Ry jy Wuppertal vandag binne, doem murasies soos swartgebrande geraamtes voor jou op – die oorblyfsels van ’n geskiedkundige erfenis wat tydens die onlangse feestyd deur vlamme weggevreet is.

Tog staan daar net ’n paar meter verder rye huisies met skitterwit mure, rietdakke en ruim stoepe wat wonderbaarlik in die vernietigende brand ongeskonde gebly het.

’n Mens kan dit byna twee verhale van een dorp noem – ’n dorp waarvan die naam sinoniem geword het met die ou gedig van Boerneef en die latere liedjie: Die berggans het ’n veer laat val van die hoogste krans by Woeperdal . . . ek stuur vir jou die berggansveer / mits dese wil ek vir jou sê / hoe diep my liefde vir jou lê.

Wuppertal
Die inligtingskantoor wat die middag van 30 Desember in ligte laaie was. Foto: Misha Jordaan

Ook die eietydse skrywer Deon Meyer het dié dorpie in die Wes-Kaap opgerakel in spanningsverhale soos Koors.

Op 30 Desember het ’n ramp Wuppertal getref toe ’n brand uit die berge bo die eertydse Morawiese sendingstasie neergedaal en plek-plek soos ’n kwaai draak met ’n vuurtong toegeslaan het.

Saam met al die winkeltjies op die dorp is 53 witgepleisterde huisies uit die 1800’s weggevee, ook die Lekkerbekrestaurant, die Palmhuisgastehuis, ’n bakkery, die inligtingsenstrum, die pastorie met byna twee eeue se dokumente, die lykshuis, die skoolkoshuis en die Red Ceder Cosmetic-winkel met handgemaakte rooibosprodukte.

Eers: Die dorpie in die Cederberge voor die brand. Foto: Gallo Images/Getty Images
Nou: Sowat die helfte van die woongebied het in die slag gebly en die ander deel is gespaar. Foto: Misha Jordaan

Die wêreldbekende velskoenfabriek het darem staande gebly.

“Alles van ons; alles weg,” sê drie bejaarde vroue in ’n koor toe hulle met Huisgenoot se aankoms op die dorp kopskuddend verby ons motor loop.

Hulle dwaal verslae verder in die stofstrate in die rigting van die kerkie van 1834 wat ook gespaar gebly het. Die geskiedkundige dorp wat eens ’n gewilde bestemming vir toeriste was, is nou vreemd stil en byna verlate.

Net die weemoedige gebulk van ’n trop esels op die skool se rugbyveld klink op en die getjir van sonbesies raak byna oorverdowend in hierdie doodse stilte. Daar anderkant op die veld het karkasse gelê van skape wat doodgebrand het.

Die brand het geen menselewens geëis nie, maar een inwoner word vir brandwonde in ’n Paarlse hospitaal behandel.

’n Paar ander inwoners dokter nog die blase wat hulle opgedoen het op die warm kleivloere toe hulle kaalvoet van hul besittings uit hul brandende huise probeer red het.

Die reuk van vleis hang in die lug – dit het tydens kragonderbrekings in die nadraai van die brand verrot, al het die munisipaliteit dae tevore alles uit ys- en vrieskaste in die murasies verwyder.

Maar dis veral die hartseer van die paar honderd inwoners wat nog lank nadat die puin opgeruim is aan die dorp gaan bly kleef.

Soos Neil Zimri (49), wat hier gebore en getoë is, dit stel: “Ek hoop, maar ek weet nie of ons ooit weer dieselfde gaan wees nie . . .”

’n Landmeter doen opmetings vir die herbou van die Morawiese sendingwinkels. Foto: Misha Jordaan

Wuppertal kry sy naam van die Wupperrivier in Duitsland. Die dorp het om ’n sendingstasie ontwikkel wat in 1830 deur twee Duitse sendelinge, Theobald van Wurmd en Johan Gottlieb Leipoldt, oupa van die gevierde Afrikaanse skrywer C. Louis Leipoldt, gestig is.

Dié afgeleë dorpie teen die hange van die Cederberge is sowat 73 km van Clanwilliam af.

Daarvan is 30 km ’n grondpad wat met ’n paar wilde haarnaalddraaie om die ruwe rotsformasies eie aan hierdie bergwêreld kronkel.

Die meeste van die inwoners wie se huise in die brand verwoes is, is bejaardes wat dit van hul voorsate geërf het. Baie van hulle glo nie in banke nie en bêre eerder hul geld in houtkissies of “brag-blikkies” soos die voormense.

Die skoolkoshuis en Palmhuisgastehuis op die agtergrond het afgebrand. Foto: Misha Jordaan

Ook daardie spaargeldjies het tot as verbrand. “Daai dag het dinge baie skielik gebeur,” vertel Neil van die laaste Sondag in 2018 toe die Wuppertal soos hy dit sedert sy kinderdae ken onherroeplik verander het.

Hy is een van die gelukkiges wie se witgepleisterde huisie bly staan het – ’n huis wat hy van sy ouers geërf het en hulle van húl voorsate.

“Dis iets wat ek niemand toewens nie en iets wat ek nooit weer wil beleef nie,” sê hy van die vuurtonge wat bo van die hang aangerol gekom en ook sy huisie bedreig het.

Van die dorpie se bakkery is net mure oor. Foto: Misha Jordaan

“Toe ons sien die vlamme kom ál nader, het die spanne (bure) my gehelp om goed uit my huis in my bakkie te laai. Eers het ek daar bo gehelp,” beduie hy na die huisies hoër teen die hang wat eerste vlam gevat het.

“Toe ek besef ons sal nie daardie huise kan red nie, het ek op my dak kom sit en dit met ’n emmer kom nat gooi, ter wille van my ouers se nagedagtenis.”

Soos baie ander huisies wat hier teen die berghang nestel, is syne op verskillende vlakke gebou met trappe tussenin.

In die kombuis waar ons gesels, hang vergeelde foto’s van sy voor- sate teen die mure. Nadat hy aan die Hoërskool Ravensmead in Kaapstad gematrikuleer het, het Neil in 1994 besluit om terug te keer na Wuppertal en deur Unisa verder te studeer.

Hy werk nou hier en het op Piketberg vir die departement van landbou gewerk. Hy en van die ander inwoners wie se huise gespaar gebly het, het uit dankbaarheid besluit om blyplek te bied aan van die sowat 200 inwoners wat dakloos gelaat is.

Hulle help ook as vrywilligers die puin opruim sodat hul geskiedkundige dorp weer uit die as kan opstaan. Elders op die dorp blink die trane in Nolene Salomo (71) se oë toe sy vertel van die dag toe sy magteloos moes toekyk hoe die huis waarin sy gebore is en jare lank gewoon het, afgebrand het.

Die gewilde Lekkerbekrestaurant is tot op die grond gebrand met die stoep wat onaangetas is. Foto: Misha Jordaan

“Jammer, ek het nie my bril op nie. Dit het ook in die slag gebly. Ek sien nou baie sleg,” maak sy verskoning by haar seun Granville (49) se huis aan die kant van Wuppertal wat die vlamme vrygespring het.

“Eers het ek gedink dis net bome wat brand en rustig op die stoep gesit,” vertel sy oor die brand wat die dorp laatmiddag oorval het.

Maar toe sê haar oudste seun, Basil (52), wat saam met haar kleinseun, Benito (8), uit die Kaap vir die Kersvakansie by haar kom kuier kuier het: “Ma, dis ’n huis wat brand!”

Nolene help soms in die slaghuis op die dorp. Sy het die sleutel daarvoor gekry en teen die berghang opgehardloop om te sien of dit in gevaar is.

“Van daar bo kon ek sien die saal is in ligte laaie en die restaurant brand ook. En die vuur gooi vonke in my huis se rigting,” vertel sy.

Sy het dadelik teruggehardloop huis toe. Toe die brand twee huise van hare is, kon sy sien die dak begin smeul. “Here, ek wil nie dit hê nie,” het sy uitgeroep en ingestorm.

Sy het net tyd gehad om ’n kussingsloop te gryp en haar ID-kaart, Sassa-pensioenkaart en beursie daarin te gooi voor die rook te erg geword het.

Sy moes haar rug keer op al haar aardse besittings voor die huis knetterend tot niet gegaan het. Sy hoop dit sal weer gebou word. “Ek wil so graag weer my huisie op dieselfde plek hê. Maar vir eers is ek dankbaar vir my lewe,” sê Nolene, wat tydelik by Granville ingetrek het.

Stootskrapers is nou op pad hierheen om eers die oorblyfsels van die ou geboue te kom platstoot uit vrees dat die kleimure van die half-afgebrande murasies in duie kan stort. Maar Nolene wil nie by die sloping wees nie.

“Dit sal wees soos om my lewe voor my platgestoot te sien.”

Hier waar die vuur nie kon bykom nie, lyk dit soos die hele Wuppertal voor die vlamme gelyk het: ’n see van wit geboutjies met kleurryke tuintjies en mense wat in die middaguur onder koel druiwepriële en granaatbome teen die son skuil, want hier kan die kwik tot 40 °C en meer styg. Maar daardie dag was dit meer as net warm; dit was soos die hel hier op aarde.

“Dit was chaoties,” vertel eerw. Jasmin Redcliffe (49), die geestelike leier by die Morawiese gemeente op die dorp.

“Met die brand was ons so besig om huise en mense te red, ons kon nie aandag gee aan die kerk en die ou pastorie nie,” vertel hy.

Hy en sy vrou, Georgina (46), bly in ’n ou woning, Die Tuinhuis, wat buite bereik van die vlamme was.

Elizabeth en Anthony Engel voor die huisie waar hulle 20 jaar lank gewoon het. Dis een van die geboue wat deur die vuur verswelg is. Foto: Misha Jordaan

Die pastorie met sy doopregisters asook huweliks- en katkisasiesertifikate sedert 1830 is daarmee heen. “Van hulle was nog in Oudduits en met veerpen geskryf,” vertel hy hartseer.

Tog is daar soveel om voor dankbaar te wees. Die kerkgebou het staande gebly soos ’n teken van genade. “Die een kant het vuur gevat, maar dit het vanself geblus.

Dit is ’n Hoër Hand se werk,” meen hy. Elders op die dorp, by ’n familielid se huis, eggo Elizabeth Engel (65) die eerwaarde se woorde toe sy sê: “Dit is ’n wonderwerk ons het nie doodgebrand nie.”

Haar en haar man, Anthony (58), se huis waarin hulle meer as 20 jaar gewoon het, het afgebrand. Ook erfstukke waarvan baie breekware was, familiefoto’s, hul trousertifikaat en ’n polis se papiere is daarmee heen.

“Soos baie ander mense het ek ’n Sondagmiddagslapie gevat,” vertel sy.

“Ek het gedroom van kleimure waarby ek heeltyd wou uitkyk.” Teen vyfuur die middag het Anthony wakker geskrik en haar ook wakker gemaak.

“Hoekom lui die klok vir aandkerk?” het hy gevra.

Die eerwaarde het juis die oggend gesê daar sou geen tweede diens wees nie. “Ek het die motors buite hoor ry en geweet iets is fout,” vertel sy verder.

Die krag het toe ook al uitgeskop. “Toe ek die brand sien afspring na ons kant toe, kon ek net my ID gryp en hardloop. Die romp wat ek aanhet, het ek toe ook gedra. Ek kon nie dink wat anders om te vat nie.”

Anthony het dadelik die gasbottel ontkoppel uit vrees dat dit sou ontplof. “My skoonsuster het kom help water gooi op die dak,” onthou hy.

“Ek het gesukkel om die water diep in te gooi voor die vlamme byna by my was. Ons kon net so drie, vier emmers gooi, toe is die krane leeg. Mense moes water aandra van die Dassieboskloofrivier. Die brandweer was seker so kort anderkant sesuur hier.”

Maar dit was te laat om hul huis te red. Die oorsaak van die brand word ondersoek. Teen druktyd was dit nog nie duidelik hoe dit ontstaan het nie.

Arnold Gertze in die beroemde skoenfabriek op die dorp wat staande gebly het. Foto: Misha Jordaan

’n Storie wat wyd loop, is dat iemand bo in die berge wou gaan heuning uithaal en toe hy of sy die bye wou uitrook, het die bossies glo vlam gevat.

Vandag is eerwaardes van die Morawiese Kerk van dwarsoor die land hier om pastorale berading aan die slagoffers van die brand te bied.

Ook die bekende teoloog en viserektor van die Universiteit Stellenbosch, prof. Nico Koopman, het kom kyk hoe studente die verslae dorpenaars kan kom help.

“Kunsklasse kan byvoorbeeld help om die spirits te lig,” sê hy. Op die buurdorp Clanwilliam vergader die president van die Morawiese Kerk in Suid-Afrika, eerw. Godfrey Cunningham, vandag met verteenwoordigers van die nieregeringsorganisasie Islamic Relief South Africa, wat ’n helpende hand na Wuppertal se gemeenskap wil uitreik.

Oral op die dorpie is landmeters sedert die brand besig met opmetings vir die heropbou. Hulle wag vir die Erfenisstigting om met die bouplanne te help om die geboue wat afgebrande het weer so na moontlik aan die oorspronklikes op te rig.

Die Wes-Kaapse regering sal die kulturele en nasionale erfenis van die dorpie in ag neem wanneer bouwerk saam met die Morawiese Kerk van Suid-Afrika onderneem word om Wuppertal uit die as te laat herrys, sê Jasmin.

“Wat die trauma vir baie mense verdiep, is die onvervangbare foto’s uit die 1840’s en ‘50’s wat vernietig is,” voeg hy by.

’n Groot troos is dat hulp die Maandagoggend ná die brand van oraloor begin instroom het. By die laerskool, wat in 1979 gebou is en ongeskonde gebly het, staan ’n klaskamer van hoek tot kant volgepak met skenkings – alles van kos, klere en skoene tot toiletware. Ook ander onbeskadigde geboue is ontruim vir nog bêreplek.

“Skenkings is steeds welkom. Dit is ’n langtermynprojek om die mense wat alles verloor het weer op die been te bring,” sê Jasmin. “Hierdie skenkings help met die heling,” beaam sy vrou, Georgina, ’n onderwyseres by die plaaslike laerskool.

Hier begin die skooljaar ’n week later sodat die klaskamers vir die noodprojek ingespan kan word. “Ons wil terug klas toe,” praat ’n haasbekkie namens haar medeleerders met Huisgenoot se besoek.

Arnold Gertze in die beroemde skoenfabriek op die dorp wat staande gebly het. Foto: Misha Jordaan

“Skool is lekker.”

Almal wil so vinnig moontlik weer die dorpie aan die gang kry om toeriste terug te lok hierheen. By die skoenfabriek is Arnold Gertze (60) klaar weer besig om leer te looi.

Hy is ’n gebore Wuppertaller, maar woon deesdae ’n paar kilometer verder in Beukeskraal.

“Wanneer ek deur dié dorpie stap, wil ek net huil. Ek kan nie vir die ander mense kyk nie, dan loop die trane,” erken hy.

Hulle is gewoonlik vier wat hier werk, maar in hierdie krisistyd hou hy die produksie alleen aan die gang.

“Dis ’n stadige proses; so nege tot 10 paar per dag,” vertel hy oor die handgemaakte velskoene.

Al het Wuppertal pas waarskynlik die grootste ramp in sy geskiedenis beleef, tel Arnold soos baie van die mense hier steeds sy seëninge.

Een daarvan is die kanaal met bergwater wat vrylik afloop na die dorpie toe.

“Met die wêreld se oë wat nou op Wuppertal is,” sê hy, “gaan ons dalk nog meer seëninge kry . . .”