Hotel Sky
Hotel Sky. Foto: Verskaf

As jy in jou noppies is met die veelbesproke “nuwe normaal” van kuiertjies deur Zoom, virtuele vergaderings en aanlyn inkopies, is daar nou ook ’n spesiale hotel wat nommerpas is vir jou.

Hier is outonome tegnologie en die vermyding van direkte menslike kontak deel van die strategie. Wanneer jy in die ontvangslokaal van Hotel Sky in Johannesburg instap, lyk alles aanvanklik doodgewoon. Die styl is eksentriek modern, met tropiese kunswerke wat in die lig van LED-kristalkandelare baai.

 Die hotel se voorportaal
Die hotel se voorportaal is kleurvol versier. Foto: Verskaf

Strelende klaviermusiek sorg vir ’n ontspanne atmosfeer. Maar dan besef jy: Dis nie net mense wat jou hier verwelkom nie; dis dan robotte ook!

Welkom by Suid-Afrika se eerste slimhotel, waar drie robotte genaamd Lexi, Micah en Ariel jou verwelkom, jou inteken en jou tasse dra, en selfs versnaperings of drankies na jou kamer bring.

Danksy kunsmatige intelligensie sal hulle ook jou vrae oor die omliggende strate van Sandton beantwoord. Hier is darem een mens om mee te praat: Herman Brits, die bestuurder.

Hotel Sky kry sy naam by die feit dat die slimhotelkonsep eindelose moontlikhede bied, sê hy – the sky’s the limit.

As alles volgens plan verloop, sal ’n susterhotel ook binnekort in Kaapstad open. Jy kom gou agter Herman is mal oor sy span. “Dis soos ’n slim Siri wat kamerdiens lewer en selfs kan dans,” vergelyk hy sy robotte met die bekende digitale “selfoonmeisie” wat iPhone-gebruikers se vrae kan beantwoord.

robbot
Drie robotte, wat Ariel insluit, sal help om jou in Hotel Sky in Johannesburg in te teken. Foto: Verskaf

Uiterlik herinner die glimmende wit androïede jou ’n bietjie aan Star Wars se robot C-3PO. Maar dié drie is altyd vriendelik, en danksy verskillende kleur- en stylaksente het elkeen ’n eie “persoonlikheid”.

Op die oomblik is Lexi, Micah en Ariel soos kinders wat aanhoudend leer, sê Herman. “Hulle het kunsmatige intelligensie; dus bou hulle op inligting voort. Hoe meer vrae jy aan hulle stel, hoe slimmer raak hulle. Hulle sal op hul databasis voortbou.”

Die idee is dat die robotte byvoorbeeld later vir gaste sal kan sê hoe om by die lughawe te kom, asook hoeveel minute die reis sal duur.

“Ons kan die vrae peil wat mense gereeld vra en hulle dan met die antwoorde begin programmeer. Dis nog vroeg, maar hulle sal in pragtige jong vroue propvol inligting ontwikkel.”

Die robotwerknemers, asook toestelle in die hotel, word met ’n app bedryf. As gas is jou kontak met mense dus beperk, wat in die coronaviruskrisis kan help om jou verblyf in Hotel Sky veiliger te maak. 

Herman beklemtoon die drie sjarmante robotte vervang darem nie heeltemal mense nie. “Hulle is ’n prettige bykomstigheid wat terselfdertyd ook waardevolle ondersteuningsdienste aan ander personeel verleen.”

Weelde sal jy beslis in dié sesverdiepinghotel met sy 453 kamers, verhitte swembad, drie deftige restaurante en verskeie konferensievertrekke ervaar.

Maar presies hoe “slim” is Hotel Sky, en hoe werk dit? Jou foon is jou sleutel tot Hotel Sky.

Een van die robbotte, Lexi
In die Sandtonhotel is Lexi gereed om gaste te verwelkom. Foto: Verskaf

As jy die hotel se app aflaai, kan jy daarmee jou kamer bespreek, jouself inteken en jou kamerdeur oop- en toesluit. (Jy kan die deur darem ook op die gewone manier oopmaak as jy dit so verkies!) Jy kan ook danksy die hotel se gebruik van die “Internet van Dinge” deur die app met alles in jou kamer kommunikeer.

Dit beteken die sagteware en sensors in al die toestelle in jou kamer is geprogrammeer om deur die internet met mekaar te verbind, en alles werk met mekaar saam in die netwerk. Die toestelle in jou kamer sal doen wat jy verlang sonder dat jy fisiek daaraan raak, want jy gebruik die app om dit te beheer.

Jy kan die app gebruik om drankies te bestel en selfs die lugversorging te beheer terwyl jy in die restaurant sit. Volgens Herman is die hotel se slimklavier in die sitkamer gaste se groot gunsteling.

“Jy kan die klawers en pedale sien beweeg terwyl dit self speel,” vertel hy oor die klavier wat sonder ’n pianis musiek maak.

Dit werk met geprogrammeerde speellyste, maar werklike pianiste kan dit ook met behulp van ’n app bespeel en so ’n hele konsertuitvoering daarop gee sonder om aan die klawers te raak. Die klavier sal die kunstenaar se klawerdrukke op die app volg, vertel Herman.

“Ons kan dan die konsert op die groot skerms in die sitkamer vertoon en dit selfs stroom.”

Gaste kan ook met die hotel se app hul eie gunstelingmusiek daarop speel. Maar as jy ná ’n paar drankies lus raak om self die klawers te streel, kan die klavier na ’n gewone handmodel oorgeskakel word sodat jy self na hartelus nommertjies kan tokkel.

Herman sê slimtegnologie word ook gebruik om vergaderings en konferensies glad te laat verloop. “Ons raadsale het digitale skerms; dus hardloop niemand met knipborde en penne rond nie. Wanneer die vergadering verby is, kan jy die aantekenings of voorleggings per e-pos aan almal stuur.”

Die futuristiese hotel was eens ’n saai ou regsfirmagebou voor ’n groepie “individualiste met ’n visie” dit gekoop en laat omskep het, vertel Herman.

Van die ou gebou se kenmerke het behoue gebly, soos die wenteltrap in die ontvangsarea en een van die restaurante wat eens ’n kafeteria vir regslui en klerke was.

Hotel Sky
Hotel Sky se voorportaal het tropiese kunsinstallasies waar LED-kristalkandelare ’n tikkie glans verskaf. Foto: Verskaf

Die kos op jou bord is darem werklik en geurig. Daarvoor sorg Hotel Sky se hoofsjef, die Michelinbekroonde Tony Kocke.

Hy het die afgelope 41 jaar reg oor die wêreld smulgeregte opgetower. “Wanneer jy iets al so lank doen, soek jy na verandering,” vertel hy van sy besluit om hier te werk. En dít bied die slimhotel beslis aan hom. Hotel Sky is nie die enigste hotel waar tegnologie ál meer ingespan word nie – dis deel van ’n wêreldwye revolusie in die gastebedryf.

“ ’n Hotel sal nie meer slaag as dit net ’n plek is om in te slaap nie,” sê Michael Schneider, ’n ervaringsontwerper en kreatiewe tegnoloog van New York. Die doel is eerder om ook aan gaste unieke oomblikke en herinnerings te bied.

“Dit gaan oor die skep van ikoniese ervarings en Instagram-oomblikke,” beaam Greg Gallimore van die Amerikaanse argitektuur-en-ontwerpmaatskappy ESI.

’n Gelyknamige suster vir Hotel Sky sal na verwagting volgende jaar in Kaapstad open. Dié slimhotel met sy 550 slaapkamers en Sky Bar op die 29ste verdieping sal ’n panoramiese uitsig op die stadskom, berg en see bied. Die ontwikkeling van die twee hotelle beloop saam sowat R2 miljard.

Hotel Sky
Een van die hotel se luukse kamers. Foto: Verskaf

Dit het 18 maande geduur om die Sandtonse hotel in te rig, maar Herman vertel dat sekere dinge steeds verfyn word.

“Ons leer nog elke dag, want ons gebruik die jongste tegnologie. As ’n span moet ons leer aanpas en relevant bly deur seker te maak ons weet hoe om die toestelle reg te gebruik.”

Hoe jy vir die vriendelike, immer geduldige Lexi, Micah en Ariel ’n fooitjie kan gee, kan hy nog nie sê nie . . . 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe