Deur ’n gaatjie in die dowwe besoekersvenster van die Rooigrondgevangenis buite Mahikeng loer ’n blou oog vir my.

Die oog knip.

“Hallo, tannie,” sê die 19-jarige Xander Bylsma saggies.

“Ek praat baie met jou ma,” sê ek.

’n Glimlag sprei stadig oor die gesig.

Dis byna ondenkbaar dat dié jong man, net anderkant sy skooljare, kort ná my besoek weer in die landdroshof op Vryburg sal verskyn op twee aanklagte van moord.

Hy word daarvan aangekla dat hy sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en kleinniggie Marna Engelbrecht (16) in Mei vanjaar op ’n naweekaand in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella verwurg het.

Vroeër die oggend het ek dieselfde pad tussen Vryburg en Mahikeng gery as wat Xander agterin ’n vangwa sal moet ry wanneer hy ná sy volgende hofverskyning teruggebring word tronk toe.

Hier, het sy ma, Mercia Bylsma, vroeër vertel, leef hy van pap, groente, slegte bredie en brood. Hy het 23 kg verloor en moes sy krullebos, sy trots, laat afskeer oor die tronkluise wat daarin saamgekoek het.

So het Xander in Augustus gelyk nadat sy hare afgeskeer moes word vanweë luise in die tronk.

Op die pad tussen Vryburg, naby die dorpie waar Xander op ’n plaas grootgeword het, en Mahikeng, die hoofstad van Noordwes, loop beeste, donkies en bokke sommer vry rond.

Dit is ’n Donderdagoggend, besoektyd, maar daar is min mense wat vandag by die gevangenes hier in Rooigrond kuier.

Xander se pa, Monte, het wel by sy seun kom inloer. Hy het ’n stapel boeke in die hand toe hy uit die tronk gestap kom en koers kies na sy bakkie.

Dit was op sý plaas in die Louwna-distrik buite Vryburg dat Xander, sy enigste seun, op Saterdag 26 Mei, minder as 24 uur ná die moorde, deur ’n privaat speurder ondervra is.

Dié speurder, Chris Saunders, het Xander toe na die polisiekantoor op Vryburg geneem, waar hy ’n bekentenis afgelê het.

Chris Saunders het Xander na die polisiekantoor op Vryburg geneem waar hy ’n bekentenis afgelê het.


Deesdae kom kuier Monte op Donderdae vir sy seun; Dinsdae is dit ma Mercia se beurt. Die twee is jare gelede al geskei.

Xander mag net twee besoekers ontvang; ek is vandag tweede aan die beurt.

In die besoekerslokaal sit twee ander gaste op houtbankies voor vensters en gesels met die gevangenes in twee van die agt besoekershoekies aan die ander kant. Net ’n laag dik plastiek skei elke besoeker van die gevangene met wie hy ’n verbintenis het, maar daardie stuk plastiek is ’n ondeurdringbare skeiding tussen wêrelde.

Dan verskyn die bleek jong man in die besoekershoekie oorkant my. Hy is rietskraal in sy geel tronkoorpak. Sy skouers hang, maar sy hare is netjies gekam.

Ek moet fyn luister om sy sagte stem bo die lawaai in die lokaal te hoor.

Hy groet ordentlik en verduidelik dadelik hy mag nie oor die saak praat nie. Hy lyk verbouereerd en ongemaklik. 

“Ek is moedeloos, tannie,” sê hy. Hy kyk af na sy hande, so asof hy nie meer woorde het nie.

Hy het sedert sy inhegtenisneming nog nie om borgtog aansoek gedoen nie, glo omdat hy die woede van die gemeenskap vrees.

Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough is in Mei in die koshuis op Stella in Noordwes verwurg.

Sharnelle se lewelose liggaam is aan die trapreling buite haar koshuiskamer gevind en Marna s’n in die badkamer. Dit het hul geliefdes, maar ook die hele gemeenskap, in stukke geskeur.

Xander praat oor ditjies en datjies. Die nuus het hom bereik dat die konstitusionele hof onlangs beslis het die gebruik van dagga tuis is nou wettig – onverwagte gebeure uit die buitewêreld.

“Ek rook nie daardie k** nie,” sê hy.

Dan vertel hy van sy ouers wat weekliks kom kuier. Sy pa, die “streng Christenman”. Sy ma; vir hom net “mamma”.

Monte Bylsma is volgens Xander die 'streng Christenman'.

“My ma sê ek is haar mooiste kind,” probeer hy ’n grappie.

Dan, stiller: “Ek weet my ma vat dit moeilik.”

Vroeër het Mercia vertel sy bekommer haar byna dood oor haar Worsman, soos sy Xander noem.

“Ek is bekommerd of hy warm genoeg is, of hy eet en genoeg slaap. Ek is bekommerd oor sy veiligheid.”
Sy het meer trane gehuil as wat sy ooit kon dink ’n mens kan huil, het sy gesê.

’n Oomblik is Xander stil. Dan sê hy: “Jy is die eerste een wat hier kom kuier wat nie huil nie.”

’n Tronkbewaarder stap nader en sê die 45 minute besoektyd is verby.

Xander staan op. “Dankie, tannie. Ek het nie gedink ek gaan ooit weer lag nie. Dankie dat tannie vir my kom kuier het.”

Dan waai hy, skielik die ene kind, en verdwyn deur ’n traliehek.

By Stella se meisieskoshuis is dit met my aankoms vroeër die oggend tjoepstil. Die kinders is almal op skool – weer bedrywig met hul boeke nadat hul twee vriendinne in Mei vanjaar so wreed van hulle weggeruk is.

Die meisieskoshuis op Stella waar die boesemvriendinne vermoor is.

’n Personeellid van die koshuis vertel dinge is stiller en leër sonder die twee borrelende meisiekinders wat nog maande tevore by hierdie trap op- en afgehardloop het. Hulle het alewig saam gelag. Waar die twee boesemvriendinne was, was daar lewe.

“Daar is ’n stilte sonder hul lawwigheid,” sê sy.

Stap saam, beduie sy.

Op die grondverdieping op regterhand is die badkamer waar Marna se lewelose liggaam gevind is.

Dan op met die trap – dieselfde trap waar Sharnelle se liggaam gehang het en waar haar pa, Ronnie, en oom Louis haar moes lossny en laat sak. Aan die reling hang steeds hartjies van karton wat reeds voor die moorde daar was.

Hul kamer staan vier maande lank leeg en gesluit.

Die gang op die eerste verdieping is donker. Elke kamerdeur is versier met naambordjies, prente en blinkers.

Net die vierde deur regs het niks op nie.

Plek-plek is nog droë merke van die ou stukkies wondergom wat wys meisies het eens in die kamer agter die deur gebly.

Die deur is gesluit.

“Dis al maande so,” sê die personeellid. “Daar is niks daarbinne nie en niemand bly meer daar nie.”

Toe Xander nog op skool was, het hy in die seunskoshuis op die dorp gebly.

Die personeellid is verbaas mense beskryf hom deesdae as “emosieloos” wanneer hulle vertel hoe hy in die hof lyk.

“Mense sê hy is emosieloos in die beskuldigdebank. Hoe moet ’n kind van sy ouderdom hom dan anders in die hof gedra?

“Moet hy huil? Moet hy lag? Wat moet hy doen?”

Sy skud haar kop.

“Ons weet nie wat gebeur het nie. Die waarheid sal in die hof uitkom.”

Dit is op Facebook dat Sharnelle en Marna se gebroke geliefdes deesdae woorde probeer vind vir die onhoudbare seer.

Ronnie Hough, Sharnelle se pa.
Stefaans Engel­brecht, Marna se pa.

“Bid en huil. Ek kan nie meer nie! Ek is in my m*** in,” het Marna se pa, Stefaans Engelbrecht, oor die dood van sy “Marna-muis” geskryf.

Sharnelle se pa, Ronnie Hough, het op sy Facebookblad geskryf: “Daar lê nog ’n leeftyd se verlange en seer voor. Pappa verlang baie.”

Op die blad Geregtigheid vir Sharnelle & Marna plaas Ronnie en sy vrou, Anna, gereeld foto’s van die meisies.

Hier het een van hul kennisse geskryf: “Vriendinne vir altyd. Julle word gemis. Die hartseer en verlange wil nie weggaan nie. Ons mis julle onbeskryflik baie. Julle het nie die wreedheid en pyn verdien nie.”

En Xander se Facebookblad?

Sy profielfoto is verwyder en die blad nou gesluit. So byna asof hy nooit ’n hand daarin gehad het nie.

Al wat nog op die blad sigbaar is, is vyf foto’s: van Xander met ’n vis, van jong mans in die fleur van hul lewe, en van Xander saam met Sharnelle, jonk en verlief.

FOTO'S: FANI MAHUNTSI, NETWERK24/SIMON SONNEKUS, GALLO IMAGES/DEON RAATH/RAPPORT, FACEBOOK