Hy was aan die sokker speel toe hy die oproep kry: Jy moet dadelik na die Uniegebou toe kom – die president wil jou sien, was die woorde van die direkteur-­generaal in die presidensie, dr. Cas­sius Reginald Lubisi. 

“Ek moes die sokker dadelik los,” ­onthou Ronald Lamola dié dag toe hy inderhaas by die Wanderers-klub in Johannesburg moes padgee.

“Ek het net so in my sweetpak gegaan.”

By die Uniegebou aangekom, het pres. Cyril Ramaphosa vir hom die volgende vyf jaar van sy lewenspad uitgestippel.

“Ek stel jou aan as minister van justisie en korrektiewe dienste,” het die president vir hom gesê.

“Jy gaan saam met twee ­adjunkministers werk.” 

Lamola het sy vrou gebel en die nuus met haar gedeel – en hier is hy nou in sy kantoor op die agtste vloer van die departement van justisie in Pretoria. 

Op 35 is hy die jongste kabinetsminister wat Suid-Afrika nóg gehad het, en dit boonop met een van die grootste portefeuljes.

“Ja, die nuus het ingesink,” sê hy met ’n groot glimlag, en jy sien daardie beroemde Twitter-kuiltjies van hom. 

Hy lyk soos iemand wat dae laas ’n oog toegemaak het, en sy lessenaar – die handewerk van gevangenes as deel van ’n vaardigheidsontwikkelingsprogram, vertel hy trots – lê vol van die boeke, papiere, aantekeninge en leggers.

’n Reusetaak wag op Ronald: Hy moet die strafregstelsel in die land regruk, kwessies rakende regsadministrasie en die doeltreffendheid van ons howe takel en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) versterk.

Maar hy sien kans daarvoor, sê hy.

“Ek het die werk in alle nederigheid aanvaar en gesê dis in landsbelang dat ek dié werk doen.” 

minister,opvoeding
Hy het twee meestersgrade agter sy naam. Foto: Facebook/ Ronald Ozzy Lamola

Hy het ook al die regte kwalifikasies vir die taak: twee meestersgrade van die Universiteit van Pretoria, een in korporatiewe reg en die ander in die ontginningsbedryf, en byna sewe jaar se ervaring in die bestuur van sy eie regspraktyk in Pretoria.

Sy aanstellings wys die president het vertroue in jong mense, meen Ronald. Tog besef hy hy sal homself “ter wille van die land se jeug” moet bewys.

“My sukses sal die sukses van jong mense wees.”

Ronald het sedert sy aanstelling nog nie kans gehad om behoorlik grond te vat nie. Hy het binne ’n week reeds ’n deeglike verslag oor die veiligheid in howe aangevra nadat daar verskeie voorvalle van ­sekuriteitskending was. 

“Ons verwag dat die howe die bewaarders van reg en geregtigheid en ’n veilige plek vir ons landsburgers is,” sê hy ferm. 

Maar heel boaan sy agenda is die integrasie van ons ganse regstelsel ten einde dit doeltreffend te maak, van die polisie tot die inligting- en kommunikasietegnologie.

“Die hoë misdaadsyfer vereis dat almal in die regstelsel saamwerk om die probleem op te los.”

Daar moet ’n goeie verhouding tussen die NVG en die polisie wees sodat sake deeglik ondersoek kan word om skuldigbevindings te verseker, benadruk hy.

Hy beoog ook om ekstra geld vir die NVG te bekom sodat hulle hul 20% vakante vakatures kan vul.

“Dié poste sal gevul word. En waar daar nie behoorlike prestasie is nie, sal gevolge wees,” sê hy.

Dan bly hy ’n oomblik stil en glimlag weer. In sy grootwordjare as “kleindorpseuntjie” op Komatipoort, Mpumalanga, sou hy nooit in sy wildste drome kon dink dat hy eendag ’n minister gaan word nie, vertel hy.

Sy ouers het nie baie besit nie, maar “dit was vir ons ’n huis”. Hy het aan ’n Swatitalige plaasskool begin skoolgaan, wat baie sportsoorte soos atletiek gebied het. Dis hier waar hy van die harde werklikheid van apartheid bewus geword het.

“Dit het vir my so duidelik soos daglig geword. Ons het ver van die wit mense af gewoon. Hulle het hul eie gebied gehad en ons het in die swart gebied gebly. Jy het veral op die sportveld die gaping agtergekom – die diskus, die hoogspring. Die wit kinders het ’n voorsprong gehad omdat hulle toegang tot oefengeriewe gehad het. Ek het dus nie baie ver gekom nie.” 

politiek,minister
Ronald word ingesweer deur hoofregter, Mogoeng Mogoeng. Foto: Gallo Images

Hy was op Bosbokrand, Mpumalanga, in die hoërskool. Ronald was ’n leier op skool en het ná die inwerkingtreding van ons Grondwet in 1996 sy onderwysers laat les opsê: “As ’n onderwyser iemand wou slaan, het ek die Grondwet uitgehaal en gesê dis teen die landswet.” 

Sy ouers is voortdurend ingeroep oor hul seun se manewales.

“Dit was vir die skool ’n uitdaging, want hulle het my optrede as opstandigheid pleks van leierskap beskou.” 

Ná matriek het hy aan die Universiteit van Venda studeer en ’n studenteraadsleier geword. Hy het ook in die ANC opgang gemaak en adjunkpresident van die ANC-jeugliga geword toe Julius Malema die president was. 

Nadat Malema uit die party geskors is, het Ronald die waarnemende president van die jeugliga geword. 

Malema het hom op ’n tyd as ’n “verraaier” uitgekryt, vertel Ronald vandag, maar dit beteken nie hulle is vyande nie. 

“Dié dinge gebeur in die politiek. Ons ­verhouding is in die haak; daar is ’n wedersydse respek. Ek was selfs by die begrafnis van Julius se ouma.” 

Toe die uitvoerende komitee van die ANC-jeugliga in 2013 ontbind is, het Ronald al sy aandag aan die vestiging van sy regspraktyk gewy. Malema en sy kamerade het die EFF gestig. Al was Ronald ontnugter met die rigting wat die ANC onder Jacob Zuma se leiding ingeslaan het, sê hy hy wou nooit die party verlaat nie.

“Ek het altyd geglo ons kan dit van binne af verander. Maar die korrupsie en binnegevegte het byna my hart gebreek.”

Nadat die konstitusionele hof in 2016 beslis het die parlement het versuim om Zuma vir die Nkandla-skandaal aanspreeklik te hou, het Ronald manalleen betoog dat die president moet bedank. 

“Dit was duidelik dat ons die sosiale kontrak gaan verloor wat ons met die land se mense het.” 

seun,vader
Ronald saam met sy seun Vhuthlari. Foto: Facebook/ Ronald Ozzy Lamola

Maar nou is hy vol hoop vir die aanbreek van die “nuwe tydvak”.

Ja, daar is hope uitdagings, maar hy glo die regering sal dit oorkom. “Die kiesers het ons die vertroue gegee dat die hervormings wat die president begin het by hulle aanklank kan vind en dat dit ons op ’n nuwe pad van groei kan neem.” 

Noudat Ronald in die kabinet is, sal hy sy regspraktyk moet laat vaar.

“Byna sewe jaar lank het ek my alles vir my praktyk gegee, maar ek glo ek het mense opgelei wat dit kan voortsit.” 

Ronald sal ook moet tyd maak vir sy vrou, Bawinile (31), en hul tweejarige seun, Vhuthlari.

“Hy is nogal ’n handvol,” gee hy vrolik toe.

Ronald neem graag sy seun dieretuin toe en hy is lief vir sokker en fietsry, maar moenie hom vra om kos te maak nie, erken hy.

“Kosmaak is nie my gunsteling­ding nie. Vra liewer Tito Mboweni om dit te doen. Ek is ’n eenvoudige man wat my pap en vleis geniet.”

minister,politiek
Hy en sy vrou, Bawinile. Hulle is al sewe jaar getroud. Foto: Facebook/ Ronald Ozzy Lamola

Ronald en Bawinile, wat tans haar raadseksamen skryf om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word, het mekaar ontmoet toe sy in die rekeningafdeling van ’n maatskappy gewerk het waar hy ’n prokureur was. Vir hom was dit liefde met die eerste oogopslag.

“Sy was so intelligent en so mooi,” onthou hy. 

Bawinile weet hy gaan nou besiger as ooit wees, maar sy verstaan dit. Ronald is opgewonde oor die jaar wat voorlê. Met sy eerste kuier op sy tuisdorp ná sy aanstelling in die kabinetspos het die hele gemeenskap hom kom gelukwens en saam met hom feesgevier.

“Dit wys jou die mense is opgewonde,” sê hy.

“Hulle het dié minister voor hulle sien grootword. Hulle weet ek is ’n goeie rolmodel vir die jeug.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.