Hy moet nie eens toegelaat word om vir parool aansoek te doen nie.”

Twiggy, wat al baie jare gelede na Nieu-Seeland geëmigreer het, het destyds met Hewitt se verhoor na Suid-Afrika gereis om teen hom te kom getuig. Die saak teen Hewitt is eers drie dekades later aangevoer nadat die slagoffers van mekaar uitgevind het.

“Ons bly in ’n wêreld waar te veel vroue en kinders mishandel en verkrag word. Watter soort boodskap stuur die regstelsel as Hewitt net twee jaar uitdien en dan toegelaat word om huis toe te gaan, in weelde te gaan leef en op die stoep te sit en skemerkelkies saam met sy vrou drink? Ek dink nie so nie. Hy moet vir die volle ses jaar in die tronk bly, sonder parool, sonder spesiale omstandighede. Hy het geen berou getoon nie; hy het net sy arrogansie gewys.”

Sy wil weet wanneer sy en haar medeslagoffers ooit gaan vrede en berusting kry.

“Wat hy gedoen het, sal altyd deel wees van wie ons is en ons lewens, maar ons moet aanhou baklei om geregtigheid te kry en hom in die tronk te hou. Dit hou net aan om ons vrede van ons te ontneem.”