Haar stem weergalm oor die kleinhoewe, maar haar seuntjie antwoord nie. Weer en weer roep sy terwyl die vrees en selfverwyt in haar opwel.

Dit was nog altyd hul ooreenkoms: Hy moet antwoord die eerste keer dat sy roep. Dan weet sy hy is veilig, al speel hy dalk net buite sig op die groot stuk grond op Kinross in Mpumalanga.

“Micheal!” roep sy die soveelste keer. Maar steeds klink die vyfjarige seuntjie se stemmetjie nie op nie . . .

Skaars ’n halfuur tevore het Monica Nortjé in haar motor se truspieëltjie gekyk hoe Micheal met ’n hartseer uitdrukking in die oop kombuisdeur staan en vir haar waai terwyl sy wegry.

Sy sou net gou vinnig dorp toe ry om wegneemetes vir haar gesin te gaan koop en haar vyf kinders sou in die sorg bly van haar man, Walter.

Maar met haar terugkeer was daar geen teken van haar middelkind nie. Monica hardloop om die huis en deur die groot tuin terwyl sy aanhou roep. Stilte.

Met ’n beklemming om haar hart hardloop sy na die stoorgeboue. Steeds niks. Dan hoor sy haar agtjarige seun, Alex, se bloedstollende gil: “Mamma! Micheal bloei!”

Haar hart ruk in haar borskas. Sy hardloop nader en sien die lyfie eenkant op die vloer van ’n werkwinkel op die hoewe lê. Hy lê stil en lyk leweloos.

Eers later sou Monica uitvind ’n werktuigkundige het in ’n fratsongeluk met sy vragmotor oor haar kind gery – ’n vragmotor van agt ton.

Micheal is positief ondanks die baie pyn wat hy ervaar. Foto: Rowyn Lombard

Monica val langs Micheal neer, tel sy gebroke en bebloede lyfie in haar arms op en hardloop met hom na die huis om Walter te roep.

Hulle jaag met hom na die hospitaal op Evander, net meer as 10 km van hul kleinhoewe. Monica bid onophoudelik waar sy agter in die motor sit met haar kind langs haar op die agtersitplek; dit is die langste rit van haar lewe.

In die hospitaal is verpleegpersoneel en die dokters verstom toe hulle hoor ’n trok van agt ton het oor die seuntjie gery – dit is ’n wonderwerk dat hy nog lewe.

Maar hier waar Monica vandag met rooigehuilde oë terugdink aan daardie verskriklike dag van 18 Oktober, stry sy steeds teen die selfverwyt soos op elke dag waarop sy sedertdien langs klein Micheal se hospitaalbed waak.

“As hy maar net saam met my dorp toe was soos wat hy my gevra het,” sê sy en sluk swaar. “Dan was hy dalk hierdie verskriklike seer gespaar.”

Sy stem nie saam met die dokters dat dit net geluk was dat hy oorleef het nie. “Die Here het daardie dag na Micheal gekyk en gesê: ‘Boeta, dit is nie die einde nie . . .’En dit wás nie.”

Hier in sy bed in die Sunshinehospitaal in Benoni, waarheen Micheal kort ná die ongeluk met ’n ambulans vanaf die Evander-hospitaal verskuif is, glimlag die knapie dapper vir die kamera, al verduur hy baie pyn.

Ondanks die groot gewig wat sy lyfie teen die grond vasgedruk het, het hy net ’n gebreekte linkerbeen, gebreekte skouers en twee krake aan sy skedel opgedoen.

Dapper sê die seuntjie: “Liewe Jesus het my beskerm; dis hoekom ek nog hier is.”

Die gebeure voor sy van die kleinhoewe af weggery het, speel steeds oor en oor soos ’n rillerfliek voor Monica af, vertel sy waar sy langs sy hospitaalbed sit.

Sy het besluit om wegneemetes op die dorp te gaan koop as ’n bederf vir Micheal en haar ander kinders: Johann (9), Alex (8), Sulanica (2) en Morné (5 maande).

Sy is ’n huisvrou en haar man ’n slotmaker, en hul lewe op die hoewe is woelig met die huis vol spruite.

“Ek is die een wat vir Micheal gesê het hy moet by die huis bly omdat ek nie kans gesien het vir ’n bakleiery in die motor nie. Hy en Sulanica kan soms oor klein dingetjies koppe stamp,” vertel Monica.

“Ek het vir hom lekkers belowe vir wanneer ek terug is,” sê sy en snik.

Micheal het kort nadat Monica weg is in die werkwinkel anderkant die gesinshuis in die bak van een van die vragmotors gaan speel.

’n Vriend van die gesin huur die werkwinkel by hulle. Micheal vertel hy kan nie onthou dat die man, ’n motorwerktuigkundige, die werkwinkel binnegekom het nie, maar hy het skielik besef iemand is in die stuurkajuit.

Hy het regop in die bak gestaan om die persoon se aandag te trek, maar dit was tevergeefs. Die ou vragmotor het geruk toe hy dit aanskakel en Micheal het afgeval en onder die voertuig beland.

“Ek het geskree, maar hy het my nie gehoor nie . . .” sê Micheal met sy oë op Monica gerig. Micheal het vermoedelik ’n skedelbreuk opgedoen toe hy van die vragmotor afgeval het.

Die vragmotor het toe oor sy bene gery, maar net een van sy bene is ernstig beseer. Die lawaai van die vragmotorenjin het die kind se angsgille verdoof en die man het niksvermoedend weggery.

Agter hom het die stukkende lyfie op die grond bly lê.

“Ek kan nie eintlik baie onthou nie, oom, behalwe dat ek bang was en nie kon asemhaal nie. En dat ek daarna baie pyn gehad het en nie kon beweeg nie. “Ek het probeer roep, maar kon nie praat nie.”

Hy klou aan sy ma vas waar sy langs hom op die bed sit. “Niks kan jou daarop voorberei om jou kind so stukkend en seer te sien nie,” sê Monica.

“Ek het gedink ek het my kind verloor; gedink dís die dag dat ek ook sal doodgaan. Ek onthou hoe ek langs hom neergeval en huilend geskree het: ‘Here, help! Help my kind!’ ”

Op pad na die hospitaal het Monica die gesinsvriend gebel. Van die ongeluk het hy toe nog niks geweet nie en hy het ook hospitaal toe gejaag.

“Toe Micheal in die hospitaal vir hom sê hy het vir hom geskree voor die trok oor sy lyfie gery het, was hy spierwit en stom. Jy kon die skok op sy gesig sien. Hy het nog altyd ’n sagte plek vir Micheal gehad,” sê Monica.

“Dis vir hom ook pynlik traumaties. Hy verwyt homself.” Sy vertel sy wéét dit was ’n ongeluk, maar “geen kind verdien soveel seer nie”.

Dis vir haar ’n troos wanneer Micheal glimlag of vra wanneer hy huis toe kan gaan. “Die dokters is positief,” vertel sy.

‘Ek sê nog altyd die Here het Micheal spesiaal gevorm en het ’n spesiale doel met sy lewe’ Foto: Rowyn Lombard

“Micheal het penne in sy linkerbeen gekry, maar die dokters gaan nie sy skouers opereer nie. Dis die laaste beentjies wat hard word; hulle meen dit sal self reg groei. Die dokters sê ons hoef ook nie bekommerd te wees oor die klein krakies aan sy skedel nie.

“Micheal is ons eie klein wonderwerk.”

Hy is nie vies oor die ongeluk nie, sê Micheal en klou aan oom Ollie, sy geliefde teddiebeer. Dan bal hy sy klein vuisies en vee die trane van sy wange.

Vandag begin hy met fisioterapie, maar die geringste beweging veroorsaak nog kwaai pyn.

“Ek het baie seer, oom . . . Veral wanneer ek uit die bed moet opstaan. Maar mamma sê Jesus is elke dag hier langs die bed, net soos Hy daardie dag by die trok was.”

Sy dapper woorde laat Monica weer na ’n snesie gryp. “Ek sê nog altyd die Here het Micheal spesiaal gevorm en het ’n spesiale doel met sy lewe. Ek was so bang hy sou ná die ongeluk sy sprankel verloor. Maar ek was kleingelowig.”

Sy kyk na Micheal. “Vertel die oom van ons kompetisie,” sê sy. “Die een wat jy gaan wen en dan ’n groot present kry.”

Micheal glimlag. “Ons moet kyk wie is die sterkste,” sê hy. “Mamma verloor!” Maar sy het reeds die grootste geskenk denkbaar gekry – haar seuntjie leef.

  • Gerhard Elmes, bevelvoerder van die Kinross-polisiekantoor, bevestig ’n vragmotor van agt ton het per ongeluk oor klein Micheal gery. Hy sê ’n saak van moontlike roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.