Kom jy met die lang, reguit pad van Vryburg se kant by die kameeldoringbome verbygery, draai die pad af na Stella, ’n rustige dorpie in Noordwes.

Sover as wat die oog kan sien, lê die wêreld uitgestrek, ’n lappieskombers met landerye met grondbone en mielies, weivelde met kuddes beeste, en ’n soutpan neffens die dorp. Die grootste onderneming is die Suidwes-landboukoöperasie.

En op die klein dorpie ry jy by nie minder nie as drie Afrikaanse kerke verby. Die skool is die dorp se trots. Die Hoërskool Stella spog immers met ’n 100%-slaagsyfer in matriek.

Die klasse is klein en die onderwysers passievol. In die laer- en hoërskool saam is maar 200 kinders.

“Dit is lekker vir die kinders hier. Kinders kan nog stap skool toe. Dit is veilig,” vertel een van die vriendelike, gasvrye inwoners.

Maar toe, in die laaste naweek in Mei, tref ’n skokkende tragedie die oënskynlik veilige dorp en oornag haal dié landelike gemeenskap die hoofnuus. En ná dese sal die eens rustige dorpie se naam sinoniem wees met die Stella-moorde . . .

Hy word daarvan aangekla dat hy haar en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (links) wreed vermoor het. Foto: Facebook.

Op Saterdagoggend 26 Mei was die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella feitlik verlate toe die matrone dit teen halfses die oggend binnestap om die enigste twee meisies wat die vorige aand daar geslaap het te gaan wakker maak.

Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin Marna Engelbrecht (16) sou die dag saam met die skool se eerste rugbyspan met die bus die pad van sowat 265 km na Koster vat om tydens hul skolewedstryd teen die Hoërskool Koster as pomponmeisies te dans.

Sharnelle sou ná die wedstryd op dié dorp agterbly om by haar ma, Sonja, te kuier, wat daar by ’n vakansie-oord werk. Die vorige aand het die tienermeisies die matrone gevra om die koshuis se deur oop te los, want iemand sou vir hulle klere bring.

En op ’n veilige dorp soos Stella was dit geen probleem nie.

Die tragedie het op Saterdag 26 Mei in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella op die klein landboudorpie Stella in Noordwes ontvou toe die matrone die twee boesemvriendinne wou gaan wakker maak. Foto: Martin de Kock.

Toe die matrone vroegoggend die koshuis binnestap, heers ’n doodse stilte. Dalk het sy verwag om die meisies nog slapend in hul beddens in hul koshuiskamer aan te tref. Maar toe sy by die trap kom wat boontoe lei, vang haar oog iets in die halfdonker wat haar in haar spore tot stilstand ruk.

Daar, aan die trapreling, hang ’n figuur afgeëts teen die skemerlig van die vroegoggend – leweloos. Dis ’n gru-toneel soos uit ’n riller, maar dis geen verbeeldingsvlug van ’n draaiboekskrywer nie, eerder die wrede, ondenkbare werklikheid.

Dis die lyk van die eens spontane, borrelende Sharnelle. Lam van skok ontbied die matrone die polisie. Hulle deursoek die koshuis en doen ’n tweede ontdekking: Op die badkamer se vloer kom hulle op Marna se lyk af.

Om die eens skrander leerder se nek is iets wat na die skouerband van ’n handsak lyk. Die nuus oor die vreemde sterftes versprei soos ’n veldbrand deur die dorp, die distrik, die buurdorpe.

Marna en Sharnelle se Facebook-blaaie wys twee sorgelose tieners wat spontaan was en lewenslustig na die toekoms uitgesien het. Foto: Facebook.
Marna en Sharnelle se Facebook-blaaie wys twee sorgelose tieners wat spontaan was en lewenslustig na die toekoms uitgesien het. Foto: Facebook.
Marna en Sharnelle se Facebook-blaaie wys twee sorgelose tieners wat spontaan was en lewenslustig na die toekoms uitgesien het. Foto: Facebook.

Die eerste skrikwekkende gedagte, die eerste huiwerige woord op almal se lippe: selfdood. Dalk ’n selfdoodpakt.

Twee boesemvriendinne wat sedert hul kleuterskooldae maats was wat om watter duistere rede ook al besluit het om saam hul jong lewens kort te knip . . .

Maar dit kan tog nie wees nie. Of kan dit?

“Toe ons daarvan uitvind, het ons dit glad nie geglo nie. Niemand het dit geglo nie. Ons het dadelik geweet daar’s groot fout,’’ vertel ’n familielid van Sharnelle later.

“Ek kon nie glo dat hulle hul lewe sou neem nie. Hulle was gelukkige, vriendelike kinders. Daar was niks waaroor hulle hulle bekommer het nie. Hulle het uitgesien na die dag van môre.”

Voor die son daardie swart Saterdag oor Stella se vlaktes gesak het, het ’n nuwe skokgolf deur die dorp en sy omstreke getrek. Want toe blyk dit Sharnelle en Marna was die slagoffers van ’n dubbele moord – en die vermeende moordenaar is ’n jong man wat hulle albei goed geken het.

Die 19-jarige donkerkop Xander Bylsma, volgens vriende ’n vriendelike, goed gemanierde outjie, is by sy huis op Koster in hegtenis geneem. Hy was Sharnelle se gewese kêrel en Marna se kleinneef.

Sy ma, Mercia, en haar pa, Stefans, is niggie en neef.

En toe, twee dae later, op Maandag 28 Mei, kom die derde skok: Xander het aan die polisie ’n bekentenis afgelê. En volgens ’n ingeligte bron erken hy daarin dat hy die moorde gepleeg en dit alleen gedoen het . . .

Met sy eerste verskyning dié oggend in die landdroshof op Vryburg, ’n buurdorp van Stella, staan Xander daar met sy bruin krulkophare en ’n dag oue baard.

Hy staan verstard, met neergeslane oë, terwyl landdros Sophia Meyer sy saak uitstel tot 9 Augustus. Hy doen nie aansoek om borgtog nie, onder meer omdat hy vir sy eie veiligheid vrees.

‘Dit het gevoel of my hart stilstaan. Dis iemand wat in ons huis was en op ons plaas kom kuier het’

Minstens 15 polisiebeamptes vorm ’n menslike skild tussen Xander en die toeskouers in die hofgalery, mense wat geen geheim daarvan maak dat hulle wraak soek nie.

“Xander was soos ’n kind in Sharnelle-hulle se huis,” vertel ’n geskokte familielid van Sharnelle buite die hof.

“Die familie voel in dié stadium of hulle wil wraak neem.”

Vir Linmari Hough, Sharnelle se niggie, was dit erg om Xander in die beskuldigdebank te sien. “Dit het gevoel of my hart stilstaan. Dis iemand wat in ons huis was en op ons plaas kom kuier het.”

’n Vroulike pastoor wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê sy kan nie glo Xander is die een in die beskuldigdebank wat teregstaan vir die moord op die twee vriendinne nie.

“Hulle was dan saam in die skool,’’ sê sy en skud haar kop. “Mense het Xander goed geken én vir die meisies . . . Die mense se lojaliteit is verdeeld.”

Later sê ’n inwoner aan Huisgenoot: “Dit is ’n vreeslike skok, die ding wat gebeur het. Hier is die ergste misdade gewoonlik ’n plaasaanval. Niks so erg soos wat met dié twee meisies gebeur het nie.”

Die groot vraag vir hul gebroke ouers, hartseer skoolmaats en die verslae dorpenaars bly: Waarom?

Toe haar gewese man, Ronnie, haar Saterdagoggend bel met die nuus dat hul dogter en haar boesemvriendin hul eie lewe geneem het, kon en wou Sonja Hough dit nie glo nie, vertel sy in trane aan Huisgenoot.

“Ek was mal. Ek was mál. Jy kan dit nie glo nie. Sy was dan nog op pad na my toe,” vertel die enkelma wat uitgesien het na Sharnelle, haar enigste kind, se kuier op haar tuisdorp, Koster.

“Ons het mekaar so gereeld moontlik probeer sien. As sy ’n geleentheid kon kry, het sy vir my kom kuier.”

Soos daardie Saterdag wat haar sterfdag sou word . . .

“My hart is so, so seer. Woorde kan dit nie beskryf nie; ek kan nie verwoord wat ek voel nie. Ek kan nie meer dink nie,” sê Sonja, haar stem dik van trane.

Die pa’s van die vermoorde meisies, Stefans Engel­brecht (links) en Ronnie Hough. Ronnie en sy tweede vrou, Anna, troos mekaar by die Vryburg-landdroshof met Xander Bylsma se eerste verskyning. Foto: Martin de Kock.

Sy het kort tevore by ’n familielid op Vryburg aangekom, lank ná Xander se verskyning in die hof vroeër daardie Maandag. Betogings oor dienslewering op Koster het gekeer dat sy van aangesig tot aangesig met haar dogter se vermeende moordenaar in die hof kon kom.

“Ek is kwaad vir hom. Ek is woedend. Ek sal dit (die moord) nie aanvaar nie. Nóóit,’’ sê sy, haar stem nou driftig. “Daar is baie vrae. Ek het so baie vrae.”

Sonja het Xander ontmoet in die 11 maande dat hy met haar dogter uitgegaan het, maar wil vir eers niks oor haar indrukke van hom sê nie.

“Ek het Sharnelle onlangs gevra oor hom. Sy het gesê hulle sien mekaar nie meer nie. As ek haar vrae gevra het oor hom,” en sy bly ’n oomlik stil, “dan het sy vir hom gecover. Sy het niks slegs oor hom gepraat nie.”

Die ma begin huil toe ’n mens vra wat van haar dogter sy die meeste gaan mis. “Alles! Ek gaan álles van haar mis. Daar is nie ’n ding wat ek nie gaan mis nie,” snik Sonja.

“Alles wat ek voor my sien wanneer ek aan haar dink, mis ek.” Die woorde haak vas. “Sy was my enigste kind. My enigste . . .”

Ook Sharnelle se pa, Ronnie, die bestuurder van ’n beesplaas buite Vryburg, is verpletter deur haar dood. Sy oë was rooi gehuil toe hy by die hof aankom. Daar het hy styf langs sy tweede vrou, Anna, gestaan.

Xander Bylsma se eerste verskyning by die Vryburg-landdroshof. Foto: Martin de Kock.

Marna se ouers, Stefans Engelbrecht, ’n boer en jagter, en sy vrou, Rianet, is stukkend oor hul blouoogmeisiekind se dood, sê ’n kennis.

“Stefans het op Facebook geskryf toe hy van Marna en Sharnelle se dood hoor, het hy geweet dit was nie selfdood nie. Hy het gesê hy sal alles in die wêreld doen om seker te maak dat geregtigheid vir hulle geskied. Al kos dit hom sy vryheid.’’

Toe Xander in die hof verskyn, het Stefans gesukkel om sy emosie te beheer. Rianet is so gebroke sy het nie kans gesien om hof toe te gaan nie. Marna was die jongste van hul twee dogters. Haar ousus, Riane, is 17.

Maar daar is nog ’n ouerpaar wat nou deur diep waters gaan, vertel mense in die gemeenskap. Noudat hul seun teregstaan op twee klagte van moord, kry Xander se ouers, Monte en Mercia, erg swaar. Hulle is geskei en Monte is weer getroud.

“Sy ma, Mercia, was altyd baie besorg en beskermend oor Xander. Sy sal stukkend wees oor dié nuus,’’ vertel ’n inwoner wat die gesin goed ken.

Aan Netwerk24 het Mercia geskok gesê haar seun en Sharnelle was “die mooiste paartjie”. Sy het Xander beskryf as “ ’n sagte kind” met “ ’n klein hartjie”.

“My kind is nie ’n demoon nie,” het sy gesê. “Die Here het nie ’n fout met hom gemaak nie. Ek ken my kind.”

Sy pa het bloot in ’n SMS aan Netwerk24 laat weet: “Ek kan dit nie verstaan nie; ek het geen idee wat tot die gebeure gelei het nie. Hier is meer as net drie gesinne wie se harte gebreek is.”

Verlede jaar was Xander, toe ’n matrikulant, ook in die skoolkoshuis op Stella, maar hy is vir ’n kwartaal uit die koshuis geskors nadat hy in die meisieskoshuis betrap is, vertel ’n inwoner by wie hy toe gebly het.

‘Ons dink hy kon net nie die feit hanteer dat hulle uitgemaak het nie’

Dié beskryf hom as ’n goed gemanierde seun. “Hy was altyd baie stil, maar tog altyd vriendelik. Hy het nooit enige moeilikheid gemaak nie.’’

’n Vriend van Xander beaam hy is altyd vriendelik en bedagsaam. “En het my al laat lag dat die trane rol.”

Kyk jy na foto’s van Sharnelle en Xander, lyk hulle dolverlief. Hy lê in haar arms en haar oë blink.

Op ’n ander foto staan sy styf onder sy arm en albei glimlag breed. Hulle is ook afgeneem terwyl hy haar op die voorkop soen en sy straal.

Hulle het verlede jaar begin uitgaan toe hy in matriek en sy in gr. 10 was. In dié tyd het Xander gereeld saam met Sharnelle by haar pa se huis op ’n plaas buite Vryburg gaan kuier.

“Xander was baie erg oor Sharnelle. Hy het altyd liefdevolle goed vir Sharnelle op Facebook geskryf,” vertel ’n vriend van hom.

Ná skool het Xander dit veral geniet om jakkalse op plase in die omgewing te gaan skiet. Op sy Facebook-profiel is talle foto’s waarop hy breëbors by sy prooi staan.

’n Vriend van hom sê sover hy weet, het Xander ná matriek sy brood verdien deur jakkalse teen betaling te skiet. “Hy het ’n verskriklike haat vir ’n jakkals gehad.”

Xander het ook gereeld vir mense raad gegee oor wapens, sy tweede groot liefde naas Sharnelle. Maar verlede maand het sy eerste liefde ná 11 maande besluit sy sien nie meer kans vir dié verhouding nie en hulle het uitgemaak, vertel ’n familielid van Sharnelle.

“Xander het Sharnelle altyd baie mooi opgepas,” voeg dié by.

Tog sê Petro Richards, ’n afgetrede sekretaresse van Stella wie se kleinkinders saam met Marna in die klas was, mense het geweet Sharnelle wou vir Xander los.

Xander se Facebook-blad spreek van ’n jong man wat daarvan gehou het om te jag en rugby te speel. Foto: Facebook.

Die stories het geloop dat Xander se oog dwaal. “Wanneer Sharnelle Xander probeer los het, het hy na haar ouerhuis gery en haar gedreig en gesê sy gaan spyt wees,” vertel Petro.

En ’n familielid sê: “Ons dink hy kon net nie die feit hanteer dat hulle uitgemaak het nie.’’

Nóg ’n vriend van Xander vertel sy WhatsApp-profiel het die afgelope paar maande verklap hy is ongelukkig. “Hy sou goed opsit soos ‘jy kan niemand vertrou nie’. Ek dink hy was depressief, maar ek het hom nooit uitgevra nie.”

Sharnelle het nooit oor Xander gekla terwyl hulle nog uitgegaan het nie, vertel haar niggie Talitha le Roux van De Aar. Hulle het gereeld met mekaar gesels. “Sy was lief vir hom en baie erg oor hom.”

Linmari sê Sharnelle het Xander gelos “want hy was net te erg oor haar’’ en verduidelik: “Hy wou heeltyd weet waar sy is en wat sy doen. Sulke tipe goed.

“Toe ek hoor hy is in hegtenis geneem, kon ek dit nie glo nie, want hy is dan so lief vir haar.”

Kort ná die meisies se dood het sy verhoudingstatus op Facebook nog gelui: “It’s complicated.”

Sharnelle en Marna was van kleuterskool af beste vriendinne. Hulle was albei “sonskynkinders” en het saam in ’n kamer in die koshuis gebly, vertel kennisse.

“Hulle was baie dieselfde,” sê Linmari. “Jy sou hulle nooit hartseer of ongelukkig sien nie. Hulle was altyd besig om grappies te maak en te lag.”

Veral Marna was baie lief vir perde. Sy en Sharnelle het elke naweek gaan perdry. “Hulle was so lief vir diere. Hulle sou kla as mense Doom spuit,” sê Linmari.

Marna was baie slim en het in al haar vakke meer as 80% gekry. Sy het ook gereeld pryse vir haar akademiese prestasies gekry.

Vir Sharnelle was Marna haar “beeldskone vriendin” en vir Sharnelle was Marna “my Marna”.

Xander het verlede jaar aan dieselfde skool as die oorledenes gematrikuleer. Foto: Facebook.

“Hulle het mekaar altyd soos goud opgepas,” sê ’n familielid van Sharnelle. Sharnelle was altyd ’n borrelende meisie met ’n passie vir musiek en sport, onthou Talitha.

“Tog was sy ook privaat. Sy het dinge vir haarself gehou en nie maklik gekla nie.” Sy kan steeds nie glo dat Sharnelle dood is nie.

“Ek was geskok toe ek dit hoor. Ek het eers gesê dit moet ’n storie wees. Dit voel so onwerklik. Ek wag heeltyd vir haar om vir my ’n WhatsApp-boodskap te stuur.”

By die Hoërskool Stella se koshuis is dit die Maandag ná die naweek se tragiese gebeure doodstil. Buite staan ’n vrou met kort, donker hare en rook.

Die trane lê vlak terwyl sy nog ’n teug van haar sigaret vat.

“Ek mag nie met julle praat nie,” sê sy sag. Net aan die ander kant van die blok is dit ’n miernes van bedrywighede by die skool se ingang.

’n Polisievoertuig staan voor die hek. ’n Ma wat in haar motor sit, sê die skool het die oggend die leerders en hul ouers ingeroep en gevra om met niemand oor die gebeure te praat nie.

Die hoër- en laerskool is op dieselfde terrein. Terwyl die jonger kinders in hul blou uniforms rondhardloop tydens die klaswisseling, loop die ouer kinders stadiger. Vra jy hulle na die naweek se gebeure, raak hul oë groter.

Dan sê hulle: “Jammer, tannie, ons mag nie daaroor praat nie.”

In ’n verklaring het die skool gesê die enigste vertroosting wat hulle in dié tragedie het, is dat Marna en Sharnelle saam is.

“Ons koester ons herinnerings aan twee lewenslustige, glimlaggende meisies,” skryf die skool.

“Ons het nooit vir een oomblik gedink dat hulle saam op so ’n onnodige manier van ons weggeneem sou word nie. Tog is ‘saam’ vir ons ’n vertroosting aangesien daar min kinders is wat so ’n hegte vriendskap gehad het soos Marna en Lallie.”

Xander verskyn in die hof

Xander het op twee aanklagte van moord verskyn. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek. Hy sal in hegtenis bly tot hy weer op 6 Augustus in die hof verskyn.

Kapt. Charlize van der Linde, woordvoerder van die polisie op Vryburg, het kort voor druktyd aan Huisgenoot bevestig Xander het ’n bekentenis afgelê.

Moenie Huisgenoot se volgende storie oor die opspraakwekkende Stella-moorde in die uitgawe van 14 Junie - van Vrydag af op die rakke – misloop nie!
Huisgenoot, 14 Junie 2016.