Jong kinders speel in die vlak branders op Heroldsbaai se strand. Dit ruik en lyk soos vakansie met mense wat loop en roomys eet of sonbaai.

Tog is dit nie net nog ’n lui­lekker Saterdagmiddag by die see op dié Suid-Kaapse kus­dorpie nie. Daarvan getuig die somber toneel wat op die gras agter die lewensredders se hoë stoel afspeel.

Ettienne Scheepers (36), die plaaslike kafee-eienaar en elektrisiën, wag saam met vriende en van sy personeellede op die strand op die terugkeer van ’n rubber­bootjie van die Nasionale Seereddingsinstituut.

Hulle het vermoedelik afgekom op die liggaam van sy blonde vrou, Heidi (35), wat vier dae tevore saam met hul twee kinders, Cuzette (6) en Hugo (2), vermis geraak het.

Polisieduikers het hul seun twee dae ná hul verdwyning in die see ?by Voëlklip ’n ent verder gevind. Klein Hugo het nog vasgemaak in sy karstoeltjie in ’n diep skeur in ’n rotswand gedryf.

Dit was naby wrakstukke van die Volkswagen Cara­velle waarin Heidi saam met die kinders laatmiddag op Dinsdag 22 Oktober uit Heroldsbaai weggery het. Maar Ettienne het daardie aand vergeefs gewag dat hulle by hul huis op Oubaai opdaag.

’n Liggaam in die see

Ettienne word langs die strand vertroos. Foto: Cor
Ettienne word langs die strand vertroos. Foto: Corrie Hansen

Vroeër vandag het ’n inwoner van Heroldsbaai deur ’n verkyker ’n liggaam in die see sien dryf. Nou wag Ettienne en sy vriende gespanne op die rubberboot wat die liggaam sou gaan haal. ’n Paar verbygangers raak hulle vertroostend aan en praat hulle moed in.

Tientalle inwoners en besoekers sit op die betonterrasse rondom die strand, wagtend op die jongste wending in die hartverskeurende lewensdrama.

Teen 14:36 ontruim die polisie die strand. Ouers raap hul kinders op en staan op ’n afstand en kyk. ’n Reddingsboot kom uit die branders gejaag.

Nooddienswerkers kom met komberse en ’n lyksak aangehardloop. ’n Oupa druk sy kleuterkleindogter se oë toe. Die helpers om die boot lig die komberse om te verberg wat hulle land toe gebring het.

Dit raak stil, asof almal asem ophou. Dit neem sowat 10 minute om die liggaam in ’n sak te plaas, in ’n grys kombers toe te wikkel en op ’n draagbaar neer te lê. Alles voel asof dit in stadige aksie gebeur.

Polisielede, nooddienswerkers en lede van die Nasi
Polisielede, nooddienswerkers en lede van die Nasionale Seereddingsinstituut hou komberse om ’n reddingsboot wat Heidi se liggaam uit die see gebring het. Foto: Corrie Hansen

“Dis Heidi,” roep iemand uit terwyl die liggaam – duidelik dié van ’n volwassene – na die lykwa gedra word.

En dan klink rou snikke op. Ettienne se geboë skouers ruk van emosie. Hy lyk verslae. Sy seun is dood; sy vrou is dood.

Nou is nog net sy dogter, Cuzette, wat met downsindroom gebore is, vermis.

“Dis baie hartseer,” sê kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-­Kaapse polisie wat ook vandag hier op die strand is. “Maar nou het ons darem hopelik ’n antwoord oor waar Heidi is.”

Terwyl die liggaam vir ’n forensiese ondersoek gestuur word om te help bepaal of dit wel dié van die vermiste ma is, bly talle ander vrae nog on­beantwoord.

Die laaste keer

Die laaste keer dat die Scheepers-gesin saam was, was die Dinsdagmiddag voor Heidi en die kinders se verdwyning op Heroldsbaai se strand.

Ettienne het glo van die strand teruggestap na sy kafee, waar sy motor geparkeer was, terwyl Heidi en die kinders in die Volkswagen Caravelle sou terugry na hul huis op Oubaai, naby George.

Maar ’n paar kilometer voor die afdraaipad na hul tuisdorp het sy van die hoofpad in die teenoorgestelde rigting afgedraai op ’n ongemerkte, hobbelrige grondpad wat kuslangs lei.

Heidi Scheepers is hier met haar kinders, Hugo en
Heidi Scheepers is hier met haar kinders, Hugo en Cuzette, in ’n minibussie oor die afgrond by Voëlklip naby Heroldsbaai. Foto: Corrie Hansen

Later, ná ’n skerp draai, ry ’n mens verby twee uitkykpunte gevaarlik na aan ’n afgrond sonder enige versperring. Rooi en wit veldblommetjies flits verby. Is dit die laaste wat Heidi en haar kinders gesien het? Net daarna kom die draai met los klippe waar hul bussie die pad verlaat en oor die afgrond getuimel het.

Was dit ’n ongeluk of wou Heidi hul lewens neem? word nou al langs die kus gegis. En as Heidi wel besluit het om ’n einde aan haar lewe te maak en haar kinders met haar saam te neem, wat het haar daartoe gedryf?

“Dis ’n gevaarlike plek waar ander voertuie ook al af is,” sê Malcolm op die ongelukstoneel.

Onder die krans in die see lê nog wrakstukke van die bakkie waarin drie studente van die Nelson Mandela-­universiteit in Port Elizabeth, Werner Finger (20), Luandro Jansen (21) en MarNic Els (20), in November 2015 afgestort het.

Die dodetal op dié stuk pad na Voëlklip met sy spierwit piek soos sneeu weens die voëlmis word nou op tot 18 geskat nadat dit pas nog drie lewens geëis het.

“Dis ’n baie gewilde visvangplek,” voeg die polisiekaptein by en wys na die henge­laars wat oral teen die kransrotse hul lyne in die water het.

Waarom dié roete?

Die onderstel van die Volkswagen Caravelle is al w
Die onderstel van die Volkswagen Caravelle is al wat van die minibussie oorgebly het. Foto: Rapport

Maar waarom Heidi teen skemeraand hierdie gevaarlike roete sou kies, bly ’n raaisel.

Beeldmateriaal van sekuriteitskameras op die dorp wys sy en die kinders het net ná ses daardie Dinsdagaand by hul kafee in die minibus verbygery.

Ettienne het ná agtuur die aand hul verdwyning by die polisie in George aangemeld. Vroeg die volgende oggend is met ’n volskaalse ondersoek begin waarmee onder meer ’n sekuriteitsmaatskappy gehelp het.

“Een van die sekuriteitsmanne het spesifiek hier kom soek na aanleiding van die drie outjies wat hier af is,” vertel Malcolm. “Hy het hier skid marks gesien van ’n voertuig wat om die draai van die pad af is.”

Die Donderdagoggend is die wiel van die onderstel van hier bo af opgemerk, maar eers toe dit met laagwater uit die skuimwater gelig is, kon dit as dié van die vermiste minibus geïdentifiseer word.

‘Een van die ergste vondste’

Klein Hugo is op dieselfde dag tussen elf en twaalfuur in sy karstoeltjie dobberend in die water in ’n rotsskeur gesien.

“Hy was ongelukkig reeds dood.”

Malcolm beskryf dit as “een van die ergste vondste”. Die polisieduikers wat hom uitgehaal het, is trouens na ’n sielkundige verwys.

Op die dorp en in die sosiale media slaan gerugte uit van ’n moontlike rusie op die strand voor Heidi daar weggery het na haar en haar kinders se dood, maar dit is alles net bespiegeling.

“In dié stadium soek ons vermiste mense,” sê Malcolm op ’n vraag hieroor.  

“Daar is nou geen rede vir ons om ’n misdaad te vermoed nie. Daar word baie onwaarhede in die sosiale media versprei, wat ons werk bemoeilik, want ons moet dit alles opvolg,” voeg hy by.

“Niemand weet wat daardie dag op die strand gebeur het voor Heidi en die kinders weggeraak het nie,” sê Roelof Dol­deren, ’n inwoner van Heroldsbaai.

Hy ken Ettienne goed. Hulle is albei by die Vryburger Omgeemense van George betrokke wat met projekte geld vir minderbevoorregtes insamel.

“Ettienne is ’n smart ou wat nou deur baie seer gaan,” sê hy.

Daar is mense wat jaloers is op Et­tienne as sakeman en nou gerugte versprei, meen Walter Engelbrecht, ’n boukon­trakteur van Heroldsbaai.

“Dis soos ’n familielid van ons,” sê hy oor Heidi. “Soos ons haar ken, sou sy nooit haarself om die lewe gebring het nie. Sy is so ’n aangename mens.”

‘Die antwoord is en sal altyd nee bly’

Ettienne het vroeër aan die George Herald vertel hy het om seweuur die aand van die verdwyning na een van die ?vakansie-eiendomme wat hy en sy vrou bestuur, gaan omsien. Hy sou die volgende dag na familie in Mosambiek vertrek.

“Daar is in dié stadium nie duidelikheid oor baie aspekte nie,” het Ettienne ’n paar uur nadat klein Hugo se lyk gevind is aan Huisgenoot gesê.

Verder wou hy nie ’n woord rep oor die gebeure en die ondenkbare seer wat hy nou ná ’n huwelik van 13 jaar moet verwerk nie.

By sy kafee is alle navrae verwys na adv. Paul de Bruyn, wat saam met hom in die Vryburgers is.

“Die familie wil nie met jou of enige ander joernalis praat nie,” lui Paul se WhatsApp aan Huisgenoot. “Die antwoord is en sal altyd nee bly.”

Soos Lourens van Zyl, ook ’n inwoner van die dorp, dit stel: “Daar lê baie puzzles daar onder in die see.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.